Ali Baba en die Veertig Rowers
Baie jare gelede, was daar in Persië ’n houtkapper met die naam Ali Baba. Hy het met sy spannetjie donkies deur ’n klipperige vallei tussen groot, rotsagtige berge gestap. Hy was op pad om te gaan hout soek, maar toe sien hy ‘n stofwolk op die horison. "Perderuiters," het hy na sy asem gesnak, baie bewus van die gevaar van skelms en skurke in hierdie deel van die wêreld. "Ek moet dadelik wegkruip!"
Hy het sy esels agter bosse weggesteek, en self tot hoog bo in ‘n boom geklim waar niemand hom kon sien nie.
Net daarna het ’n bende swaar gewapende booswigte daar opgedaag. Daar was presies veertig van hulle, en almal het groot, blink swaarde by hulle gehad. Hulle het van hul perde afgeklim en die grootste, lelikste een van die spul – duidelik de kaptein – het na die gladde rotswand toe gestap. Op sy wang kon Ali Baba ‘n halfmaanvormige litteken sien.
Ali Baba kon nie dink waarheen die kaptein op pad is nie, maar toe roep hy “Sesam, gaan oop!” en skielik gaan ‘n groot deur in die rots oop.
"Kom, manne," het die kaptein gebrul, en al veertig rowers het deur die deur, in die berg ingestap.
Nadat die laaste man deur is, het hy die kaptein hoor skree: "Sesam, sluit!" en die deur het toegegaan.
Ali Baba was uit die veld geslaan. Kort daarna het die deur weer oopgegaan, en die rowers het laggend uitgestap terwyl hulle swaar sakke oor hul skouers dra. Weer het die bevel gekom: "Sesam, sluit! " en die deur het toegegaan. Die rowers het hul sakke opgelaai en weggery.
Ali Baba was desperaat om uit te vind wat agter die deur is. Hy het daarnatoe gehardloop en geskree: "Sesam, gaan oop!!".
Die deur het oopgegaan. Ali Baba het ingestap en aan binnekant van die berg was ‘n skatkamer vol oneindig waardevolle skatte: Hope goud! Berge edelstene, juweliersware, die skaarsste sy en allerhande ander waardevolle dinge.
Hy’t soveel goud en juwele as wat hy en sy donkies saam kon dra bymekaar gemaak en "Sesam, sluit!" geroep toe hy by die deur uit is. Die rots het agter hom toegemaak en hy is so gou as wat hy kon ,in die donker, huis toe.
Ali Baba was so opgewonde dat hy eenvoudig vir die twee mense wat hy die meeste vertrou het, moes vertel wat gebeur het: sy vrou Miriam en sy broer Kassim. Hy het hulle alles vertel van die geheime grot en die towerwoorde. Sy vrou was in haar skik met hul rykdom, en Ali Baba het sy skat met sy broer gedeel.
Maar ongelukkig was daar ’n glinstering in Kassim se oë: gierigheid. Hy wou meer hê! Vroeg die volgende oggend het Kassim skelm die dorp uitgesluip met elke perd wat hy besit het. Hy’t goed geluister toe Ali Baba vertel het, en het gou die vallei gevind. Hy het sy perde vasgemaak, na die rotswand gestap en gesê: "Sesam, gaan oop."
Die deur in die rotswand het oopgegaan en Kassim het amper ontplof van opgewondenheid. "Ek is ryk! Ek is skatyryk!" het hy uitgeroep en soveel skatte as moontlik begin bymekaarmaak. Toe hy genoeg het om ’n hele koninkryk te koop, is hy terug na die deur toe.
Maar met al die opgewondenheid het hy die towerspreuk vergeet.
"Maak oop, Komyn?" het hy probeer. Niks het gebeur nie. "Maak oop... sonneblom?" Weer niks nie. "Maak oop... asseblief?" Dit het natuurlik nie gewerk nie. Hy het elke woord probeer waaraan hy kon dink... sjokolade, neute, springmielies, kougom, pap, en het uiteindelik moed opgegee.
Toe hoor hy ’n gedreun daar buite. Die rowers het gekom! Hy het sy hand teen sy voorkop geklap toe hy die woorde van buite hoor: "SESAM, GAAN OOP!"
Die deur het oopgegaan en daar staan arme Kassim voor die grootbaas van die rowers. "Dief! Boef! Lae, gemene skurk wat dink hy kan steel by die slinksste skelms op aarde? Manne, gryp hom. Ons sal hierdie man ’n les leer wat hy nooit sal vergeet nie."
Wel, Kassim het nie juis kans gehad om enige lesse te onthou nie, want kort voor lank was dit klaarpraat met hom: opgekap in klein stukkies. Die rowers het Kassim se oorblyfsels buite die grot gelos en weggery, terwyl hul bose lag deur die vallei eggo.
Toe Kassim nie terugkeer nie, het Ali Baba vermoed iets is fout. In die middel van die nag het hy na die grot ingesluip en was platgeslaan toe hy Kassim se oorblyfsels te vind. "My arme, dwase broer!" het hy gesug, "ek moet hom ten minste ’n behoorlike begrafnis gee." So het hy die oorblyfsels bymekaargemaak en huis toe gebring.
Om Kassim ’n behoorlike begrafnis te gee, moes sy oorblyfsels voorberei word. Ek sal jou die aaklige besonderhede spaar van wat gebeur het - dit is veels te grusaam om te vertel. Maar vir die doel van hierdie storie moet jy weet dat Ali Baba, met die hulp van ’n skraal, kaalkop ou kleremaker wat ’n kenner in naaldwerk was, sy broer aanmekaar kon sit en ’n deeglike begrafnis gegee het.
Hy het die kleremaker laat belowe om vir geen siel te vertel wat gebeur het nie.
Intussen het die rowers na die grot teruggekeer. "Waar is die stukke van daardie klein skelm wat dit gewaag het om ons grot te beroof?" het die kaptein woedend gevra. "Hy kan onmoontlik nie lewendig wees nie! Watse vreemde towerkuns is dit hierdie!!! Vind hom!" Die rowers het in alle rigtings laat spat om te probeer uitvind wat van Kassim geword het.
Hulle kon hom natuurlik glad nie kry nie – hy was begrawe! Maar terwyl hy by die mark na Kassim gesoek het, het die rowerkaptein by die kleremaker se stalletjie verbygestap. Hy het na die goedere gekyk wat te koop was—kussings, matte, gordyne en vele meer. "Baie indrukwekkende naaldwerk," het die kaptein hardop gesê.
"Dis nog niks nie!" het die kleremaker gespog. "Jy moes sien hoe ek laas nag gehelp het om die arme, dooie Kassim weer heel te maak.
"WAAAT?" het die kaptein gebrul. Die kleremaker het uit skok sy hand oor sy mond geklap, maar dit was te laat. Die kaptein het die skraal ou kleremaker gegryp en hom soos ’n ‘n vrot vel rondgeruk. Die kleremaker was doodsbenoud en het die kaptein alles van Ali Baba en Kassim vertel. Die kaptein het op sy tande gekners, die kleremaker eenkant toe gegooi, en weggestorm om sy bende bymekaar te kry, en wraak te neem.
Daardie aand was daar ’n klop aan Ali Baba se deur. Hy het dit oopgemaak. Daar voor hom was ’n handelaar. Hy was nogal groot vir ’n handelaar. Sy baard was groot en wollerig en het sy ken en wange heeltemal weggesteek. Onder sy buitengewone groot neus het hy ’n uiters welige snor gehad, en sy oë was weggesteek agter ’n baie primitiewe swart bril.
"Wees gegroet," sê hy met vreemde, aangeplakte stem. "Ek is ’n reisende handelaar wat skuiling soek vir die nag. Ek het veertig donkies wat gevoer moet word, en veertig kruike vol olie wat gestoor moet word."
Inderdaad, agter hom was ’n stoet van veertig donkies, elkeen met ‘n enorme kruik as vrag. Die handelaar het die grootste kruik oopgemaak om die olie binne-in te wys. Ali Baba was ’n goeie man en het die handelaar ingenooi. Ali Baba se vrou Miriam het hom binnetoe geneem, terwyl Ali die donkies na die stal gelei en die kruike afgelaai het.
Die kruike was swaar en Ali het gekreun soos hy hulle dra. As sy eie gekreun nie so hard was nie, sou hy dalk gehoor het hoe die kruike self kreun elke keer as hy een neergesit het!
Uiteindelik het hy na die huis teruggekeer, waar Miriam die 'handelaar' met ’n heerlike feesmaal besig gehou het. Miriam is na die kombuis om die ete voor te berei.
"Waarheen is jy op pad met jou donkies?" vra Ali Baba. "Ek is op pad na Bagdad om my olie af te lewer," sê die handelaar, terwyl sy vreemde stem skielik grof en skurf word. Hy het vinnig na sy beker gryp en ’n mond vol tee afgesluk. "Heerlik," sê hy, nou weer met sy gemaakte stem, terwyl hy die druppels tee van sy baard afvee.
Dit het gelyk of sy baard beweeg terwyl hy daaroor vee. "Hoe vreemd," het Ali Baba gedink.
In die kombuis was Miriam baie besig. "Ag toggie," sê sy, "my olie is op." Maar toe onthou sy: "Die handelaar het 40 groot kruike olie. Ek is seker hy sal nie omgee as ek net ’n bietjie vat nie!"
Sy het stoor te gestap en tussen die 40 kruike gaan staan. Sy wou net ’n kruik oopmaak, toe sy ’n geluid hoor—van binne-in die kruik!
"Ag, my bene maak my dood!" het ’n stem gesê. "Is dit al tyd?" "Nee!" kom ’n stem uit ’n ander kruik, "Wag vir die baas se teken."
Miriam het dadelik geweet wat aan die gang is. "Ons is verneuk!" het sy gedink. "Die grootste kruik was vol olie. Die ander kruike moet die nege-en-dertig diewe bevat. Die veertigste dief moet die handelaar self wees!"
Sy het teruggehardloop kombuis toe, ’n groot braaipan opgetel, en in die eetkamer ingestap. Voordat Ali Baba iets kon sê of doen, het sy die rowerkaptein “Kerplaks!” oor die kop geslaan.
"Wat het in jou gevaar!" het Ali Baba geroep, "Hy is net ’n eenvoudige handelaar!"
"Handelaar, sjmandelaar!" het Miriam uitgeroep, en die fopneus, die bril en die baard van die uit-soos-‘n-kers rower se gesig geruk. En daar, op sy wang, sit die halfmaanvorige litteken!
Sy’t dadelik gehardloop om die dorpswagte te gaan kry. Hulle het ingestorm en die kaptein vasgemaak en die kruike omsingel. Toe roep Ali Baba in sy beste namaaksel van die kaptein se stem: “Manne, kom uit!” en die rowers spring uit die kruike uit – reg in die boeie van die wagte wat hulle almal tronk toe marsjeer het.
Dit was klaarpraat met die veertig booswigte! Alles te danke aan Miriam se vinnig dink en doen. Sy en Ali Baba was veilig. Nie net dit nie, hulle was ryk. Die rowers se skat was hulle s’n. Wat ook al hul behoefte, alles sou opgelos word deur die woorde: "Sesam, maak oop!!"