Die Derduiwel

 

Daar was ‘n klein gediertetjie

Skaars  so groot soos ‘n fee

Met ‘n voorkoms erg verskriklik

Maar nie die soort wat jou nagmerries gee

 

Op sy rug was twee klein vlerkies,

Sy vel: bloedrooi, met skubbe op,

Hy’t skerp, gepunte tande,

en ook twee horings op sy kop

 

Sy ore was veels te groot

En sy neus was meer van ‘n snoet

En nog ‘n lang maer stert ook

Saam met al die ander goed!

 

 

Dis ‘n gelag en ‘n gekekkel,

Dis ‘n gespoeg en gespat en gesis

Ons noem hierdie knaap ‘n Derduiwel

‘n regte klein vabond is wat dit is.

 

Die klein ondeug is wild en onvoorspelbaar,

Dit streef die heeltyd net na pret,

En met truuks en poetse en planne

Vang hy mense heeltyd in sy net.

 

Daar was byvoordeel hierdie seun,

Sy naam was Tommie Buys

Hy’t rustig van die skool gestap

Op pad na sy eie huis

 

Die Derduiwel het ‘n strik gestel

Sy hande gevryf en gelag

En toe net ‘n entjie verder

Agter ‘n boom gaan wag.

 

Tommie het dadelik ophou stap

Toe hy iets glinsterend sien blink

“Dis ‘n muntstuk, ag hoe lekker!”

Het Tommie hard gedink.

 

Hy kon sy geluk nie glo nie

En buk om dit op te tel

Maar die muntstuk wil nie beweeg nie

Kan jy dit oorvertel!

 

Die derduiwel wil hom pap lag

Hy’t dit vasgeplak met gom,

Tommie hoor die gegiggel

En kyk baie vinnig om

 

Hy kyk in die bosse

Maar die derduiweltjie was weg

Toe stap Tommie maar aan huis toe

En voel effens vreemd en effens sleg.

 

Later daardie aand

Is Tommie by die huis

Hy begin met al sy takies,

Dink hy’s alleen en als is pluis

 

Maar die Derduiwel \et so wraggies

Sy huis binnegeglip

En daar stel hy vir arme Tommie

In die kombuis toe nog ‘n strik!

 

Hy kruip agter die gordyn weg

En sit stilletjies en wag

Tot Tommie daar kom tee maak

Bietjie later in die nag.

 

Hy maak sy tee en roer dit

En besluit om suiker ook te kry

Twee lepels uit die suikerpot

Gooi hy toe sommer by.

 

Hy stap na die sitkamer

En gaan sit lekker in sy stoel

Maar toe proe hy sy tee

En voel hoe walging deur hom spoel.

 

Sonder om te dink of wag

Spoeg hy dat dit spat

Daar trek tee oor die tafel

Die stoele, en die mat!

 

Die tee smaak sommer aaklig

Maar dis nie Tom se fout

Die Derduiwel het sy suiker

Sowaar vervang met sout.

 

Die gedoente gee ‘n giggel

Voor hy buitekant toe snel

Om daarso sy finale

En sy grootste strik te stel.

 

Tommie weet teen die tyd

Daar was iemand in sy huis

So hy loop ligvoets waar hy gaan

So saggies soos ‘n muis.

 

Die deur was halfpad oop en daar

Was spore op die vloer

Hy wou net die deur oopmaak

Maar toe sien hy daarso loer

 

op die half-oop deur ‘n emmer

daar gebalanseer

maak die deur net effe oop

en die water val dan neer!

 

“Jy kan nie my nie vang nie” het hy geroep

en versigtig deur gegly,

“Kyk, ek loop versigtig deur” sodat

jou simpel emmer bo kan bly!”

 

 

Die derduiwel kom uit sy wegkruipplek

Sy kop hang sommer skaam

“Ek is jammer, dis net ‘n speletjie,

al speel daar niemand saam.”

 

Ek het gehoop dat jy saam met my

Vir my grappies sou kon lag

En dan miskien my vriend wees,

Want dis waarna ek smag.

 

“Hierdie poetse wat jy bak” sê Tommie

“Is ‘n baie lawwe gier,

As maats is wat jy eintlik soek,

Is daar ‘n makliker manier”.

 

“Gaan na die speelpark

Waar die kinders lag en voel

Ek wed jou jy sal iemand kry

Wat dieselfde voel.”

 

 

“Vra of jy kan saam speel

Selfs as dit moeilik voel

Sommer vinnig gaan jy lekker speel

Met maats vir jou bedoel.”

 

“Maar ek is so lelik” sê die Derduiwel

en gee ‘n snik

“Dit gaan oor hoe jy binne lyk”

sê Tommie in sy skik.

 

 

“Gee ‘n vriendelike glimlig,

wees gaaf, hulpvaardig en bly

En so sal jy sommer gou

‘n klompie vriende kry.

 

Die Derduiwel het sy les geleer

En was net reg om te gaan

Toe Tommie sê “Kan ek iets vra?”

En die Derduiwel stil gaan staan.

 

“Beloof my jy sal ophou

met aanhoudend poetse bak?”

Die Derduiwel het sy kop geskud

“Natuurlik, in die haak.”

 

‘Wil jy dan my vriend wees?”

“Ja!” gil die Derduiwel vol geluk

Hy spring of en af en giggel

En gee die seun ‘n druk.

 

“Kan ons twee dan gaan speel?”

vra die duiweltjie half skaam

“Natuurlik!” sê Tommie

en hulle twee speel tot vandag toe nog steeds saam.