Die Trojaanse Perd
Die Trojaanse Perd
Lank, laaaaank gelede het die Grieke die stad Troje vir tien volle jare beleër. Beleër beteken dit stad
was omring deur die Grieke en niemand kon in of uit die stad uit kom nie. Maar die Grieke kon net nie
verder kom nie. Hulle het gedink en geargumenteer, beplan en gefaal, gekibbel en gekonkel en
allerhande planne probeer, maar die Trojane het dapper teruggeveg en hulle stad behou. En glo my,
daar was maar min dinge wat die Grieke nie probeer het nie - van lere teen die stadsmure tot
stormramme teen die hekke (‘n stormram is ‘n groot, dik boomstomp of paal met ‘n metaal kop,
gewoonlk een wat lyk soos ‘n ram, waarmee ‘n klomp sterk manne in ‘n deur in vashardloop om dit te
breek), maar niks het gewerk nie.
Nou, tien jaar is ’n lang tyd, vol verhale en legendes, net soos ’n emmer water vol waterdruppels is.
Ek sou jou kon vertel van die groot Achilles, die Griek met die wapenrusting wat een van die gode
self gemaak het. Hy het prins Hektor van Troje verslaan… en tog is Achilles self kort daarna deur
Paris, daardie slinkse prins, met ’n vergiftigde pyl in die hakskeen geskiet .. Dit is waarvandaan die
bekende uitdrukking: “Achilles hiel, of hakskeen, vandaan kom. Dis iemand se swak punt.
Maar selfs ná al hierdie dapper gevegte en tragedie, het Troje steeds bly staan.
Totdat Odysseus, die slimste en braafste van al die Grieke, met ’n plan vorendag gekom het. ’n Plan
so slinks en slim, jy sou glo een van die gode self het daarmee vorendag gekom.
“Luister hier, manne,” het hy gefluister. “Ek het ’n plan. Ons gaan die volgende nodig hê… (fluister)
en dan nog ’n paar… (fluister) en natuurlik moet ons ook… (fluister).”
En so, die volgende oggend, toe die Trojane oor die stadsmure kyk, kon hulle hulle eie oë nie glo nie:
Die Grieke – die raserige, vermoeiende vyand wat vir tien jaar lank daar was, was weg! Net weg.
Skoonveld! Die kamp was leeg, die vlakte kaal, en die lug doodstil. Nie ‘n enkele geluid nie.
Almal! Kyk! Die oorlog is verby! Die Grieke het opgegee! Hoera!” het die mense van Troje gejubel.
Maar wag - daar was nog iets. In die middel van die verlate kamp het ’n reuse houtperd gestaan. Dit
was so hoog soos ’n huis met ‘n hele klomp verdiepings, so breed soos tien vet bulle, en dit het op
swaar houtwiele gestaan, so dit kon voorentoe en agtertoe rol. Dit was ‘n wonderlike, geheimsinnige
ding.
“Wat sou dit nou wees? Is dit ’n geskenk? Of dalk ’n teken van oorwinning?” het die stad se priesters
onder mekaar gevra.
“Dit is ons s’n. Ons het gewen. Dit is ons prys! Bring dit in van buite die stadsmure af!” het die volk in
koor geskree. En so is die houtperd binnetoe gesleep na waar almal dit kon bewonder. Daardie aand
het Troje feesgevier soos nog nooit tevore nie—vure het gebrand, wyn het gevloei, en die mense het
tot laatnag gedans en gesing.
Maar diep binne-in die perd was dit doodstil. Want dáár het die Griekse krygers binne-in die hol
houtpens van die enorme perd weggekruip. Hulle het gewag, en gewag, totdat die stad se vrolike
gejuig stil geword het en almal gaan slaap het.
“Dit klink of hulle moeg is van al die partytjie hou,” het een gefluister.
Toe hulle seker was die tyd is reg, het’n luik – ‘n weggesteekte hout deur in die perd se onderpens -
oopgemaak, met toue afgegly en soos spoke deur die slapende stad beweeg. Hulle het die
stadspoorte oopgemaak, brandpyle die lug in geskiet as teken vir die mansakappe wat agter ’n
nabygeleë koppie weggekruip het, en in een nag het die Grieke kon doen wat hulle tien jaar lank nie
kon regkry nie.
Teen sonsopkoms was dit verby. Troje, die trotse stad, het geval. Die mure het gebrand, die huise het
ineengestort, en die eens-magtige stad het in puin gelê.
Die Grieke het die oorblyfsels geplunder: skatte, gevangenes, alles en enigiets wat amper waardevol
is. En toe hulle met hulle skepe terug huis toe vaar, was dit met liedere van oorwinnig, want
Odysseus se slim plan met die houtperd het hulle uiteindelik die oorlog help gewen.
En só is dit dat die naam van die Trojaanse Perd tot vandag toe voortleef, want dit is ‘n immergroen
verhaal van slinkse planne, te vroeg te veel feesvier, en die tragiese ondergang van ‘n magtige stad.