Wilhelm Tell
Die storie wat ek jou nou gaan vertel, is ’n legende wat dalk waar is… en dalk nie. Dit speel af in Switserland. Vandag dink baie mense aan Switserland as ’n gelukkige plek, met sneeubedekte berge, heerlike Switserse sjokolade, kaas met groot gate daarin, handige Switserse weermagmesse, en Sint-Bernardhonde wat klein vaatjies brandewyn om hul nekke dra om verdwaalde reisigers in die sneeu te red. Maar dit was nie altyd so ’n gelukkige plek nie.
Eeue gelede is die mense van Switserland regeer deur ’n verskriklike tiran met die naam Albrecht Gessler. Hy was wreed en het hulle lewens ellendig gemaak! ’n Regte nare ou! Hy het daarvan gehou wanneer mense voor hom buig en kruip. Dit het hom plesier verskaf om hulle klein te laat voel sodat hy self groot kon voel. Die probleem was net—hy het ook baie daarvan gehou om luilekker by sy huis voor sy vuur te sit en niks te doen nie. Daarom het hy met ’n plan vorendag gekom wat hom in staat sou stel om deur almal geprys te word… sonder dat hy ooit sy huis hoef te verlaat.
Hy het met ’n prosessie van bang onderdane die dorp binnegestap. Hy het hulle beveel om ’n lang paal, asook pikke en grawe saam te bring. Toe hulle by die dorpsplein aankom, het hy hulle beveel om ’n oop spasie in die middel van die mark te maak. Daar het hy sy voet in die middel van die plein neergesit, na sy diensknegte gedraai en geskree: “Grawe ’n gat, net hierso, sommer so ses voet diep!”
Die diensknegte het gehoorsaam begin grawe terwyl Gessler en die nuuskierige skare toegekyk het. Kort voor lank was die gat klaar.
“En nou,” het Gessler beveel, “sit julle my hoed bo-op die paal. Begrawe dan die onderkant van die paal daarso in die gat.”
Die werkers het gedoen soos hy gesê het, en binnekort het die paal regop in die middel van die mark gestaan, met Gessler se hoed bo-op. Dit was ’n baie deftige hoed, vol goue borduurwerk en kleurvolle vere wat uitsteek. Hy het gedink dit laat hom baie belangrik lyk.
Toe het hy een van sy bang diensknegte beveel om op sy hande en knieë te gaan staan. Gessler het bo-op sy rug geklim, asof hy ‘n verhogie was, en uitgeroep: “Mense van Switserland! Luister mooi! Julle weet ek verwag lojaliteit te alle tye! Maar ek wil nie altyd in hierdie vuil mark wees nie. Van nou af moet elke persoon in hierdie dorp—en elke besoeker—voor my hoed buig! Verstaan julle my duidelik?!”
Die skare het onseker gemompel. Maar bo die geraas kon harde gelag gehoor word.
“Stilte!” het Gessler geskree. “STILTE!!!”
Die skare het stil geraak, maar die gelag het aangehou. “Wie durf vir my lag?!” het hy gebrul.
“Dit is ek, Wilhelm Tell,” het ’n diep, sterk stem geantwoord.
Die skare het oopgeskuif en daar tussen hulle staan ’n fris, bebaarde man , met arms gevou en ’n maer seun langs hom. Hy het Gessler van onder sy digte wenkbroue aangegluur en gesê: “Ek sal nooit voor jou of jou hoed buig nie!”
Die skare het na hulle asems gesnak. Gessler het woedend afgestap, sy wagte ontbied en na Wilhelm gestorm.
Gessler was ’n kort man en het net tot by Wilhelm se naeltjie gekom, daarom het hy sy sterkste wag beveel om hom op te lig sodat hulle oog tot oog kon wees.
“Wilhelm Tell!” het hy gesê, “Ek ken jou! Ek sal nie sulke opstandige onbeskofheid duld nie. Ek is jou meester—jy sal buig!”
“Beslis nie, klein mannetjie,” het Wilhelm kalm gesê. “Dit is nie jou dorp nie. Dit is my dorp. Ons dorp!”
Die skare het gejuig. Gessler het bang geword—want hy het geweet as een mens hom utdaag, sal ander die ook doen. Hy moes ’n voorbeeld van Wilhelm maak.
Wilhelm Tell was ’n beroemde jagter uit die berge—die beste skut met ’n kruisboog in die hele land. Gessler het dit geweet en ’n wrede plan beraam.
“Sulke vermetelheid sal nie geduld word nie!” het hy geskree. “Maar ek is ’n genadige meester…”
Hy het homself laat neersit en na die maer seun—Wilhelm se seun—gestap. Hy het hom gegryp en eenkant toe gesleep.
“Staan hier!” het hy beveel.
Toe stap hy na ’n vrugteverkoper en gryp ’n groen appel. Hy het dit versigtig op die seun se kop gesit.
“En nou vir jou,” het hy gesê en na Wilhelm gedraai. “Jy het een kans—net een! As jy die appel van sy kop afskiet met jou kruisboog, sal julle albei gespaar word. Maar jy mag net EEN pyl gebruik! Mik jy te hoog, mis jy. Mik jy te laag…” hy glimlag lelik, “…wel, jy weet wat sal gebeur.”
Die skare het na hulle asems gesnak.
Die seun se gesig was vol vrees. Wilhelm het na hom gekyk.
“Moenie bang wees nie, my seun,” het hy geroep. “Maak jou oë toe. Staan stil. Vertrou my.”
Die seun het kalm geword. Hy het geweet sy pa is die beste skut wat daar is.
Die plein was doodstil. Wilhelm het ’n pyl geneem en sy kruisboog gelaai. Hy het sy voete stewig geplant en gemik. Hy het sy seun liefgehad bo alles. Hy moes die appel tref. Sy hande mag nie bewe nie.
Hy kon sy hart hoor bons. Hy het na sy seun se kalm gesig gekyk… en self kalm geword.
Die skare het asem opgehou.
Wilhelm het gemik… en geskiet!
Die pyl het deur die lug gesuis, pylreguit, en die appel middeldeur gekloof. Die twee helftes het weerskante van die seun se kop op sy skouers geval!
Die skare het uitgebars in ‘n klipharde gejuig! Die seun het sy oë oopgemaak en sy pa het na hom gehardloop en hom omhels.
Maar Gessler het iets anders gesien - tweede pyl wat uit Wilhelm se jas geval het. Hy het dit vies opgetel.
“Bedrog!” het hy geskree. “Waarom het jy nóg ’n pyl?!”
Wilhelm het omgedraai en gesê: “As ek mis geskiet en my seun op enige manier seergemaak het, was daardie tweede pyl… vir jou!”
Die skare het weer kliphard gejuig en Wilhelm het sy seun op sy skouers getel.
Gessler het woedend sy wagte beveel om aan te val en in hegtenis te neem. Hulle het huiwerig gehoorsaam. Maar Wilhelm Tell het nie terug baklei nie. Gessler het wel probeer om Wilhelm Tell te straf… maar nie vir lank nie.
Jy sien, Wilhelm Tell het sommer maklik ontsnap.
En Gessler is nooit weer in Switserland gesien nie.
Miskien het hy gevlug… of miskien het daardie tweede pyl hom vir altyd stilgemaak.
Wat ook al gebeur het—die mense van Switserland was vry… danksy Wilhelm Tell en sy dapper seun.