Die Drie Brawe Boerbok Boeties
Eendag was daar drie boerbokke, drie broers, wat in ’n weiveld aan die voet van ’n hoë berg gewoon het. Almal het hulle die Boerbok Boeties genoem. .
Daar was Grootboeta Boerbok, Middelboet Boerbok en Kleinboetie Boerbok.
Die drie van hulle het al te lekker en rustig tussen die klippe rondgespring en geknaag aan die grassies wat redelik karig tussen die klippe gegroei het. Maar die gras was regtig skaars, en hulle het dikwels honger gevoel.
Eendag kyk Kleinboetie Boerbok op na die hoë berg bo hulle. Hy staar op en dink:
“Dit lyk of daar hoog teen die berghange sommer baie sappige, groen gras is!”
En sonder om ’n woord vir sy boeties te sê, kies Kleinboetie Boerbok koers.
Tippie-tap, tippie-tap, tippie-tap hardloop hy aan, totdat hy by ’n breë rivier kom, met ’n brug wat oor die water strek.
Wat Kleinboetie Boerbok nie geweet het nie, was dat hierdie brug aan ’n groot, skrikwekkende Trol behoort. Hy was skaars halfpad oor die brug toe hy ’n diep stem van onder die brug hoor dreun.:
“Wie’s dit wat tippie-tap-trippel oor mý brug?” bulder die Trol.
“Dis ek,” antwoord Kleinboetie Boerbok met ’n bewerige stem,
“Kleinboetie Boerbok!”
“Aha!” grom die Trol.
“Kleinboetie Boerbok, sê jy? Jy gaan nie veel verder vorder kom nie, want ek is die Trol wat die brug besit. En ek gaan jou nou opvreet!:
Die Trol steek sy kop oor die rand van die brug uit.
Toe Kleinboetie Boerbok hom sien, word hy vreesbevange.
“Ag asseblief, liewe Meneer Versrkiklike Trol,” roep hy,
“Moet my tog nie opeet nie! Ek is só klein dat ek skaars ’n halwe-happie vir jou sal wees. Maar ek het ’n middelboetie wat baie groter as ek is. Wag liewer vir hom — hy sal ’n baie beter ete as ek maak!”
“Mmmm.... Maar as hy groter is, is hy dalk taai en moeilik om te eet,” brom die Trol.
“O nee,” sê Kleinboetie Boerbok vinnig,
“hy’s net so sag soos ek!”
“En baie groter?”
“O ja, baie, baie groter!”
“Wel, goed dan,” sê die Trol.
“Beweeg aan. Ek wag liewer vir hom.”
En so hardloop Kleinboetie Boerbok Tippie-tap, tippie-tap, tippie-tap oor die brug,
reguit die berg uit, veilig tussen die groen gras, weg van die groot gemene trol.
Kort daarna begin Middelboetie Boerbok dink dat hy ook graag bo-op die berg wil gaan wei. En daar trek hy, op sy eie, tot by die brug. Sonder om te dink, stap hy flink oor die brug:
Trippel-troppel Trippel-troppel! Trippel-troppel!
Net toe hy in die middel van die brug kom, bulder die Trol weer van onder af:
“Wie’s dit wat so Trippel-Troppel-Trap-trap oor mý brug?”
“Dis ek,” antwoord hy,
“Middelboetie Boerbok.”
“Aha! Hier is jy!” sê die Trol.
“Presies die een waarvoor ek gewag het. Ek besit hierdie brug, en ek gaan jou nou opvreet!”
Middelboetie Boerbok begin sommer bewe van vrees.
“Ag asseblief, Meneer Trol,” pleit hy,
“Moet my nie opvreet nie! Ek het ’n boetie wat baie, baie groter as ek is. Wag net so ‘n bietjie vir hom. Hy sal ’n baie smaakliker ete as ek wees.”
“Groter as jy?”
“Ja, baie groter!”
“Goed dan,” grom die Trol.
“Hardloop aan. Net die grootste bok is goed genoeg vir my.”
Middelboetie Boerbok mors geen tyd nie en storm trippel-troppel, trippel-troppel, oor die brug.
In die bokke se weiveld kyk Grootboeta Boerbok op, loer rond en dink:
“Ek wonder waarheen my twee boeties is. As ek nie keer nie, gaan hulle so vet word van die berggras dat hulle net so groot en sterk is soos ek!”
“Ek dink dis tyd dat ék ook berg toe gaan.”
Die volgende oggend, in die sagte oggendlig, kies hy koers na die brug.
Troppetie-trap, troppetie-trap, troppetie-trap, stap hy
Die Trol onder die brug raak woedend.
“WIE WAAG DIT OP MY BRUG?!” brul hy so hard dat al die visse in die rivier wegskarrel en onder klippe wegkruip.
Maar Grootboeta Boerbok is glad nie bang nie.
“Dis ek,” antwoord hy ferm,
“Grootboeta Boerbok.”
“Aha!” gil die Trol.
“Jy’s die een waarvoor ek gewag het! Ek besit hierdie brug, en ek gaan jou nou opvreet!”
Die groot, grys, grillerige Trol steek sy kop bo die brug uit. Sy oë draai soos twee reuse wawiele van woede.
Maar Grootboeta Boerbok staan vas.
“So jy’s ’n Trol?” sê hy. “En jy dink jy kan my opvreet? Ons sal sien!”
“My voorkop is hard soos klip,” roep hy,
“En ek sal jou stamp tot daar niks van jou oorbly nie nie. Nie ‘n krieseltjie nie!”
Die Trol storm vorentoe. Grootboeta Boerbok laat sak sy kop en storm reguit op die trol af.
Hulle bots reg in die middel van die brug —
maar die Boerbok se kop is harder as die Trol s’n!
Hy stamp die Trol onderstebo dat hy sommer bene in ie lug, op sy rug eindig. Toe storm hy op hom af, skep hom met sy horings, en slinger hom oor die brug, die rivier in. Die Trol sink soos ’n klip en daar word nooit weer enigiets van hom gesien of gehoor nie.
Grootboeta Boerbok stap rustig teen die berg op.
Sy twee boeties is oorstelp van blydskap toe hulle hom sien, en nog blyer toe hulle hoor dat die bose Trol vir altyd weg is.
Van toe af bly al drie Boerbokboeties saam bo-op die berg.
Die kleiner boeties eet só baie gras dat hulle groot en sterk word — en ná ’n ruk kon niemand meer sê watter Boerbok watter een is nie. Almal het hulle die Groot Boerbok Broers begin noem, en hulle het lank en gelukkig, versadig en gesond, teen die berghang gelewe.