Die Pampoenspook
“Dis die einde van Oktober!” roep Alida in die gang,
“Vanaand gaan maak ons almal saam die hele wêreld bang!”
“Ons trek ons aan soos monsters! Ons kan spring en skreeu en gil.
Ons maak ‘n groot pampoenspook, dis Halloween: die tyd vir gril!”
Sy dink aan al die lekkergoed, die soetgoed om te eet
Roep haar boetie Andries: “Komaan, slaapkous, maak gereed!”
Sy roep by sy kamerdeur en blaas haar klein trompet
“Jy kan nie langer slaap nie man, staan op en los jou bed!”
“Ek’s al lankal aangetrek” roep hy en spring vinnig op,
hy trek ‘n zombie masker oor sy ongekamde kop
“Ek soek breins,” kreun hy en gee sy lyf ‘n skewe trek,
“Later,” sê Alida kwaai . “Dis nou eers tyd vir werk.”
“In die kombuis staan daar ‘n boerpampoen wat ons twee uit moet hol”
“Pampoenspook!” skree Andries, soos hy in die rondte tol.
Die twee het sommer dadelik die takie flink verrig
Maak ‘n pampoenspook met ‘n grynslag op sy gesig.
“Daarsy!” sê ‘n tevrede Andries. “Laat die pret begin.
Kom ons twee gaan kry ‘n kers en sit dit binne-in.”
Hulle het wel so gemaak en skrik hul byna lam,
Want sommer woeps, net sommer so, vat die kers toe vlam!
Die pampoenspook gee ‘n giggel en knip vir hulle oog,
En voordat hulle iets kon sê laat spat hy met ‘n boog.
Die Pampoenspook gly die straat af, sy glimlag gloeiend geel,
Hy hop en bons en lag en gil “Tyd om ‘trick or treat’ te speel!”
Andries skrik hom boeglam, sy oë rek skoon wyd!
“Ons moet dit keer!” roep Alida en hardloop vinnig uit.
Die strate was vol kinders, skrikwekkend opgetof,
Vampiere, hekse, monsters – dit was nogal rof.
Van ver af sien hul die pampoen wat stamp teen ‘n deur
Hy hop en bons en giggel steeds, en klop weer en weer en weer.
‘n Ou oom maak die deur oop, dink dit is ‘n kind wat klop,
Maar dis net die pampoenspook wat wild en laf bly hop.
Die oom hou ’n skinkbord uit, met suikerklontjies op,
Die Pampoenspook stamp dit dadelik om en vreet skoon alles op!
Die Pampoenspook was vraatsig en wou glad nie deel
Dit hop net weer die straat af “Tyd om trick or treat te speel!”
“Help ons!” roep Alida terwyl sy verby al die kinders draf.
“Ons pampoenspook is heel deurmekaar. Ag, hy’s sommer laf!”
‘n Frankenstein-se-monster sê “Kom, saam kan ons hom kry.”
kort voor lank was daar ‘n weerwolf en ‘n vlermuisman ook by.
Toe sluit daar nog ‘n seuntjie aan met ‘n spinnekop gesig,
Kort voor lank was almal op pampoenspook-keer gerig.
Daar doer is die pampoenspook voor nog ‘n ander deur
En steel weereens al die lekkers, sommer nog ‘n keer.
Hy stamp die bakke vinnig om en vreet dan alles op,
En trek dan met ‘n vaart daar weg, te vinnig om te stop.
Die pampoenspook kry so lekker, sy oë trek skoon skeel,
“Dit is tog so heerlik om ‘trick or treat’ te speel!”
So gaan dit aan van huis tot huis en, ja, van deur tot deur,
Die pampoenspook die eet alles; meer en meer en meer.
Dit hou gulsig aan met alles eet so ver dit hop en rol
Tot dit amper net nie meer kon eet nie – sy maag was gans te vol.
Die kinders omsingel die pampoenspook, hy lyk selfs effe siek,
“Staan terug,” sê Alida. “Ek dink ek het die truuk.”
Sy steek haar hand in haar sak en haal ‘n toffie uit
“Staan terug!” roep sy en gooi dit dat dit deur die lug so fluit.
Die gulsige pampoenspook sien die toffie voor hom val
En dadelik vreet hy dit ook op – die ding is sommer mal!
Maar dit was dalk ‘n fout gewees, o pampoenspook so gemeen,
Want daar begin hy sleg te voel en woes van pyn te kreun.
Eers los dit ‘n enorme burp en toe begin dit bewe,
Die pampoenspook het die slegste tyd van sy korte lewe.
Skielik met ‘n reuse slag ontplof die ding “Kaboem!”
En al die lekkers in sy maag kom deur die lug gezoem.
Suikerklontjies, toffies, fudge, orals om hul heen
Die kinders gil van blydskap: Dis ‘n ware lekkers-reën
Hulle lag en dans en spring en bons oral vrolik rond
“Kyk net al die lekkergoed, hierso op die grond!”
Hul tel alles op en sing so bly en maak ‘n nuwe reël:
“Van nou af mag net kinders saam ‘trick or treat’ gaan speel!”