Die Donkie en die Skoothond


Eens was daar ‘n plaasboer, met ‘n donkie en ‘n hond.

Die hondjie is geselskap en die donkie dra goed rond.


As hy die dag moes mark toe, bly die twee saam by die huis,

En hul albei was so baie bly om te hoor hy is weer tuis.


Die brak blaf opgewonde en spring vrolik rond en bont

En die boer gee dan ook altyd ‘n lekker happie vir die hond.


Die hondjie blaf en rol en speel en die boer geniet dit so

Die donkie sien die aandag en besluit “O ja, dis bo!”


Die donkie trippel nader en gee ‘n groot “hee-hô”

Ek weet dit raas verskriklik, maar donkies klink maar so.


Hy’t gehoop hy kry ook ietsie, dalk ‘n happie om te eet,

Maar hy was diep teleurgestel, hy’s duidelik van vergeet.


Die donkie het gestaan en kyk hoe word die hond se pens gekrap

En sommer self ‘n plan beraam soos hy rustig werflangs stap


Hy’t gewonder hoe hy self dalk ook ‘n persentjie kan verdien

En dadelik hierdie plan probeer toe hy die boer weer sien.


As die hondjie so beder word vir alles wat hy doen

Dan kan hy wat die donkie is mos ook die boer gaan lek en soen!


Hy’t vinnig aangetrippel en gee jou wrintiewaar ‘n blaf!

Hy swaai sy stert, sy tong hang uit, soos ‘n hondjie – sommer laf!


Die donkie gaan lê op sy rug, en skop en tjank en woel,

Maar die boer kyk nie eers op nie, gaan sit net op sy stoel.


Die donkie staan mismoedig op en hardloop deur die hele plek, 

Eindig op die boer se skoot, begin hom sommer lek!


Die boer was so verbaas hy kon net roep “Ag nee, man. Stop!”

En skielik besef die boer toe hoekom tree donkie so op.


“Daar verstaan ek nou,” sê hy en streel hom met die hand. 

Hy weet nou sommer beter hoe het hul hier beland.


Hy vryf die donkie saggies, met sy donkiestert wat piets,

“Jy’t gedink as jy ‘n hond kan wees, dan kry jy ook dalk iets.”


“Ek was onregverdig, ek was regtig sommer dom,

Ek moet mos vir jou ook wys hoe baie gee ek om.”

 

Jy hoef nie ‘n hond te word nie, want dit is jy nie!

Ek’s lief vir jou, net soos jy is, maak nie saak wat sê wie. 


En van toe af elke liewe keer wat die boer terug is op sy plaas, 

Haal hy ‘n groot, vet wortel uit, as hy die donkie bly hoor raas.