BABA JAGA
Eens op ‘n tyd was daar ’n man en ’n vrou wat baie graag ’n kindjie wou hê, maar hulle het net nooit enige kinders gehad nie. Op ’n dag het die vrou ’n groot houtstomp geneem en in ‘n babawiegie neergelê, net om te voel hoe dit sy voel om ‘n kindjie te hê, en die wiegie heen-en-weer begin wieg en daarvoor begin sing. Ná ’n rukkie kyk sy af, en sien dat die stomp arms en bene gekry het. Oorstelp van blydskap het sy weer begin sing en wieg, en toe sy weer kyk, was daar – in plaas van die stomp – ’n pragtige klein seuntjie in die wiegie. Die vrou het die kind opgetel en hom grootgemaak as haar eie seun. Sy het hom Peter genoem.
Op ’n dag toe hy groter is, trek Peter sy jassie aan en roei in ‘n klein bootjie uit om in die rivier te gaan visvang. Kort daarna stap sy ma na die wal van die stroom en roep hom:
“Peter, Peter, bring jou bootjie nader aan die wal, ek het vir jou ’n koekie gebring om te eet.”
Toe sê Peter vir sy bootjie:
“Bootjie klein, bootjie klein,
dryf ’n bietjie nader,
bootjie klein, bootjie klein,
dryf ’n bietjie nader.”
Die bootjie dryf tot by die wal. Peter kry die koekie by sy mamma en dryf weer uit om verder vis te vang.
Soos die toeval dit wou hê, het Baba Jaga, ’n skrikwekkende ou heks, in die bosse daar naby weggekruip. Sy het alles gehoor wat tussen die vrou en die kind gesê is. Toe die vrou weg is, wag Baba Jaga ’n rukkie, gaan toe na die wal van die rivier toe en kruip daar weg. Toe roep sy:
“Peter, Peter, bring jou bootjie na die wal, want ek het nóg ’n koekie vir jou gebring.”
Maar toe Peter haar stem hoor – grof en hard – het hy dadelik geweet dit moet Baba Jaga wees. Hy sê toe:
“Bootjie klein, bootjie klein,
dryf ’n bietjie verder,
bootjie klein, bootjie klein,
dryf ’n bietjie verder.”
En die bootjie dryf al hoe verder weg, ver buite Baba Jaga se bereik.
Die ou heks het gou agtergekom iets is fout, en sy storm toe na die dorp se grofsmid. Nou, grofsmid maak gewoonlik dinge uit yster uit, maar Baba Jaga het ‘n ander plan gehad.
“O Grofmid, o grofsmid,” roep sy, “smee vir my ’n mooi fyn stem, en doen dit gou, of ek sit jou in my vysel en maal jou stukkend met my stamper!”
Die smid was doodsbang. “Ja, Mevrou! Wat ook al u sê, Mevrou!”
So gou as hy kon, maak hy vir haar ’n mooi, fyn stem, en Baba Jaga gryp dit en hardloop terug na die rivier.
Sy kruip naby die wal weg en roep met haar nuwe stemmetjie:
“Peter, Peter, bring jou bootjie na die wal, want ek het vir jou nóg ’n koekie om te eet.”
Peter dink dit is sy ma, en hy sê vir sy bootjie:
“Bootjie klein, bootjie klein,
dryf ’n bietjie nader.”
Die bootjie dryf toe tot by die wal. Peter kyk rond, maar hy sien niemand nie. Hy wonder waar sy mamma kan wees en klim uit die bootjie om haar te gaan soek.
En net daar gryp Baba Jaga hom en hardloop met hom deur die woud tot by haar huis. Sy sluit hom in ’n hok agter die huis toe, om hom daar te hou totdat hy vet genoeg is om te eet.
Intussen sit Peter se ma by die huis en wag dat hy van die rivier af terugkom.
“Ek wonder waar hy kan wees?”
Uiteindelik gaan sy hom soek. Sy kry sy klein bootjie waar dit leeg teen die wal staan, en oral rondom dit sien sy Baba Jaga se voetspore in die sand. Die bome en bosse se takke is stukkend soos sy dejur die woud geharldoop het met Peter in haar arms.
“Ek het dit geweet,” roep die vrou. “Daardie heks het my klein seuntjie ontvoer! Ek móét hom red!”
Sy vat dadelik die pad en gaan soek na Peter. Sy stap en stap, en kom uiteindelik by Baba Jaga se huis aan. En dis geen gewone huis nie. Die huis staan op lang, dun voëlpote, soos ‘n groot hoender of kalkoen, en draai in die rigting waarin die wind waai. Peter se ma klop versigiting aan die deur.
“Hallo?”
Baba Jaga maak oop.
“Wat soek jy hier?” vra sy. “Soek jy werk?”
“Ja,” antwoord die vrou. “Ek is net ’n arm vrou wat werk soek. Het u iets vir my om te doen?”
Die heks frons. “Kom in,” sê sy, “en maak my huis skoon. Maar moenie rondloer nie, anders sal jy dit berou!”
Die vrou gaan in en begin die huis skoonmaak, terwyl Baba Jaga haar towerkragte inspan en oor die bos wegvlieg
Nadat die heks weg is, sê haar kat vir die vrou:
“Ag, gee tog asseblief vir my ’n bietjie kos, ek is skoon uitgeteer van die honger.”
“Hier. Hier is vir jou ’n koekie,” sê die vrou.
Die kat val weg en eet sommer dadelik alles op.
“Ek weet hoekom jy hier is,” sê die kat. “Jy soek die seuntjie Peter. Hy sit in ’n hok agter die huis. Jy kan hom nie nou al help nie. Ná ete, wanneer Baba Jaga aan die slaap raak, kan jy haar oë met dik, stroperige molasse toesmeer sodat sy dit nie kan oopmaak nie. Dán kan jy saam met die kind ontsnap.”
Toe Baba Jaga terugkom, vra sy:
“So, het jy in my huis rondgesnuffel en geloer?”
“Glad nie, Mevrou” antwoord die vrou.
Baba Jaga gaan sit en eet al die kos op die tafel – bene en al – en raak sommer net daar aan die slaap. Sy snork verskriklik hard.
Die ma vat toe ‘n hand vol molasse - dik, swart, taai, klewerige goed, en smeer dit oor die heks se ooglede. Daarna hardloop sy na die hok toe.
“Peter! Peter! My arme, arme Peter!”
Sy maak die hok oop, laat hom uit, en saam hardloop hulle deur die bos weg, terug huis toe.
Baba Jaga slaap lank. Uiteindelik gee sy ‘n lang gaap sy en word wakker, maar sy kan nie haar oë oopkry nie. Hulle sit styf vas met teer. Sy raak woedend, stamp rond en brul van woede.
“Ek weet wie dit gedoen het!” skree sy. “En sodra ek my oë kan oopmaak, sal ek julle agternasit en julle aan vlarde skeur!”
Maar Peter en sy ma het reeds veilig by die huis aangekom.
En wat Baba Jaga betref – so ver ek weet is nog steeds beig om te stamp en te skree, en te probeer om die molasse uit haar oë uit te vee...