Peter en die Wolf
Eens op ‘n tyd was daar ‘n jong seun met die naam Peter. Hy het saam met sy oupa reg op die rand van ‘n groot, geheimsinnige bos gebly. Peter het baie daarvan gehou om buite in die agtertuin saam met al die wilde voëls en diere te speel, maar sy oupa het hom altyd baie uitdruklik gewaarsku: “Peter, moenie uit die erf uit in die agtertuin ingaan nie! Die wolf kan enige oomblik uit die bos nader sluip. Hy’s baie slimmer en slinkser as wat jy dink. Jy speel nog so lekker en dan is hy daar. Dit gebeur voor jy 'n oog kan knip, my seun! Die een oomblik hou jy lekker piekniek saam met die eende, en die volgende oomblik – woeps! – is jý die wolf se piekniek!”
“Ja, oupa,” sê Peter gehoorsaam, “ek sal mos nou nooit iets so dom soos dit doen nie!”
Maar, nou ja... Peter het, soos baie ander jong knape, nie altyd gedoen soos wat vir hom gesê, en van hom verwag is, nie.
Eendag het hy stilletjies deur die tuinhek geglip om buite te gaan speel. Daar het hy 'n eendjie teëgekom wat al te lekker in die middel van die dam rond geplas het.
“Jy moet maar uitkyk vir die wolf,” waarsku Peter die eend, maar sy was heeltemal te besig om die lewe te geniet om te luister.
Sy het al in die rondte geswem, diep afgeduik vir 'n lekker waterslak, en dan weer met 'n groot plons! boontoe gekom. En sommer al te lekker gekwaak van genot. “Kwaak, kwaak, kwaak!”
“Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie!” sê Peter met 'n skud van sy kop.
Toe het ‘n vrolike klein voëltjie het nadergevlieg en op 'n takkie gaan sit om te kom groet. “Hallo daar, julle! Wat ‘n pragtige dag is dit nie!”
“Hallo voëltjie! Kom baljaar saam met my in die dam!” sê die eend spoggerig. “Die water is heerlik, en hierdie slakke is vyfster-gehalte!”
Terwyl die klein voëltjie met die eend staan en gesels, sien Peter hoe die skelm kat wat altyd daar rondhang deur die bosse te voorskyn kom. Sy sluip stilletjies op haar sagte pootjies, tot net agter die voëltjie.
“Pasop! 'n Kat!” skree Peter, en die voëltjie vlieg blitsvinnig op na 'n hoër tak daar naby.
“Dankie, Peter,” kwetter sy verlig. Die kat was glad nie beïndruk met Peter wat so inmeng met haar planne vir aandete nie, en het net nukkerig haar snorbaarde geskud en haar voorpoot gelek.
Net toe kom Peter se oupa buite toe gestap en sien die tuinhekkie wat Peter oop gelos het.
“Peter! As ek jou een keer gesê het, het ek jou 'n duisend keer gesê! Kom dadelik terug huis toe!” skree hy kwaai. Peter het maar net sy kop laat sak, omgedraai en met hangskouers teruggestap.
Intussen, aan die oorkant van die tuin naby die donker bos, was daar ‘n ritseling in die blare, gevolg deur ‘n groot geraas soos iets skielik uit die bos storm! Dit was 'n blits van grys pels, skerp kloue en vreesaanjaende, spierwit tande. Dit was die groot, bose wolf!
Die klein voëltjie het veilig hoog in die boom gebly, en die kat het blitsvinnig by haar aangesluit, al was dit op 'n laer tak (want selfs in die grootste gevaar sou hulle vir niks op aarde saam op presies dieselfde tak gesien wil word nie!).
Die arme eend het pas boontoe gekom vir lug en omgedraai om te sien wat gaan aan toe… HAP!!
Al wat van die eend oorgebly het, was 'n klein bondeltjie wit vere wat vir ‘n oomblik in die lug gehang en toe stadig neergesweef het. En 'n half-gehapte waterslak.
Peter het dit alles van die huis af deur die venster aanskou. Hy was briesend en kon voel hoe die woede in hom groei. Hy was vasbeslote om daardie wrede wolf 'n goeie les te leer!
“Ek gaan daardie ou wolf self vang,” het hy dapper vir homself gesê.
Hy gaan soek toe 'n lekker stewige stuk tou en klim in die groot boom waarvan die takke wyd oor die heining, en oor die agtertuin hang. Hy maak 'n stewige lus in die tou en laat dit versigtig van die tak af hang. Toe roep hy sagkens vir die klein voëltjie: “Ek het jou hulp nodig! Vlieg af en fladder om daardie wolf se kop. Versigtig! Moenie te naby kom nie! Net naby genoeg om hom goed kwaad te maak. As hy jou agterna sit, moet jy hom stadig al hoe nader aan hierdie boom lok.”
Die dapper klein voëltjie het dadelik die plan verstaan. Sy wapper uit die boom uit en duik met 'n swaai reg voor die wolf se neus in. Die wolf grynslag, wys sy vreesaanjaende tande en hap wild, maar mis die slim voëltjie net-net. Die voëltjie doen dit weer en weer, en soos sy heen en weer fladder, lok sy die briesende wolf treëtjie vir treëtjie nader aan die boom waar Peter hoog tussen die takke sit en wegkruip!
Hulle kom nader, en nader...
Die wolf was so blindelings besig om die voëltjie te probeer vang, dat hy glad nie die tou bokant hom sien beweeg het nie.
In 'n oogwink gooi Peter die tou met 'n akkurate swaai deur die lug. Net soos 'n regte cowboy met 'n vangtou! En die lus van die tou val tou perfek om die wolf se stert, en Peter trek dit met al sy mag styf! Daar hang die groot, bose wolf – hulpeloos en kop-onderstebo aan die dik tak!
Net toe kom Peter se oupa buite toe en skrik hom bykans boeglam toe hy die verskriklike en verskrikte wolf so in die lug te sien hang! “Goeie genugtig, Peter! Wat op dees aarde het jou besiel om die wolf sommer self te loop staan vang--”
Hy wou nog verder praat, maar skielik word hy onderbreek deur nog ‘n groot geraas. Dit was drie gewapende jagters wat uit die bosse uit aan storm.
“Waar’s hy?”
“Het julle hom gesien?”
“Ek’s seker hy was hier.”
Hulle was groot sterk manne, elkeen aangetrek in ‘n verskeidenheid pelse, en elkeen met ‘n groot jaggeweer. Maar toe hulle sien wat aangaan, kon hulle net net hulle hande saamslaan.
“Mooi so!” roep een van hulle verbaas uit. “Julle het uiteindelik hierdie skelm wolf gevang! Ons soek hom al 'n ewigheid!”
Hulle het dadelik hulle eie toue uitgehaal en het sommer blitsvinnig die wolf stewig en veilig onderstebo aan ‘n lang paal vasgebind. En so vertrek in 'n vrolike optog om die wolf êrens ver vry te laat waar hy nooit weer vir enigiemand 'n gevaar sal wees nie.
Peter het trots heel voor geloop met die wolf onderstebo, pens en pootjies in die lug. Die klein voëltjie het vol bravade in sirkels rondom die wolf gevlieg, die kat het rustig en deftig langs hulle gestap, en van diep binne-in die wolf se maag – net om almal te herinner dat sy nog steeds daar is – kom daar 'n sagte, klein kwaak-geluidjie! Dis die eend! Die wolf het haar sommer heel ingesluk. Hulle sal dalk by ‘n goeie veearts ‘n draai moet maak om haar uit te haal, voor hulle die wolf iewers anders gaan vrylaat.