Die Musikante van Bremen
Een op ‘n tyd was daar ‘n man met 'n donkie wat hom vir baie lang jare getrou gedien het. Maar die donkie was baie oud en kon nie meer baie hard werk nie. Sy baas het toe gesê: "Hoeveel kan ek vir hierdie donkie kry?"
Die donkie, wat besef het dat daar moeilikheid op pad was, het koers gekies en die pad gevat na ‘n stad met die naam Bremen.
"Daar," het hy gedink, "kan ek 'n stadsmusikant word."
Nadat hy 'n entjie gehardloop het, het hy 'n hond langs die kant van die pad sien lê; al gapende soos iemand wat baie moeg is.
"Waarom gaap jy so, ou grote?" vra die donkie.
"Ag," antwoord die hond, "omdat ek elke dag ouer en swakker word. Ek kan nie meer my baas met die jag help nie. Hy het so kwaad geword dat ek weggeloop het; en nou weet ek nie hoe om my brood te verdien nie."
"Weet jy wat," sê die donkie, "ek is op pad na Bremen om 'n stadsmusikant te word; miskien kan jy saam met my kom en help met my musiek. Ek sal die kitaar speel, en jy kan die tromme speel."
Die hond was tevrede, en hulle het saam in die pad geval.
Sommer gou het hulle by 'n kat gekom wat in die middel van die paadjie gesit het, met 'n hartseer en somber gesig!
"Nou toe nou, ou katjie, wat is fout?" vra die donkie.
"Hoe kan 'n mens gelukkig wees as jy so oud en afgeleef is soos ek?" antwoord die kat. "Omdat ek ouer word en my tande stomp geword het, en omdat ek liewer by die vuur wil sit en slaap as om agter muise aan te hardloop, wou my baas van my ontslae raak; daarom het ek weggeloop. Nou weet ek nie wat om te doen nie."
"Kom saam met ons na Bremen toe. Jy verstaan die musiek van die nag, so jy kan ook 'n stadsmusikant wees."
Die kat het ingestem en saam met hulle gegaan. Die drie swerwers het kort daarna verby 'n plaaswerf gestap, waar 'n haan op die skuur se deur sit en uit volle bors kraai.
"Jy kraai so hard as wat jy kan," sê die donkie. "Waarvoor doen jy dit?"
"Die boer dink ek is te oud om te kraai," sê die haan, "en hierdie Sondag kom daar deftige gaste vir ete, en sy vrou het geen genade nie, so sy het vir die kok gesê om my in sop te verander; en vanaand sal my kop afgekap word. Nou kraai ek so hard as wat ek kan solank dit nog moontlik is."
"Weet jy wat, my liewe geveerde vriend," antwoord die donkie, "kom jy liewer saam met ons. Ons is op pad na Bremen om iets beter as die dood te vind. Jy het 'n goeie stem, en as ons saam musiek maak, sal dit wonderlik klink."
Die haan het met hierdie plan saamgestem, en so het al vier saam verder gereis. Maar Bremen was meer as ‘n dag ver, en in die aand het hulle by 'n woud gekom waar hulle beplan het om te slaap. Die donkie en die hond het onder 'n groot boom gaan lê, terwyl die kat en die haan in die takke geklim het.
Die haan het reg tot bo gevlieg, waar hy die veiligste was. Voordat hy gaan slaap het, het hy in alle rigtings rondgekyk en ‘n liggie in die verte gesien. Hy het sy vriende geroep en gesê: "Ons is nie ver van 'n huis af nie."
Die donkie het gesê: "As dit waar is, kan ons maar opstaan en daar gaan loer, want die weiding hier is baie swak."
En die hond het bygevoeg: "Ja, inderdaad! 'n Paar bene met 'n bietjie vleis op sou baie welkom wees!"
Dadelik het hulle hulle na die plek gehaas waar die liggie geskyn het. Dit het al hoe helderder geword totdat hulle by 'n helder verligte huis aangekom het. Maar dit was nie ‘n gewone huis nie. Dit was ‘n rowershuisie! Die donkie, wat die grootste was, het na die venster geloop en inloer.
"Wat sien jy, Donkie?" vra die haan.
"Wat sien ek?" antwoord die donkie. "’n Tafel wat gedek is met heerlike vleis, groente, vrugte en drankies, met rowers wat rondom sit en hulleself trommeldik eet."
"Dit is net die regte ding vir ons," sê die haan.
"Ja, ja, ek wens ons was daar," antwoord die donkie.
Die diere het toe beraadslaag hoe hulle die rowers kon verjaag, en uiteindelik het hulle 'n plan beraam. Die donkie het sy voorpote op die vensterbank gesit, die hond het op sy rug geklim, die kat het op die hond geklim, en uiteindelik het die haan op die kat se kop gevlieg. Toe dit gedoen was, het hulle begin om hul musiek op te voer:
Die donkie het gebalk.
Die hond het geblaf.
Die kat het gemiaau.
Die haan het gekraai.
Hulle het so 'n aardige en harde lawaai gemaak dat die ruite van die venster gebewe het! Die rowers, wat doodbang was vir die onnatuurlike geluide, het met ‘n groot skrik opgespring. Hulle was vas oortuig dat bose geeste gekom het om hulle te kom treiter en het die woud in gevlug. Die vier diere het dadelik by die tafel gaan sit en vinnig alles opgeëet wat oorgebly het.
Sodra hulle klaar was, het hulle die kers doodgeblaas en elkeen 'n slaapplek gesoek. Die donkie het in die strooi gaan lê, die hond agter die deur, die kat voor die kaggel naby die warm as, en die haan het op 'n dwarsbalk in die kamer gaan sit. Moeg van die lang staptog, het hulle gou aan die slaap geraak.
Om middernag het die rowers van hul wegkruipplek af teruggekom gesien dat daar geen lig in die huis brand nie en dat alles stil was. Toe stuur die leier een van sy bendelede om te gaan verken.
Die verkenner het die deur versigtig oopgestoot en het na die kombuis gegaan om 'n kers aan te steek. Maar daar het hy die blink, vuurrooi oë van die kat vir gloeiende kole aangesien en 'n vuurhoutjie daarteen gehou in die verwagting dat dit sou brand. Maar die kat het in sy gesig gespring, geblaas en gekrap, wat hom so laat skrik het dat hy na die agterdeur gehardloop het. Die hond, wat daar gelê het, het egter opgespring en sy been gebyt. Toe hy mank na die strooi loop waar die donkie uitgestrek gelê het, het die donkie hom 'n kragtige skop met sy agterpoot gegee. Dit was nie al nie, want die haan het wakker geword van die geraas, met sy vlerke gefladder en van die balk af geskree:
"Koek-eloek-oe, koek-eloek-oe!"
Die rower het so vinnig as wat hy kon na sy kaptein teruggehardloop en gesê: "Ag, my baas, daar is 'n aaklige heks in die huis wat op my gespoeg en my gesig met haar lang naels gekrap het; en voor die deur staan 'n man met 'n mes wat na my been gekap het; en in die werf lê 'n swart monster wat my met 'n groot houtknuppel geslaan het. En boonop sit daar 'n bose gees op die dak wat uitgeroep het: “Slaan hom nog toe!” ' Daarom het ek so vinnig as moontlik weggehardloop."
Hierna het die rowers dit nooit weer gewaag om naby hul huis te kom nie. En die vier musikant vriende? Hulle het baie goed gevaar met hulle unieke musiek en het heerlik in die dorp Bremen gaan speel. En weet jy wat? Hulle is vandag nog steeds daar!