Die Drie Wense
Lank, lank gelede, het ’n arm houtkapper saam met sy vrou in die woude van Knysna gewoon. Dit was lank voordat daar groot dorpe en stede met werk in fabrieke of kantore was, en die houtkapper moes dag na dag vreeslik hard werk om genoeg bome af te kap sodat hy die hout kon verkoop om vir hom en sy vrou te sorg.
Dit was harde werk en dit het vir hom gevoel of dit net nooit ophou is nie. “Maak nie saak hoeveel bome ek afkap nie,” het hy gekla, “dit voel altyd asof dit nie genoeg is. Hy’t net genoeg hout verkoop vir hulle om ‘n eenvoudige lewe te lei, in ‘n eenvoudige hut naby die bos. En soms moes hulle selfs honger gaan slaap.
Een dag, terwyl hy moeg deur die bos sukkel, het hy op ’n reusagtige ou geelhoutboom afgekom.
“Goeiste!” het hy uitgeroep toe hy na die indrukwekkende ou boom opkyk. “’n Lekker groot boom soos hierdie sal maklik genoeg geld inbring om vir my en my arme vrou vir ’n hele maand, nee, sommer ‘n paar maande, kos te koop.”
Hy het sy groot byl uitgehaal en dit hoog opgelig, Reg om die eerste hou te gee en die boom te begin afkap.
Maar skielik het hy ’n stem gehoor. “Ag, asseblief, moenie! Jy kan dit nie doen nie! “
Daar bo hom het ’n piepklein wesentjie heen en weer in die lug gevlieg. Sy het soos ’n baie klein mensie gelyk, omtrent so groot soos ’n groot tekkie, kom ons sê ‘n 8 of ‘n 9. Maar hierdie wesentjie het nie skoene aangehad nie. Sy het wel ’n rokkie van blare gedra, en ’n fyn blommekrans op haar kop. Maar die wonderlikste van alles was die paar skoenlappervlerkies op haar rug wat die hele tyd bly fladder het.
Sy was ’n feetjie!
“Asseblief,” het sy hom gesmeek. “Spaar my boom. Dit is my huis. Ek sorg al meer as ’n eeu lank vir hierdie boom.”
Die houtkapper was heeltemal verstom en kon vir ’n oomblik geen woord uitkry nie. Al was hy desperaat om die boom af te kap, was hy ’n goeie man en kon hy homself nie sover kry om sy byl te swaai nie. Die feetjie het so hartseer gelyk. Hy kon die nie aan haar doen nie.
Hy het die byl laat sak en geantwoord: “Ek sal doen wat jy vra.”
Die feetjie het ’n sug van verligting geslaak.
“Baie, baie dankie, liewe houtkapper,” het sy gesê. “Om jou te wys hoe dankbaar ek is, sal ek vir jou drie wense gee. Wat ook al jy en jou vrou wens, sal waar word!”
Toe het ’n piepklein deurtjie in die bas van die boom oopgegaan, en die feetjie het binne-in die boomstam in verdwyn.
“Drie wense!” het die houtkapper gesê. “Dit kan nie wees nie!”
Omdat hy nie regtig in towerkrag en sulke stories geglo het nie, het hy verder en dieper die bos ingegaan op soek na ander bome wat hy kon afkap.
Teen die einde van die dag was hy uitgeput. Hy het so hard gewerk dat hy heeltemal van die feetjie vergeet het. Hy het sy byl oor sy skouer getel en huis toe gestap met die bietjie hout wat hy kon kry.
Toe hy by die huis kom, was al waaraan hy kon dink om iets in sy honger maag te kry en saam met sy vrou by die vuur te sit en gesels.
“Wat eet ons vanaand?” het hy sy vrou gevra.
“Dieselfde as gewoonlik,” het sy gesê. “Dun groentesop en harde bruinbrood.”
“Ai tog!” het die houtkapper gesug. “Ek wens ek kon net vir ‘n verandering ‘n lekker sappige stuk boerewors hê om te eet.”
Sy woorde was skaars koud, of daar verskyn die grootste, vetste, sappigste en heerlikste stuk boerewors wat hy nog ooit gesien het, reg oor hom op die tafel.
“Wat op dees aarde!?” het sy vrou verbaas uitgeroep.
Toe onthou die man sy ontmoeting met die feetjie, en hy vertel sy vrou alles daarvan.
Hulle het nog twee wense oorgehad!
“Ai tog, jou pampoenkop!” het sy gesnak. “Wat ’n mors van ’n wens! Hoe kon jy so ’n simpel wens maak? ‘n Wens gemors op ‘n stuk boerewors? Terwyl jy kon wens vir goud of geld! Ek wens sommer hierdie wors sit aan jou neus vas!”
Sy’t dalk gedink sy maak ‘n grap, maar ‘n wens is ‘n wens. Die wors het van die kombuistafel af opgestyg en deur die lug gevlieg, tot reg op haar man se neus.
Die houtkapper en sy vrou was sprakeloos. Hulle kon net verskrik kyk hoe die enorme wors, druppend van die sous, heen en weer swaai, stewig aan die houtkapper neus vasgeplak!
“Hoe kon jy iets so simpel loop staan en sê!?” het hy verskrik uitgeroep.
“Ek is jammer! Ek is só jammer!” het sy gesê, vol berou.
“Ek soek my neus terug. Sonder die wors! Kry dit af! Kry dit af!”
Hy het self aan die wors gepluk, maar dit het stewig vasgesit. Sy vrou het ook getrek, maar die wors wou steeds nie loskom nie. Intussen het die hond baie geïnteresseerd in die storie ook begin naderstaan. Hulle het albei getrek totdat dit gevoel het asof hulle die arme houtkapper se neus sommer sou aftrek.
Maak nie saak hoe hard hulle probeer het nie, die wors wou nie afkom nie.
Uiteindelik was hulle heeltemal uitgeput, en moes hulle moedeloos opgee. Daar was die houtkapper en sy vrou, en die lang stuk boerewors al heen-en-weer swaaiend aan sy neus.
Hulle het nog net een wens oorgehad.
“En nou?” het hy gevra.
“Dit lyk darem nie só sleg nie...” het sy gesê en probeer om hom beter te laat voel. “Miskien kan jy daaraan gewoond raak?”
Die kyk in die houtkapper se oë het haar laat besef dat dit glad nie ’n opsie was nie. En buitendien het dit al hoe meer gelyk asof die hond homself nie meer lank in toom sou kon hou nie.
Hulle het ander moontlikhede begin bespreek.
“Ons kan vir ’n sak vol goud wens.”
“Of ’n koninkryk.”
“Of ’n groot plaas.”
“Of ’n miljoen meer wense!”
“Nee, nee, daardie een werk nooit nie!”
“Goed, goed, goed...”
Maar as hulle vir enige van daardie dinge gewens het, sou die man vir die res van sy lewe met ’n wors aan sy neus moes rondloop.
Die houtkapper het geweet dat daar net een manier was om van die wors ontslae te raak!
“Ek wens hierdie wors wil van my neus afkom!” het hy uitgeroep.
In ’n oogwink het die wors van sy neus verdwyn en op ’n bord op die tafel gelê.
Die arme houtkapper en sy vrou het nooit daardie sak vol goud, ’n koninkryk of selfs ’n groot plaas gekry nie.
Maar daardie aand het hulle al hul probleme vergeet en feesgevier omdat hy weer ‘n gewone neus gehad het. En die hoofdis by die feesmaal? Die heerlike stuk wors, natuurlik.