Skoonlief en die Ondier
Eendag, lank gelede, was daar ’n ryk man, ‘n wewenaar, met drie dogters.
Die twee oudste dogters was nie juis die aangenaamste of skerpste potlode in die pakkie nie, en het die meerl dae spandeer om oor die nuutste modes te praat.
“O, skat! Daardie rok absoluut fantasties!” prul die een.
“Dalk,” sê die ander met ‘n skewe glimlag, “maar die skoene wat daarby pas is rooi!”
“Rooi? O genade, nee!” snuif die eerste een verontwaardig. “Rooi is uit! Blou is in! Gooi dit onmiddellik weg!”
En dan sou hulle die onmodieuse skoene sommer in die asblik gooi, storm na hul pa toe en eis:
“Geld! Pappa! Ons het geld nodig! Ons móét nóú nuwe skoene koop, anders gaan die hele dorp ons uitlag!”
Die een ding waaroor hulle nóg meer katterig was as oor onmodieuse klere, was hul jonger suster, Skoonlief.
Skoonlief was saggeaard, vriendelik met haar familie en vriende, het saggies gepraat en was baie gelukkiger met ’n goeie boek as met ’n winkelsak vol skoene.
“Jy’s tog so vaal!” spot hulle. “En so onmodieus! Altyd met jou neus in jou simpel boeke! Pah!”
Maar Skoonlief het hulle geïgnoreer, haar eie dinge gedoen en ten spyte van haar nare susters, was sy heel gelukkig.
Eendag kry hul pa baie slegte nuus. Hy het al sy geld belê in goedere om oorsee te verkoop. Die goedere is op ’n skip gelaai—maar toe tref die ramp: die skip het in ‘n sotrm op see beland en verlore gegaan! Sy hele sy rykdom was weg. Die familie het niks gehad nie. Hulle moes hul groot huis verlaat en al hul waardevolle besittings verkoop net om aan die lewe te bly.
“Ek is bang ons sal almal moet gaan werk soek,” sê die pa hartseer.
“Werk?!” gil die twee oudste dogters. “WERK?! Dis sekerlik ’n grap! Hoe belaglik! Jammer, Pa, maar dit is heeltemal onmoontlik. Nee, ons sal vir onsself ryk mans kry wat vir ons kan sorg! Dan kan ons ons besig hou met belangrike dinge: Inkopies! En tee drink! En skinder!”
En daarmee pak hulle hul tasse en laat die arme pa en Skoonlief agter.
Skoonlief, aan die ander kant, was heel tevrede daarmee om te werk en te help. Sy bly by haar pa, en saam maak hulle ’n nederige bestaan. Hulle woon in ’n klein houthut in die woud. Al het hulle min gehad, het hulle mekaar gehad—en dit was genoeg vir ’n eenvoudige, gelukkige lewe.
Maande later kry die pa baie goeie nuus! Sy skip is gevind! Sy rykdom is herstel! Die nuus versprei vinnig, en voor lank kom die twee nare susters aangehardloop, gretig om weer hul gulsige hande op hul pa se geld te lê.
Die pa was ’n goeie man en het geen wrok gekoester nie.
“My dogters,” sê hy, “ek gaan dorp toe om my geld te gaan haal. Sê my—watter mooi geskenk kan ek vir julle bring?”
“Bring vir my die duurste rok uit die gewildste winkel,” sê die oudste.
“Ek wil diamantskoene en ’n tiersvelhandsak hê!” beveel die ander.
“En jy, Skoonlief?” vra hy.
“Al wat ek wil hê,” sê sy sag, “is ’n roos.”
“’n Roos?!” gil die oudste suster.
“Wat ’n dwaas!” lag die ander. “Maar wat verwag ’n mens van iemand só onmodieus?” En hulle bars uit van die lag.
’n Week later is die pa op pad huis toe, beursie vol, arms belaai met rokke en geskenke, toe hy skielik stilstaan en sy hand hard teen sy voorkop slaan.
“Ek het heeltemal van Skoonlief se roos vergeet!”
Net toe begin donker wolke saampak en maak die wêreld rondom hom donker, amper onheilspellend. ’n Skielike stortreën sak uit en maak hom sopnat. Hy kyk desperaat rond vir skuiling en sien ’n lig in die verte. Hy ploeter deur die plasse en ontdek ’n groot, pragtige ou kasteel met flikkerende kerse in die vensters. Die voordeur staan wyd oop.
“Hallo?” roep hy. Geen antwoord nie.
Hy stap verder in en sien tot sy verbasing ’n groot tafel, gedek met ’n heerlike feesmaal.
“Hallo?” probeer hy weer. Stilte.
“Wel,” dink hy, “ek wil nie indring nie… maar dalk net een happie.”
Hy eet meer as wat hy beplan het, so erg dat hom vaak maak en hy op en sagte bed in een van die kamers aan die slaap raak.
e volgende oggend is die lug oop en helderblou. “Wat ’n geluk!” sê hy, maak die bed op en stap uit. Met die uistap sien hy ‘n roostuin vol pragtige rose. “O ja, Skoonlief se roos,” onthou hy. “Net een,” dink hy, en pluk ’n pragtige roos.
Skielik dreun ’n stem agter hom: “Jy het my roos gesteel!”
Hy draai om—en daar staan ’n verskriklike monster. Mensvormig, maar harig, gespierd en afskuwelik om na te kyk.
“Ek… ek is jammer!” stotter hy.
“Jy sal daarvoor boet, ou man!” brul die Ondierr en gryp hom aan die skouers. “Maak jou gereed vir jou einde!”
Die pa val op sy knieë. “Asseblief! Spaar my! Ek het net een roos gepluk—vir een van my dogters.”
Die Ondierr stop. “Dogters?” sê hy. “Goed. As een van hulle hierheen kom om vir altyd by my te bly en my geselskap te hou, sal ek jou laat gaan. Anders sal jy ‘n verskriklike einde teëkom!”
Die Ondier laat hom los, en die pa hardloop vir sy lewe.
By die huis vertel hy sy dogters alles.
“Dis my skuld!” snik Skoonlief. “Ek sal gaan—om Pa te red.”
“Nee!” roep haar pa. “Ek kan dit nie toelaat nie!”
Maar Skoonlief pleit en smeek só lank dat hy uiteindelik toegee en haar na die Ondierr se kasteel neem.
“Is dit jou dogter?” grom die Ondierr.
“Dit is ek,” sê Skoonlief. “Ek sal bly in my pa se plek. Nou moet u u woord hou—laat hom gaan.”
“Ek sal dit toelaat,” sê die Ondierr. Pa en dogter omhels mekaar een laaste keer, met trane.
Dit was nie maklik om saam met die Ondier te leef nie. Hy was nie wreed nie—maar ook nie juis spraaksaam nie. Skoonlief se dae was stil en alleen. Met etenstyd sit hulle saam. Aanvanklik kom net ’n paar gromme van die Ondier af. Maar stadigaan begin hulle praat, grappies maak, stories deel.
Een dag ontdek Skoonlief ’n kamer met háár naam op die deur. Binne is alles wat sy gemis het: boeke, ’n klavier, gemaklike klere. Sy jubel van vreugde. Daardie aand vertel sy die Ondier hoe lief sy vir die kamer is, en hulle lag en gesels tot laat.
Weke later vra die Ondier skaam: “Skoonlief, ek het jou lief. Sal jy met my trou?”
Skoonlief skrik.
“Ek gee om vir jou,” sê sy, “maar ek weet nie of ek kan trou nie…”
“Asseblief,” smeek hy. “Laat my jou ten minste gelukkig maak.”
“Ek mis my pa,” sê sy.
Die Ondier haal ’n spieël en ’n ring uit. “Vra die spieël om jou na hom te neem. Draai die ring drie keer in die rondte wanneer jy wil terugkom. Maar moenie langer as ’n week weg bly nie, anders sal ek van die hartseer vergaan”
Skoonlief het dadelik ingestem. In ’n oogwink is sy by haar pa—bleek en siek. Sy bly by hom, en hy word sommer vinnig gesond. Maar sy vergeet van die tydsbeperking op haar besoek.
Een nag droom sy van die Ondier en sien hoe hy inmekaargesak lê. Swak, en amper leweloos. Sy skrik wakker en draai paniekerig die ring aan haar vinger drie keer in die rondte.
In ‘n oogwink word sy weggevoer na die kasteel toe en verskyn voor hom waar hy in ‘n hoop op die grond lê.
“Ek het jou lief!” roep sy terwyl sy na hom toe aanhardloop.
Die Ondier kry lewe, staan op, goou sy mantel van hom af en daar staan hy voor haar. Maar nie meer as ‘n aaklige, misvormede monster nie. Maar as die prins wat hy was voor ‘n towerspreuk hom in ‘n Ondier verander het.
Skoonlief se liefde het betowering is verbreek.
En so trou Skoonlief en haar prins—wat sy altyd liefdevol Ondier bly noem—en hulle leef gelukkig tot in lengte van dae.