Aaphoedjies

Eendag, lank gelede, was daar ’n baie talentvolle hoedemaker. Hy het allerhande verskillende hoede gemaak. Verskillende soorte, groottes en kleure. Hy het al sy hoede op sy wa gelaai en van dorp tot dorp gereis en die hoede probeer verkoop. 

So ver hy loop het hy uitgeroep: “Hoede! Hoede te koop! Klein hoedjies, groot hoede, deftige hoede, lawwe hoede, veelkleurige hoede, hansworshoedjies, cowboyhoede, pluiskeil, musse, pette, elke denkbare soort hoed!”

Hy het nogal ’n goeie bestaan gemaak. Hy het sy werk geniet.En hy het daarvan gehou om by ’n nuwe dorpie aan te kom en die blydskap op sy gelukkige klante se gesigte te sien as hulle ‘n mooi hoed by hom koop.

Maar hy het ook die tye tussen die dorpies geniet, wanneer hy rustig op sy wa kon sit terwyl sy perd hom na die volgende dorpie en sy volgende klante lei.

Op ’n warm somersdag stop hy met sy wa by ‘n groot mangoboom en besluit om ‘n uiltjie te knip in die boom se skaduwee. Sy perd het heerlik gras geëet en die geluid daarvan het hom sommer vinnig aan die slaap gesus. 

Toe hy wakker word, het hy gestrek, sy perd weer ingespan, en was net gereed om te vertrek toe hy skielik ’n vreemde gevoel kry dat iets nie heeltemal pluis is nie. Hy draai om, kyk agter in die wa en val amper agteroor.

“My hoede!” roep hy geskok uit. “Hulle is almal weg!” snik hy.

Toe hoor hy ’n lawaai bo hom. Hy kyk op en daar sien hy ‘n groot trop ape wat na hom sit en loer. En elkeen dra so waar as wragtig een van sy hoede!

“Julle skelms!” roep hy, terwyl die ape skree en van tak tot tak spring. Hy bal sy vuis vir en swaai dit in die lug rond, en hulle doen dit terug! Hy trek vir hulle gesigte, hulle trek dieselfde gesigte terug!

Hy skree op hulle, en hulle skree terug! Hy gooi ’n klip na hulle, en in antwoord daarop, gooi hulle hope vrot mango’s in sy rigting terug!

Gefrustreerd, en sopnat en taai van die stink mangosop, gooi hy uiteindelik sy eie hoed moedeloos op die grond neer. Tot sy verbasing doen die ape presies dieselfde! Elkeen gooi net soos hy sy hoed neer!

Blitsvinnig gryp hy sy kans, tel al die hoede op, pak hulle terug in sy wa en jaag so vinnig as wat sy perd kan trek, weg van die ape af.

Kort daarna bereik hy die volgende mark en verkoop sy hoede soos gewoonlik aan baie tevrede klante.

Baie jare het verbygegaan. Die hoedemaker het ’n seun gehad wat mal daaroor was om na die storie van die skelm ape te luister.
“Eendag,” het die pa vertel, “word ek wakker en sien AL my hoede is gesteel…”

En elke keer as hy by die einde kom—
“…en toe gooi ek my hoed neer en al die simpel ape gooi hul hoede ook neer!”
bars die seun uit van die lag en smeek sy pa om die storie weer en weer en weer te vertel.

Uiteindelik het die hoedemaker oud geword, en sy seun het die besigheid oorgeneem. Hy het hoede gemaak wat net so goed soos sy pa s’n was. Nee, eintlik nog selfs beter!

“Hoede! Hoede te koop! Seerowerhoede! Onderstebo-hoede! Binnekant-buite-hoede! Hoede wat borrels blaas! Hoede wat water spuit! Hoede wat snaakse geluide maak!”

Die skares het geskater van die lag, en almal het gelukkig met hul nuwe hoede weggestap.

Soos sy pa, het hy ook die reise tussen die dorpies geniet. Die stilte en vrede op pad na die volgende plek. Op ’n dag het hy ook onder ’n mangoboom gaan lê vir ’n middagslapie. Hy het sy perd losgemaak om gras te eet en homself in die skaduwee gemaklik gemaak.

Dit was ’n warm somersdag. Hy sit sy “Hou-My-Koel”-hoed op—’n hoed met klein waaiertjies. As hy ’n knoppie bo-op die hoed druk, blaas daar ’n sagte briesie oor sy gesig. Tevrede sug hy… en kort voor lank snork hy rustig onder die boom.

Toe hy wakker word, reik hy na die knoppie om die waaiers af te sit. Maar al wat hy voel, is sy kaal kop!

Die hoed is weg!

Hy spring op en hardloop na die wa. Dit is leeg!

“O nee!” roep hy. Hy kyk op in die boom, maar hy weet presies wat om te verwag!

Daar is sommer dosyne ape! Elkeen van hulle het ‘n ander hoed op sy kop en hulle spring van tak tot tak en skaterlag vir hom!

Die hoedemaker se seun kyk op en sê:
“Hallo, Ape!”
Hulle skree terug.

“Ek ken hierdie storie!” roep hy.

Hy waai vir hulle.
Hulle waai terug.

Hy sit sy duim op sy neus en wikkel sy vingers.
Hulle doen presies dieselfde.

Hy steek sy tong uit.
Hulle steek hul tonge uit!

Hy lag, haal sy hoed af en gooi dit op die grond.

En die ape doen… niks.

“Kom nou!” roep hy. “Maak my na! Gooi julle hoede neer!”

Maar niks gebeur nie.

Hy tel sy hoed op, sit dit terug op sy kop, en gooi dit weer stadig neer. Maar, weereens, niks.

Hy probeer dit oor en oor en oor… totdat die grootste aap, met een van sy snaaksste hoede—met pouvere wat alle kante toe uitsteek—van ’n tak af spring en lui na hom toe aanstap.

Die aap wys met ’n leeragtige vinger na hom en sê:
“Dink jy jy is slim omdat jy uit jou pa se stories geleer het? Wel, óns pa het ook vir ons stories vertel… en vandag hou ons die hoede!”

En daar gaan die hele trop apies, skaterlaggend, elkeen met sy hoed stewig op sy kop. Die hoedemaker se seun kan maar net sy kop – sonder ‘n hoed op - staan en krap.

En dis hoekom dit baie belangrik is om mooi na stories soos hierdie een te luister… 

Jy weet nooit wat jy daaruit kan leer nie. En selfs ‘n goeie oplossing werk nie altyd weer nie!