Soet Pap

Eens op ‘n tyd was daar ‘n arm weduwee wat net een dogter gehad het - ’n kind so goedhartig en saggeaard dat almal wat haar geken het, sommer baie lief was vir haar.

Eendag het die dogter die woud ingestap om vuurmaakhout bymekaar te maak. Sy was baie  in ‘n baie hartseer bui, want daar was byna niks meer om te eet in die huis nie. Daar was so min dat sy en haar ma dikwels honger moes gaan slaap.

Sy het reeds ’n hele bondel takke opgetel en was op pad huis toe, toe sy ’n arm ou vrou sien wat ook hout kom soek het. Die vrou was so krom en styf dat dit die dogter hartseer gemaak het om te sien hoe die tante  sukkel. Die kind het haar jammer gekry en wou haar help.

“Liefste Tannie,,” sê sy, “laat ek asseblief die hout vir jou optel; dit moet sekerlik baie moeilik en ongemaklik wees om so te buk.”

Sy sit haar eie bondel neer en tel soveel hout vir die ou vrou op as wat sy kan dra.

“Ek sou dit graag vir u huis toe dra,” sê die dogter, “maar my ma wag vir my, en ek moet gou maak, want ek is reeds laat.”

“Kind,” sê die ou vrou, “jy het ’n goeie hart, en jy verdien ’n beloning.” Toe haal sy onder haar mantel ’n klein ysterpotjie uit. “Vat hierdie,” sê sy. “Dit is ’n towerpot. Wanneer jy honger is, hoef jy net te sê—

‘Kook, klein potjie, al is ek arm,
maak die pap sommer baie lekker warm,’

en dan sal dit begin kook en homself vul met soet pap. Wanneer jy genoeg gehad het, sê—

‘Daarsy, potjie, hou op kook,

Die pap is gaar en warm ook.’

Dan sal dit ophou kook.”

Sy laat die kind die woorde ’n paar keer herhaal om seker te maak sy onthou dit, gee vir haar die pot, en strompel toe weg deur die woud met die tamaai hoop  hout op haar skouers.

Die kind was oorstelp van blydskap by die gedagte dat sy en haar ma nou nooit weer honger sou wees nie. Sy hardloop so vinnig as wat sy kan huis toe, met die pot styf in albei hande vas.

Toe sy instap, vra haar ma: “Waar is die hout?”

“Ek het iets beter as hout gebring, Mamma!” roep die kind uit. “Hout maak ons net warm, maar hier is iets wat ook ons magies vol sal maak!”

Sy sit die pot op die tafel en sê:

‘Kook, klein potjie, al is ek arm,
maak die pap sommer baie lekker warm”

Dadelik begin die pot borrel en kook, en gou is dit vol en loop oor van soet pap. Die weduwee gryp ’n lepel en skep pap in ’n bak, maar hoe meer sy uitskep, hoe meer bly daar oor. Toe al die bakke in die huis vol is, sê die kind:

“Daarsy, potjie, hou op kook, Die pap is gaar en warm ook”

En die pot hou onmiddellik op kook.

Die weduwee was oorstelp van vreugde oor die skat wat die kind huis toe gebring het. “Kom,” roep sy, “kom ons sit en eet!”

“Ja, liewe Ma,” sê die kind, “maar eers wil ek van die pap vir die bure neem wat so goed was vir ons toe ons niks gehad het nie.”

Sy maak ’n groot pot vol pap en vertrek daarmee, maar skaars is sy weg toe begin die weduwee wonder of hulle genoeg vir hulself oorgehou het. Sy voel ontevrede en sê toe vir die pot:

‘Kook, klein potjie, al is ek arm,
maak die pap sommer baie lekker warm”

Onmiddellik begin die pot weer borrel en kook. Gou is dit vol, en die pap begin oor die kante stroom.

“Ha-ha!” lag die weduwee, nou tevrede met haar nuwe skat. Maar toe sy die pot wil laat ophou kook, besef sy sy het vergeet wat om te sê!

“Genoeg!” roep sy. “Stop! Hou op! Hookaai!” maar die pap kook steeds oor die rand van die pot.

Sy gryp weer die lepel en begin soos blits skep.

“Ag tog!” kla sy. “Hoekom wil dit nie ophou nie? Gebruik ek dalk die verkeerde woorde?” Sy begin ander dinge probeer: “Hou op! Eindig! Stop! Wag! Staak!” en dan nog: “Ho, genoeg nou! Hou op, hoor jy my!”

Gou is al die potte en panne in die huis vol warm pap, en steeds kook die pot aan.

In haar wanhoop probeer sy selfs ander tale:

Frans: Arrêt!
Hindi: Viraam!

Italiaans: Basta!
Duits: Halt!
Chinees: Tingzhi!
Spaans: Para!
Russies: Ostanovka!

Maar niks help nie!

Teen hierdie tyd staan die pap al tot by haar middellyf in die huis. Ongelukkig kon die weduwee nie so goed swem soos sy tale praat nie, en sy kon haarself nie uit hierdie gemors praat of swem nie!

Uiteindelik gryp sy die pot en gooi dit by die deur uit, maar die pap stroom in ’n groot, taai rivier daaruit en vloei die pad af.

Haar dogter, wat op pad huis toe was, hoor ’n nat, suigende, slurpende geluid onder haar voete. Sy kyk af en besef dadelik wat gebeur het. Die paprivier is so sterk dat sy nie by die huis kan inkom nie. Maar haar buurman, die smid, staan en kyk verstom daarna, en dit gee haar ’n idee.

“Smid! Asseblief!” roep sy. “Ek het jou hulp nodig! Gooi my asseblief tot by my voordeur!”

Die smid was altyd bereid om te help. Hy rol sy moue op en wys sy groot, gespierde arms. Toe gryp hy die dogtertjie aan haar voete en draai haar rond en rond en al vinniger en vinniger - tot hy haar los!

Sy suis kop eerste deur die lug en land reg langs die pot in die sagte, taai pap. Sy snak na asem toe sy haar kop uit die rivier van pap uitlig en roep:

“Daarsy, potjie, hou op kook, Die pap is gaar en warm ook”

Dadelik hou die pot op kook!

Sy gee ‘n groot sug van verligting. Toe hoor sy ’n sagte gekerm uit die huis. Dit is die weduwee, wat in die pap rondspartel, met net ’n paar sentimeter lug tussen die pap en die dak om asem te haal.

Die slim dogtertjie weet presies wat om te doen! Sy klim op die dak en roep hard: “Almal! Kom help! En bring julle grootste bakke en opskeplepels!”

Gou is die huis omring deur honderde dorpenaars wat stadig hul pad deur die muur van pap oop eet en skep. Met elke hap sak die vlak van die pap, totdat die weduwee uiteindelik bevry is!

Van daardie dag af het die weduwee nooit weer gewaag om self vir die pot te sê om te kook nie. Wanneer hulle pap wou hê, was dit die kind wat gepraat het. Maar van toe af het sy en haar ma nooit weer gebrek gely nie, en die pap was so lekker dat mense van heinde en verre gekom het om saam met hulle te eet. En hulle het met liefde gedeel. 

Die Einde