Die Blinde Mans en die Olifant
Baie, baie jare gelede het daar ses ou mans in ’n dorpie in Indië gewoon het. Elkeen van hulle was blind gebore.
Die ander dorpenaars het die ou mans liefgehad en gerespekteer. Die ou mans het baie goed oor die weg gekom en kon byna alles doen wat die ander dorpenaars kon doen—behalwe sien! Omdat hulle nie self die wêreld kon sien nie, en nooit geweet het hoe dit is om te sien nie, moes hulle hul ander sintuie—gevoel, gehoor, reuk en smaak—gebruik om te verbeel wat ander mense kon sien.
Hulle het dit baie geniet om na die resigers wat verby gekom het, se stories te luister, sodat hulle meer kon leer oor die lewe buite hulle dorpie. Hulle het stories gehoor van verre oseane in die suide met reuse skepe en see-gediertes met agt slymerige pote; van woestyne in die weste met geheimsinnige diere wat twee bulte op hul rûe het en in jou gesig spoeg; stories uit die Ooste, waar swart-en-wit teddiebere bamboesplante klim; en stories uit die noorde waar daar voëls is wat nie kan vlieg nie, maar soos visse kan swem! Allerhande soorte stories
Die mans was baie geïnteresseerd in al hierdie stories, maar die stories wat hulle die meeste gefassineer het, was die stories oor… OLIFANTE!!!
Hulle het gehoor dat olifante deur ondeurdringbare woude kan storm, massiewe vragte op hul rûe kan dra, en alle diere en wesens kan laat skrik met hul diep gebrom en harde trompetgeluide. Hulle het ook geweet dat die Rajah se dogter, die prinses, op ’n olifant ry wanneer sy deur haar vader se koninkryk reis. Hoe kon die Rajah sy dogter so naby aan so ’n vreesaanjaende en gevaarlike dier laat kom?
Die ou mans het later heeltemal behep geraak met olifante. Hulle het dag en nag oor hulle gestry.
“’n Olifant moet ’n magtige en kragtige reus wees,” het die eerste blinde man beweer. Hy het stories gehoor van olifante wat gebruik word om woude oop te kap en paaie te bou.
“Nee, dit kan nie wees nie,” het die tweede blinde man aangevoer. “’n Olifant moet grasieus en sag wees as ’n prinses op sy rug ry.”
“Bog!” het die derde blinde man gesê. “Almal weet ’n olifant is ’n gevaarlike monster wat ’n mens se hart met sy verskriklike horing kan deurboor!”
“Ag kom nou!” het die vierde blinde man gesê. “Julle is almal heeltemal verkeerd! ’n Olifant is duidelik net ’n groot soort beesagtige ding. Julle weet mos hoe mense oordryf.”
“Ek dink die olifant is ’n towerwese,” het die vyfde blinde man gesê. “Net so vergesog soos ’n pegasus, ’n draak, of ’n minotaurus.”
“Ek dink olifante bestaan glad nie,” het die sesde blinde man verklaar. “Ek dink ons is geflous—dit is alles net ’n wrede grap!”
Uiteindelik het die dorpenaars moeg geraak vir al hul vervelige gestry, en hulle het gereël dat ’n olifant na die dorpie gebring word om hul verwarring eens en vir altyd op te klaar. Dit was tyd dat hulle die waarheid oor olifante leer!
Later daardie dag het ’n jong seun aan die ou blinde mans se deur kom klop. Hy moes baie hard klop om oor hul gekibbel gehoor te word. Uiteindelik het die deur oopgegaan, en die seun het vir hulle gesê dat daar ’n olifant op die dorpsplein is.
Die ou mans het opgewonde opgespring! Die kleinste man het sy hand op die seun se skouer gesit. Die tweede blinde man het sy hand op sy vriend se skouer gesit, en so aan, totdat al ses mans agter mekaar gestap het, veilig gelei deur die seun na die markplein. Hulle het aangehou stry terwyl hulle stap—totdat hulle ’n diep gebrom voor hulle hoor. Dit was die olifant, wat geduldig in die plein gewag het.
Die seun het die ou mans tot reg langs die dier gelei, wat eintlik baie kalm en vriendelik was. Die blinde mans het vorentoe gestap om aan die olifant te raak.
Die eerste blinde man het uitgereik en die dier se sy aangeraak.
“Wel! Wel! Wel! Hierdie dier is glad en solied—net soos ’n muur!” het hy verklaar. “Dit moet baie, BAIE kragtig wees.”
Die tweede blinde man het sy hand op die olifant se slurp gesit.
“Nee! Nee! Nee!” het hy gesê. “Glad nie. Dit is soos ’n reuse slang.”
Die derde blinde man het die olifant se skerp slagtand gevoel.
“Verkeerd! Ha! Ek was reg!” het hy uitgeroep. “Hierdie dier is skerp en dodelik—net soos ’n spies.”
Die vierde blinde man het aan een van die olifant se massiewe bene gevat.
“Julle maak seker ’n grap!” het hy gesê. “Dit is, soos ek nog altyd gesê het, bloot ’n baie groot bees.”
Die vyfde blinde man het aan die olifant se groot oor gevoel.
“’n Bees?! Belaglik! ’n Olifant is soos ’n groot waaier of… of ’n skip se seil!” het hy gesê.
Die sesde blinde man het die olifant se growwe stert gegryp.
“Wat ’n klomp bog!” het hy uitgeroep. “Dit is niks anders as ’n ou stuk tou nie!”
“Verskoon my!” het die eerste verontwaardig uitgeroep. En so het die gestry voortgeduur!
“’n Muur!”
“’n Muur? Bogpraatjies! Dis ’n slang!”
“’n Spies, julle simpelkoppe! ’n Spies!”
“’n Bees! Ek sweer ek het hom hoor bulk!”
“’n Waaier! Waaier! Waaier! Waaier! Waaier!”
“Moenie my waai nie! Dis net ’n dun stuk tou!!!”
Hulle het al harder en harder begin skree:
“Muur!” “Slang!” “Spies!” “Bees!” “Waaier!” “Tou!” “Mu—”
“Bly stil, asseblief!” het ’n baie kwaai stem geroep.
Dit was die jong seun wat geduldig gewag het om hulle huis toe te neem.
“Hoe kan elkeen van julle so seker wees dat julle reg is?”
Die ses blinde mans het opgehou stry en na die seun gedraai.
“Um… omdat ek dit aangeraak het?” het een skaam gesê.
“Ja, maar ek ook,” het ’n ander gesê.
“En ek…”
“En ek ook…”
“Julle het almal aan die olifant geraak!” het die seun uitgeroep. “Maar die olifant is ’n baie groot dier! Elkeen van julle het net een deel gevoel. Miskien, as julle die dele saamvoeg, sal julle die waarheid sien.”
Die ou blinde mans was sprakeloos.
“Hy het ’n punt, weet julle,” het die eerste blinde man gesê. “Om die waarheid te leer, moet ons alles wat ons geleer het saamvoeg.”
Hulle het in gedagte aan hul baarde gevryf.
Teen hierdie tyd het die olifant verveeld en rusteloos geraak, en ’n lae brom gegee.
“Miskien is dit beter as ons dit op pad huis toe bespreek?” het die vyfde blinde man gesê.
“’n Puik idee,” het hulle saamgestem.
Die eerste blinde man het sy hand op die jong seun se skouer gesit. Die tweede blinde man het sy hand op sy vriend se skouer gesit, en so aan, totdat al ses mans saam huis toe gestap het—diep in gesprek oor hulle nuutgevonde olifant-kennis!
Die Einde