Die Slag van Thermopylai
Die Slag van Thermopylai
Vandag se storie begin met ‘n ou profesie, of voorspeling.
“O manne wat woon in die strate van trotse Sparta!
Eer die fees van die Carneia! Anders sal julle glorieryke stad geplunder word deur die kinders van Perseus…
Of – in ruil daarvoor – sal heel Sparta rou oor die verlies van ’n koning, ’n afstammeling van die groot Herakles.”
Ons storie speel af in Ou Griekeland. By ‘n plek genaamd Thermopylai.
’n Plek so warm en vol swael dat mense geglo het dit was die ingang na Hades self – die onderwêreld van die dooies. Die plaaslike mense het dit die “Helpoort” genoem. Maar vir koning Leonidas en sy dapper groep van driehonderd Spartane was dit iets anders:
Dit was die plek van hulle laaste weerstand teen die tirannie van die groot em magtigge keiser van Persië, Keiser Xerxes en sy reuseleër.
Daardie leër was só groot dat die aarde onder hulle sandale gebewe het as hulle marsjeer. Dit was ’n leër saamgestel vir een doel: verowering.
Daar was olifante en boogskutters, gepantserde renosters, spiesgooiers, swaardvegters, towenaars, eerwagte en selfs die geheimsinnige “Onsterflikes”. Maak nie saak hoe hard enigiemand teen hulle geveg het nie, hulle was net altyd meer en meer. Die antieke geleerdes vertel dat Xerxes se leër so groot was dat toe hulle by die Echedorosrivier aankom, die soldate die rivier heeltemal leeggedrink het!
Hul marsliedere was ‘n dramatiese, melodieuse gedreun van trompette en dromme, ghongs en simbale – so hard dat dit die gode self kon wakker maak!
Oral waar hulle gegaan het, het koninkryke geval soos koring voor ’n sekel.
Maar toe ontmoet hulle die dapperste vegters van almal – die Spartane.
Mans van staal en eer, gelei deur ’n koning so dapper dat hy self voor geveg het, skouer aan skouer met sy manne.
Leonidas was geen dwaas nie. Hy het geweet dat hulle waarskynlik nie sou terugkeer huis toe nie. Daarom het hy slegs soldate gekies wat reeds seuns gehad het – sodat Sparta se families kon voortleef.
“Manne!” het hy geroep. “Môre mars ons na die Helpoort! Om ons land te beskerm teen Xerxes se wreedheid! En deur ons dade sal hy leer – daar is niks in hierdie lewe wat so hard veg soos ’n Spartaan met sy rug teen die muur nie!”
Die manne het gejuig en gelag, want hulle was nie bang vir die dood nie – vir ’n Spartaan was dit eer.
Een ouer soldaat, met ’n skelm glimlag, vra toe:
“Maar koning, wat van die vyand se pyle? Hulle sê daar sal soveel wees dat ons nie eers die son sal sien nie!”
Leonidas het gelag. “Wel, dapper Spartaan… sal dit dan nie lekker wees om in die koelte te veg nie?”
Daardie nag het hulle rustig geslaap en gedroom van wat voorlê.
Nog voor sonsopkoms was hulle al op pad – in stilte, in pas, met hulle spiese oor die skouer, hulle swaarde by die sy, en hulle brons skilde blink in die oggendlig.
Aan hulle linkerkant was ’n reuse rotswand, en regs ’n afgrond wat eindig in die donker see ver onder.
Hier, by hierdie smal pas – skaars breed genoeg vir twee strydwaens langs mekaar – sou hulle hul stand maak.
“Spartane! Vorm julle linies!” roep Leonidas.
Soos een man het hulle beweeg – ry na ry van spies en skild, wagt end vir Xerxes se leër.
Lank voordat hulle die vyand kon sien, kon hulle hulle al hrrr. Die grond het gebewe, klippies het losgekom en teen die kranse afgerol, en ‘n dik stofwolk het in die lug gehang. Olifante het getrompetter, dromme het gedreun, en swepe het geklap om die diere van oorlog vorentoe te dryf.
Toe Xerxes op sy troonstoel, gedra deur slawe, die klein groepie Spartane sien, het hy gelag.
Wat is dit?” het hy uitgeroep. “Miere onder die voete van my leër? ’n Vlieg wat om my kop suis? Gee pad voor my, Spartane, en miskien sal ek genadig wees. Indien nie – sal ek julle almal verwoes!”
Die Spartane het hom uitgejou.
“Stilte!” brul Xerxes, kwaad oor hulle durf om met hom die spot te dryf. “Handig julle wapens oor!”
Leonidas haal sy helm af, stap vorentoe en roep:
“Jy het so ver gemarsjeer. Al die pad van Persië tot hier. En nou moet ons dit net vir jou gee? Ek sê jou wat: Kom haal die wapens dan self!”
Xerxes skuim amper om sy mond van woede. “Boogskutters! Verberg die son en verdonker die lug!”
‘n Volle vyfduisend pyle suis deur die lug soos kwaai bye, reguit af op die linies Spartane wat styf teen mekaar staan. Maar die Spartane sak af, skilde oor hul koppe, en dit vorm ‘n beskermende deksel oor die manne. Die pyle het soos dodelike reëndruppels rondom hulle geval, maar nie ‘n enkele nie een man is getref nie.
“Falanx!” beveel Leonidas.
Hulle staan, skilde styf teen mekaar, spiese vorentoe – ’n muur van brons skilde en spiese.
Hulle spiese steek deur die klein gapings tussen die skilde, en hulle wag vir die eerste aanslag.
Xerxes se eerste aanval breek teen hulle soos golwe teen ’n rots. Teen sononder lê tienduisend Perseërs verslaan – en nie een Sparta an het geval nie.
Die volgende dag vra Xerxes woedend:
“Hoe kan driehonderd manne die aanslag en skerp lemmer van tienduisend krygers oorleef?”
As julle nie vandag ‘n oorwinning verseker nie, sal julle die volgende aanslag self lei – van heel voor af!
Die Son het opgekom en die soldate het hulle plek ingeneem. Daar is beledigings heen en weer geslinger, almal het deel geneem in die veldslag, en teen die aand het die Spartane steeds voor die Helpoorte gestaan, onoorwonne en met nie ‘n enkele Persiërs naby nie.
Maar toe hy weer aanval, hou die Spartane steeds stand.
Daardie nag stap Leonidas tussen sy manne. “Onthou,” sê hy sag, “julle is die seuns van Sparta. Wat ook al môre gebeur – ek is trots om julle koning én broer te wees.”
Aan die ander kant van die vallei was dinge anders. Xerxes het gebrul en geraas, sy bevelvoerders laat onthoof omdat hulle misluk het.
“Nog nooit in my lewe het ek soveel onhandigheid gesien nie! ‘n Paar manskappe, nie eers soveel soos ‘n hand vol sade nie, het nie net een keer nie, maar twee keer ons aanval afgeweer en geen oorlewendes gelaat nie. “Môre moet ons wen – al kos dit die helfte van my leër!”
Daardie nag ontdek ’n Perseër ’n smal bokpaadjie wat agter die bergpas om loop. Xerxes stuur onmiddellik ’n mag van mans om die Spartane van agter aan te val.
Toe die son die volgende oggend oor die rooibronserige bergtoppe van Sparta opkom, het die driehonderd in ’n sirkel gestaan – gereed om hulle lot in die gesig te staar.
Die Perseërs val van voor én van agter aan, en ten spyte van die Spartane se verwoede verdediging raak hulle stadig maar seker al hoe minder, soos Thanatos, die god van die dood hulle een vir een kom haal.
Hulle spiese breek, hulle skilde spat uitmekaar, en hulle kort steekswaarde siep links en regs, maar hulle was vasgekeer tussen twee aanslae van die Persiërs. Hulle getal krimp van driehonderd… na tweehonderd… na honderd… totdat daar net ’n handvol oorbly – rondom hul koning.
Die geskiedskrywer Herodotos het later geskryf:
“Daar het hulle tot die laaste man geveg – sommige met hul swaarde, ander met hul hande en tande – totdat hulle uiteindelik oorweldig is.”
En so het koning Leonidas van Sparta gesterf, omring deur die liggame van vriend en vyand en die magtige Xerxes het voort marsjeer, deur die lande van die die Vrye Volke.
Maar Leonidas was nooit vergete nie.
As jy vandag na Griekeland sou reis en die stowwerige pad volg na die plek wat hulle die Helpoort noem, sal jy ’n standbeeld sien van koning Leonidas – trots, sterk, en onwrikbaar.
Op die klip by sy voete staan hierdie woorde:
“Gaan vertel aan die Spartane, vreemdeling wat verbykom,
dat ons hier lê – gehoorsaam aan hul wette.”