Die Klein Mensies se Geskenke
In die tye voor motorkarre, busse en treine, het mense te voet gestap na waar hulle moes wees. Eendag was 'n kleremaker en 'n goudsmid saam op reis. Laat een middag, net toe die son agter die berge begin wegsak, het hulle die klank van musiek vanuit die verte gehoor. Hoe nader hulle gekom het, hoe duideliker het die wysie geword
“Dit klink effe vreemd,” sê die kleremaker.
“Maar nogal lekker,” antwoord die goudsmid.
Hulle het sommer heeltemal van hulle moegheid vergeet en begin stap, vasbeslote, in die rigting van die musiek. Teen die tyd wat hulle by die bron van die vreemde melodieë uitkom, was die maan al besig om oor die rante te loer. Maar hulle het nie vir die maan gekyk nie! O nee. Want reg voor hulle was 'n skare klomp mannetjies en vroutjies. Hulle het mekaar se hande vasgehou, en al in die rondte gedans terwyl hulle vrolik en uit volle bors sing. Dit was die musiek wat die twee reisigers van ver af gehoor het.
'n Ou man, wat so ‘n klein bietjie groter as die ander was, het in die middel van die sirkel gesit. Hy het 'n veelkleurige baadjie aangehad, en sy lang grys baard het tot op sy bors gehang. Die twee reisigers het verbaas na die toneel voor hulle gestaar, maar toe het die oompie vir hulle gewink om by hulle aan te sluit, en die ander klein mensies het hul kring oopgemaak.
Die goudsmid het sonder of twee keer te dink sommer dadelik ingespring om saam te dans. Die kleremaker was eers 'n bietjie meer teruggetrokke en huiwerig, maar toe hy sien hoe lekker dit is, het hy ook ingespring om saam te dans.
Hulle het die kring weer gesluit, en die klein mensies het wild gesing en gedans. Toe vat die ou mannetjie 'n skitterblink breë mes wat aan sy belt hang, en begin dit teen ‘n slypsteen slyp. Toe dit skerp genoeg is, kyk hy die twee vreemdelinge strak aan. Eers het hulle hulle byna boeglam geskrik, maar toe gryp die mannetjie die goudsmid en ‘n japtrap skeer die ou man al die hare op sy kop en sy baard glad, teen die vel af. En daarna, doen hy presies dieselfde met die kleremaker.
Hulle vrees het sommer verdwyn toe die oubaas hulle vriendelik op die skouer klop, asof hy wou sê dat hy trots is op vir die feit dat hulle hulle nie teëgesit het, of hom probeer keer het nie. Toe wys hy met sy vinger na 'n hoop steenkool daar naby en beduie dat hulle hulle sakke daarmee moet volmaak. Hulle het nie juis geweet wat hulle met ‘n klomp steenkool moes doen nie, maar hulle was nie van plan om met die oom te stry nie. Daarna was hulle weer op pad om 'n slaapplek vir die nag te soek.
“Jy lyk darem te snaaks met jou hare en baard wat af is!” lag die kleremaker.
“Jy moet praat, kyk hoe lyk jy!” grinnik die goudsmid.
Hulle het pas in die vallei aangekom toe die klok van 'n nabygeleë klooster twaalfuur slaan. Die gesang wat uit die klooster gekom het het opgehou, en hulle het alleen in die maanlig agtergebly. Hulle kon darem in die maanlig hulle pad tot by die klooster vind, en daar kon hulle darem vir die nag skuiling kry. Daar was vir hulle eenvoudige beddens van strooi en hulle het sommer hulle baadjies as komberse gebruik en hulle daarmee toegemaak. Hulle was so moeg dat hulle heeltemal vergeet het om die steenkool uit die baadjies se sakke te haal.
Die volgende oggend het die twee van hulle vroeër as gewoonlik wakker geword, elkeen met 'n swaar gewig wat op hulle druk. Hulle voel aan die baadjies, steek hulle hande in die sakke en kon skaars hul oë glo toe hulle sien wat daarin is. “Ons sakke is nie vol steenkool nie, maar vol suiwer goud!”
“En ons hare!” roep die goudsmid uit toe hy eers na sy vriend, en toe na homself in ‘n dowwe spieel kyk. “Ons hare en baarde het heeltemal teruggegroei!”
“Ons is ryk!” het hulle bly uitgeroep.
En ryk was hulle inderdaad! Die goudsmid het egter twee keer soveel goud as die kleremaker gehad, want – getrou aan sy gierige aard – het hy sy sakke baie voller geprop.
En ongelukkig is dit nou maar so dat hoe meer 'n gierige mens het, hoe meer wil hy hê. Daarom sê die goudsmid vir die kleremaker: “Kom ons gaan vanaand weer na die klein mensies toe sodat ons nog meer by die ou oompie kan kry.”
Die kleremaker wou niks daarvan weet nie. “Ek het genoeg goud. Ek is heeltemal tevrede. Ek gaan 'n meesterkleremaker word, met my meisie trou en 'n gelukkige man wees.”
“Aag toe man! Net nog een nag!” het die goudsmid gepleit.
Hy het aanhoudend geneul en gekerm tot die moedelose kleremaker ingestem het om nog een dag te bly en vir hom by die klooster te wag. Dié aand hang die goudsmid sommer ‘n hele klomp sakke oor sy skouers, om soveel as moontlik te kan dra, en hy kies koers na waar hulle die vorige dag die klein menses teëgekom het.
Net soos die vorige nag, kry hy die klein mensies weer waar hulle dans en sing. Die ou mannetjie skeer weer sy baard en sy kop so glad dat dit glinster, en beduie dat de goudsmid vir hom van die steenkool mag vat.
Sonder om te huiwer, pak hy soveel in as wat sy sakke kan hou, en stap tevrede, maar swaar en moeilik van al die steenkool, terug klooster toe.
Terwyl hy sy baadjie oor hom trek, sê hy: “Ek sal hierdie swaarkry met liefde verdra as dit teen môre goud is wat so op my druk.”
Met die gedagte dat hy die volgende oggend as 'n uiters ryk man wakker sou word, raak hy gou aan die slaap.
Toe hy die volgende oggend sy oë oopmaak, spring hy vinnig op om sy sakke te deursoek. Maar tot sy groot verbasing en nog groter teleurstelling, is al die sakke vol niks anders as swart hompe steenkool nie. Hy voel dieper in sy sakke en trek weer net 'n handvol steenkool uit.
“Nou ja, ek het darem nog die goud van gister,” dink hy en gryp daarna.
Met afgryse sien hy dat dié goud óók weer in steenkool verander het. Hy slaan homself met sy pikswart besmeerde hand teen die voorkop van moedeloosheid, En daar voel hy toe.... Niks!
“My hare!” skree hy en smeer sy hele gesig vol steenkool-vingersptrepe soos hy voel – alles is so glad soos ‘n baba se boud!
Toe hy besef dat hy vir sy gierigheid gestraf is, het hy sommer net dar btterlik begin huil
Die goeie kleremaker, wat deur al die bohaai wakker gemaak is, het sy snikkende vriend so goed hy kon getroos en gesê: “Jy was my reisgenoot. Jy kan maar saam met my kom, by my woon en saam van my skat leef.”
Die goedhartige kleremaker het sy woord gehou, maar die arme goudsmid se hare het nooit weer terug gegroei nie. Gelukkig het hy ‘n goeie kleremaker vriend gehad wat vir hom ‘n mooi pet kon maak om sy kaal kop weg te steek.