Die Pers Gorilla
Jong Wimpie Wessels was besig om heerlik buitekant met sy fiets te ry. Skielik besluit Wimpie hy wil ‘n bietjie gaan verken en wegkom van dieselfde ou paadjies waarop hy altyd ry.
Hy het al te vrolik gefluit terwyl hy by 'n stil ou agterpad afgedraai het. ‘n Entjie verder sien hy 'n afdraai wat hy nog nooit vantevore opgemerk het nie.
"Interessant," dink Wimpie, "ek kan net sowel gaan kyk wat daar is."
Terwyl hy ry, word die pad al hoe rowwer en rowwer, en die atmosfeer al hoe meer onheilspellend. Groot, donker wolke begin saampak. In 'n oogwink begin weerlig slaan en 'n stortreën sak uit, wat arme Wimpie word papsopnat maak.
Net toe hy wou omdraai en huis toe jaag, sien hy 'n lig in die verte. Dit laat hom toe dink: "Miskien kan ek net op iemand se stoep staan totdat die reën bedaar, of miskien, met 'n bietjie geluk, sal ek 'n paar gawe mense daar vind wat my ouers kan bel om my te kom haal."
Hy het sy fiets teen die stoeptrappies opgesleep en 'n oomblik geneem om asem te skep terwyl die reën aanhou neerstort het. Toe merk hy ‘n bordjie teen die deur op. In groot letters staan daar "WELKOM", en onder dit, in kleiner letters, "Kom Gerus Binne."
"Hmm!" het Wimpie gedink.
Hy het sy fiets teen die muur laat leun en die deur probeer oopmaak. Dit was nie gesluit nie en het hy het dit redelik senuweeagtig oopgestoot en na binne gestap.
Binne was 'n gewone klein kombuisie, met 'n yskas, 'n tafel met 'n bos pers blomme daarop, en 'n stoel.
Op die tafel, was daar ‘n boek. Wimpie het nader gestap, die boek oopgemaak en begin lees: "Hierdie plek is vir mense in nood, soos jy, liewe reisiger. Hier mag jy enigiets doen wat jy wil - eet, slaap, ontspan - behalwe vir een ding: MOENIE by die deur agter jou ingaan nie."
Wimpie het stadig omgedraai en daar, agter hom, was 'n groot, swaar, rooi metaaldeur, dig toegemaak met skuifslotte, met 'n bordjie wat sê: "BLY UIT!"
Wel, hierdie storie sou gelukkig verby gewees het as hy bloot gedoen het wat die geheimsinnige boek hom vertel het, maar nee, sy nuuskierigheid het die oorhand gekry. Hy het na die onheilspellende deur toe gestap, en albei hande gebruik om die skuifslotte oop te maak. Toe druk hy hard teen die deur en dit swaai oop!
Agter die deur was daar 'n lang stel trappe na onder. "Hierdie is baie grillerig," het Wimpie gedink.
Hy het by die trappe afgestap en gehoor hoe die metaaldeur agter hom toeklap. Onderaan die trappe was 'n stewige blou deur, met 'n bordjie wat sê: "GEEN TOEGANG!” in hoofletters, en onder dit: “Dit beteken jy!"
Weereens het die stomme Wimpie die deur oopgemaak, en agter dit was nog 'n stel trappe na onder.
Terwyl hy by hierdie trappe afgaan, het die deur weer agter hom toegeklap.
Hy het by die onderkant van die trappe aangekom, en daar was 'n geel staaldeur, met 'n groot ou hangslot, en aan 'n haak langs die deur 'n groot ou sleutel. Die bordjie teen hierdie deur het gesê: "GAAN WEG! HIERDIE IS JOU LAASTE KANS!"
Hy het die sleutel gevat en die slot oopgemaak en die deur het stadig oopgeswaai...
Agter die deur was ‘n enorme kamer. In die middel van die kamer was 'n groot metaalhok. En in die hok was 'n REUSE PERS GORILLA, wat met sy arms gevou op 'n stoeltjie gesit het. Dit het gelyk of hy diep ingedagte was, en hy het glad nie vir Wimpie opgemerk het nie.
Teen die tralies van die hok was 'n groot bordjie, "MOENIE DIE GORILLA VOER NIE. Jy is gewaarsku!"
Langs die hok was ‘n groot hoop piesangs. Wimpie kon die versoeking net nie weerstaan nie. Hy het ‘n piesang opgetel en in die hok ingegooi. Sonder om op te kyk, het die gorilla sy harige, pers arm uitgesteek, en die piesang gevang. Hy het dit afgeskil en dit geëet.
Toe, met 'n swaar sug, het hy sy arms gevou en in stilte bly sit.
"Ek sien nie wat die probleem is nie," het Wimpie gedink. "Miskien kan ek probeer om met hom te praat." So gesê, so gedaan. "Verskoon my, pers gorilla, is alles reg? Hoekom is jy in hierdie hok toegesluit?"
Wimpie het nie regtig verwag dat die pers gorilla sou terugpraat nie, en natuurlik het hy ook nie. Hy het net daar op sy stoeltjie gesit met sy arms gevou en die verte ingestaar.
Wimpie het al hoe dapperder gevoel en begin om stuitig voor die hok rond te spring en gesigte te trek. Maar die pers gorilla het hom glad nie daaraan gesteur nie.
"Ek wonder..." het WImpie gedink. Hy het homself teen die tralies van die hok vasgedruk en sy arm deurgesteek om aan die gorilla te raak. Die gorilla het nie eers na hom gekyk nie. Hy het gerek en gerek totdat sy vingerpunte net-net aan die gorilla geraak het.
In 'n oogwink het die gorilla opgespring en 'n oordonderende brul gegee! Toe stap dit na die hok se tralies toe, neem een in elke hand en begin hulle oopbuig!
Verskrik het Wimpie omgedraai en begin weghardloop. Toe hy by die geel deur kom, sien hy 'n bordjie agterop wat sê: "Ek het jou mos gesê!"
Hy het die deur oopgeruk en teruggekyk. Die Gorilla het die tralies heeltemal oopgebuig.
"Heeeeelp!" het hy geskree, terwyl hy teen die trappe op jaag na die blou deur toe. Die bordjie agter op hierdie deur het gesê: "Moenie sê ons het jou nie gewaarsku nie!"
Hy het dit oopgemaak, en terwyl hy dit doen, het hy teruggekyk en gesien hoe die pers gorilla brul en op hom afstorm.
Hy het blitsvinnig teen die volgende stel trappe op gehardloop. Hy kon nou al die gorilla agter hom hoor asemhaal.
Hy het by die laaste deur gekom, en die bordjie op hierdie een het gesê: "Hierdie is jou eie skuld!" Hy het dit desperaat oopgemaak, en terwyl hy dit doen, na agter gekyk, en daar was die pers gorilla - regtig egtig baie baie naby!
Hy het deur die huis gehardloop, tot op die stoep. Die deur het agter hom toegeklap en onmiddellik ontplof in derduisende splinters soos die gorilla dit oopstamp.
Hy het op sy fiets gespring en vir sy lewe getrap, al met die modderige pad langs. Maar die fiets het gegly, en die verskrikte Wimpie het karplaks in ‘n plas water beland. Hy het opgekyk. En daar was die gorilla, bo hom. Die groot pers gedierte het stadig oor hom geleun en afgekyk. Hy het sy groot pers harige hand uitgesteek. Dit het so naby aan Wimpie se gesig gekom dat hy die dampe van vrot piesangs kon ruik.
Die hand het nader gekom en hom op die skouer getik, en die gorilla het gesê: "Raak. Jy's aan."