Die Slim Skrynwerker


Eens op ‘n tyd was daar twee broers. Die een se naam was Willem, “Hallo” en die ander een se naam was Gerrie “Haai daar!”. Die twee van hulle was albei boere, en hulle het elkeen ‘n plaas reg langs die ander een gehad. Hulle plase was ver weg van die naaste dorpe af, so daar was nie juis baie mense naby nie.

Om 'n boer te wees, was alles behalwe ‘n maklike werk. Daar was baie dinge om op jou eie te doen maar wanneer die een ‘n bietjie hulp nodig gehad het, was die ander altyd daar om hand by te sit. Hulle het mekaar ondersteun en het mekaar gereeld gehelp. Op ‘n keer het Gerrie se wa gebreek, en Willem het van sy plaas af gekom met al sy gereedskap, en saam het hulle die wa reggemaak. 'n Ander keer het Willem se perd deur die staldeur gebreek, en Gerrie het dadelik gekom om die perd te help vang en die deur reg te maak. Hierdie soort dinge het aanhoudend gebeur, maar geen probleem was ooit so groot dat hulle dit nie kon oplos nie.

Eendag het Gerrie op sy plaas gestap en sy heining geïnspekteer. Sommer gou het hy 'n gat in die heining tussen sy plaas en Willem s'n ontdek. Hy het ook die benoude geluid van 'n dier in nood gehoor. Dit het soos 'n jong kalfie geklink, en te oordeel aan die geluide was hy duidelik in die moeilikheid. Gerrie het na die geluid gehardloop en sowaar, daar was 'n jong kalfie wat in die bosse verstrengel was. Hy het die arme dier sommer vinnig losgemaak en na veiligheid gelei.

Op daardie oomblik het Willem verskyn en gesê: "Dankie dat jy my kalfie gered het, Gerrie." "Jou kalfie?" het Gerrie gevra. "Ek dink jy maak 'n foutjie daar, my liewe broer. Hierdie kalfie is myne."

 "Joune? Kyk net na die merke. Dit is beslis een van myne." 

"Moet nou nie belaglik wees nie, Wimpie!" het Gerrie gesê, "Jy kan aan daardie krom stert sien dat hierdie kalfie uit my kudde kom." 

"Nonsens!" het Willem uitgeroep. “Dis myne!”

"Ag man, loop blaas doppies!!" het Gerrie gefrustreerd geskree. Gerrie en Willem se gesigte het al hoe rooier en rooier geword soos wat hulle al hoe harder en kwaaier woorde na mekaar geslinger het. 

"Domkop!" "Idioot!" "Pampoen!" "Uilskuiken!"

"Ek praat nie meer ‘n woord meer verder met jou nie!" het Gerrie gesê, en omgedraai en vies weggestap na sy plaas

. "Ek ook nie!" het Willem geskree terwyl hy al stampend met sy voete na sy plaas toe stoom.

Die volgende oggend het Willem soos gewoonlik vroeg wakker geword. Hy het 'n vreemde geluid in die verte gehoor. Dit het geklink of die geluid uit die rigting van Gerrie se plaas af kom. Hy het so vinnig as wat hy kon uitgehardloop, net om te ontdek dat Gerrie in die grond tussen hul plase grawe. "Daardie idioot grawe 'n sloot tussen ons plase," het Willem gedink. Hy was net op die punt om iets ongeskik na Gerrie te skree toe hy besef dat hulle nie met mekaar praat nie. Gerrie het opgekyk en vir Willem 'n nare kyk gegee. Willem het sy tong vir Gerrie uitgesteek, vinnig omgedraai en teruggehardloop na sy huis toe. Na 'n paar minute het hy teruggekeer met 'n graaf in sy hand. Nog voor Gerrie kon reageer (Huh?) het hy woes aan die sloot begin grawe. Af en toe het hulle gestop om te rus. Elkeen van hulle het net teen sy eie graaf geleun terwyl hy sy broer aangluur. So het dit vir etlike dae aangehou totdat die sloot uiteindelik klaar was. Hulle het mekaar een laaste kyk gegee en toe terug gemarsjeer na hul plase toe.

'n Paar weke het verbygegaan. Nie een van die broers was gelukkig nie. Hulle was steeds kwaad vir mekaar. Om die waarheid te sê, hulle was nou nog kwater.

Een middag was daar 'n klop aan Gerrie se deur. Hy het dit oopgemaak. “Ja, wat...? Ag, ekskuus tog, ek bedoel... Goeiemiddag.” Voor hom het 'n jong vrou gestaan. Sy het 'n gordel gedra met allerhande gereedskap wat daaraan gehang het – hamers, sae, maatbande, en nog baie meer. Sy het vir Gerrie geglimlag en gesê: "Goeiemôre! Ek is 'n rondreisende skrynwerker. Ek het net gewonder of u enige werk vir my het?" "Weet jy, nou dat jy dit noem... Ek sou reken jy het aan presies die regte deur kom klop! Want ek het beslis vir jou ‘n lekker ou takie. " het Gerrie gesê. "Volg my."

Gerrie het die skrynwerker na die sloot tussen die twee plase gelei. "Hierdie sloot is die grens tussen my en my idiotiese broer," het hy gesê. "Ek wil niks meer met hom te doen hê nie. Jy kan vir my 'n heining langs hierdie sloot bou sodat ek nooit weer na hom of sy nikswerd plaas hoef te kyk nie!"

Die skrynwerker het tot by die sloot gestap om dinge van nader te bekyk. Sy het in die rigting van Willem se plaas gekyk en in die verte 'n bietjie beweging in 'n bos gesien. Sy het 'n opvoubare teleskoop uit haar gordel gehaal om dinge van nader te bekyk, en daar het sy vir Willem gesien wat hulle uit sy wegkruipplek aangluur. Die oomblik toe hy besef iemand is besig om terug te spioeneer, het hy vinnig weggehardloop. Sy het haar teleskoop laat sak en na Gerrie gedraai, wat ook in die rigting van die bos gegluur het. "Ek sien," het die skrynwerker gesê. "Ek dink ek het 'n goeie idee van wat hier aangaan. Goed, Meneer Gerrie, ek sal 'n paar stukke hout, 'n handvol spykers en 'n paar ekstra stukke gereedskap nodig hê. Gee my 'n dag en ek sal u probleem kan oplos."

Gerrie het die skrynwerker alles gegee wat sy nodig gehad het, en vroeg die volgende oggend het sy aan die werk gespring. Sy het gesaag, en gehamer, en gemeet, en gekap, en was van sonop tot sononder besig.

Aan die einde van die dag het Gerrie in sy wa aangekom om na die nuwe heining te kyk, maar was geskok om te sien dat daar glad geen heining was nie! "Maar wat het jy dan die hele dag hier op jou selwers aangvang?" het hy die skrynwerker gevra. Sy het net geglimlag en na die sloot gewys. In plaas van 'n heining, het sy 'n pragtige sterk houtbrug gebou! "Wat de -?" het Gerrie verbaas gevra. "Ek weet! Ek weet! Dit is nie wat u verwag het nie," het die skrynwerker gesê, "maar u sal nie teleurgesteld wees nie. Hoekom toets u dit nie uit nie?"

Gerrie was verbysterd. Hy het versigtig nader aan die brug gestap en was net op die punt om daarop te trap toe hy vir Willem aan die ander kant sien. Hy was besig om oor die brug te stap met sy hand uitgestrek. "Mooi so, Gerrie, mooi so! Jy het gedoen wat ek te trots en te hardkoppig was om te doen. Wat 'n lawwe bakleiery was hierdie nie vir jou gewees nie!”

 Willem was sommer baie bly o m weer met Gerrie te praat. Hy was ook moeg vir hulle belaglike stryery. "Gerrie, jy is my broer en my beste vriend. Hoe kon ons toelaat dat 'n onenigheid oor 'n kalf tussen ons kom? Die kalf is joune, broer." "Nee, hy's joune," het Gerrie gesê. "Nee, ek is ernstig. Jy moet hom kry," het Willem gesê. "Nee, ek het eerste gesê, die kalf is – " "Verskoon my," het die skrynwerker gesê. "Moenie laf wees nie, manne. Ek dink julle het ree ds meer as genoeg gestry, dink julle nie ook so nie?"

Die broers het na mekaar gekyk en gelag. {{LAG}}

"Ek dink my werk hier is klaar," het die skrynwerker gesê, "Dit is tyd vir my om in die pad te val. Gee julle twee vir my die kalf as betaling vir my werk, en dan kan julle ouens oor 'n aandete saam opvang." Die broers het heel gemaklik ingestem. Hulle het die skrynwerker bedank en saam oor die brug gestap om aandete te gaan maak.

Die skrynwerker het hulle gehelp om hulle simpel gestryery stop te sit, en die twee van hulle was van toe af weer die heel beste vriende!