Anansi en die Patathopies

Lank, lank gelede was daar ’n ou vrou. Jy sal dit nie glo nie, maar sy kon mense in paddas verander!  Sy kon op ’n besemstok vlieg! Sy kon towerdrankies kook. Sy was, ja, jy’t reg geraai, ’n heks.  Sy was nie ’n bose, nare heks nie, maar sy was nogal liggeraak  , en het maklik geïrriteerd geraak. En wat haar meer as enigiets anders in die hele wye wêreld geïrriteer het, was haar naam.


Sy het kliphard gekla en kerm: “Al die ander hekse het soveel wonderlike heks-agtige name! Bruananda, Wanda, Grizelda, selfs Heksie! Maar nee! My ma moes my 5 noem!” 

Dit is reg, haar naam was 5. Sy is haar hele lewe lank daaroor geterg. Sy het haar humeur verloor elke keer as mense simpel name vir haar opgemaak het, soos "Vat Vyf", of "Vyf in ‘n Ry", of die "Vyfekontyt", en so hou dit aan! Met elke liewe “Vyf!”


“Hou op!” 

Ekskuus tog?


 “Ek sê, hou op!”


Wie, ek? 


“Ja, jy Meneer-Ek-Vertel-Net-Die-Storie!! As jy nog een keer my naam sê, verander ek jou in ’n, in ‘n…...”

Nou goed, nou goed, jammer!


“Ek het nou genoeg gehad! Ek gaan uiteindelik iets daaraan doen! Kom, Meneertjie, vertel vir die mense  wat ek doen!” 


Uh, sy waai ’n towerstaf in die lug... En nou strooi sy gedroogde paddapoeier op die vloer... 


“Ek berei ’n towerspreuk, jou uilskuiken! Luister nou:


As iemand ooit weer 'vyf' sou sê

Of hulle dink hulle is oulik

En ‘n bietjie pret wil hê.

Sal hulle net daar neerslaan, 

Ja, vas aan die slaap, 

Vir ewig sal hulle lê!”


Wel, die towerspreuk het gewerk. Mense het nie regtig vir ewig aan die slaap geraak nie, maar hulle het vir ten minste ’n week lank geslaap!

Van toe af het almal dadelik aan die slaap geraak geraak as hulle de woord “Vyf” sê. Snork...  Net ’n grappie. Ek is natuurlik is ek immuun teen die vloek. Ek het spesiale storievertel-kragte! Maar al die ander mense, het dadelik aan die slaap geraak Onderwysers wat kinders leer.  “Nou goed, klas, 2 + 3, is gelyk aan… 5!” Snork.

Handelaars wat goed verkoop: “Hoeveel kos hierdie lemoene?” “Dit verkoop teen twntig rand vir Vyf.”  Snork.


Nou ja, jy onthou dalk vir Anansi, die slim klein spinnekop, uit een van ons vorige stories. Hy was nie juis lus vir werk nie, maar hy het wel baie daarvan gehou om te eet.  En Anansi het ‘n slim plan beraam om die heks se towerspreuk te gebruik om te kry wat hy wil hê. Hy het ’n plek gekies op die pad wat na die dorpsmark lei, en aan die werk gespring om sy plan van stapel te stuur. In die skadu van ’n groot groen boom het hy vyf hope grond bymekaargeskraap, en in elkeen ’n patat geplant. Hy het elkeen versigtig natgelei totdat dit begin groei het.


“Perfek,” sê hy, terwyl hy twee van sy agt pote teen mekaar vryf. 

Toe weef hy ‘n spinnerak, en wag.  Na ’n rukkie het ’n hond verbygekom. Hy het ’n mandjie vol heerlike vrugte gehad wat hy mark toe geneem het. “Verskoon my, Broer Hond,” roep Anansi.  “Wel hallo, Anansi,” sê die hond. “Hoe gaan dit?” “Eintlik nie so goed nie. Jy sien, ek probeer om my patat-hope te tel. Ek is nie so ’n slim dier soos jy nie. Sal jy so gaaf wees om hulle vir my te tel?”  “Met graagte, man!” sê die vriendelike Hond. Hy begin toe tel: “Daar is 1... 2... 3... 4... 5...”



Doef! Daar val die hond neer, vas aan die slaap.  Anansi gee ’n gilletjie van vreugde. Sy plan het gewerk! Hy het al die hond se vrugte bymekaargemaak, die hond tot in die skadu van die boom gesleep waar niemand hom sou sien nie, en gewag vir sy volgende slagoffer.


Dit het nie lank geneem voordat die Bul verbygestap gekom het nie. Hy het ’n groot sak vol mielies op sy rug gedra wat hy by die mark wou gaan verkoop. 

“Help!” skree Anansi, “Help!” “Wat is fout, Anansi?” vra die vriendelike bul. “Dis ’n noodgeval! Ek moet onmiddellik my patat-hope tel! As ek dit nie kan doen nie...” “Moenie bekommerd wees nie, klein spinnekop. Ek help altyd graag ’n spinnekop in nood! Ek sien 1... 2... 3... 4... 5...”



Doef! Daar val die bul neer, vas aan die slaap.  Anansi het gegiggel en al die  bul se mielies bymekaargemaak. Hy het die swaar bul tot langs die hond gesleep, en weer gaan wag.  Hy het hierdie skelmstreek oor en oor gespeel. Hy het die leeu, die renoster, die zebra, die vlakvark, die krokodil en die kameelperd geflous. Gou-gou het hulle almal vas aan die slaap rondom Anansi se boom gelê.


Die dag was besig om tot ’n einde te kom. Anansi het al oorgenoeg kos gesteel, maar hy het besluit om vir nog een laaste slagoffer te wag.  Toe hoor hy ‘n gekloek in die verte. Kort voor lank sien hy die Hen verby gewaggel kom, op pad mark toe. 

“O, Mejuffrou Hen!” roep Anansi. “Anansi! Wat gaan aan?” “Wel, ek het jou hulp nodig. Ek het hierdie patat-hope, maar ek het geen idee hoeveel ek het nie! Kan jy hulle vir my tel?”


Die hen het na die patat-hope gestap en bo-op een van hulle gespring. “Kom ons kyk, Meneer Spinnekop! Jy het 1... 2... 3... 4... en die een waarop ek staan!” “Wat?! Wat is fout met jou! Dis nie hoe mens tel nie!” skree Anansi. “Wat is fout met my manier van tel?” vra die hen. “Daar is nie so ’n getal soos ‘die een waarop ek staan’ nie! Tel hulle weer!” “Nou goed dan, daar is 1... 2... 3... 4... en die een onder my!” “Ag, kom nou, verebrein! Dis nie wat jy veronderstel is om te sê nie!” “Wat moet ek dan sê?” “Jy is veronderstel om te sê: ‘1... 2... 3... 4... 5...’ o-o!”



Doef! Daar val Anansi op die grond neer, vas aan die slaap!  Die hen het die slim spinnekop uitoorlê  . Sy het gelag, haar mandjie opgetel en na die mark vertrek.


Na omtrent ’n week het Anansi wakker geword, omring deur al die diere wat hy gefop het. Hulle het kort voor hom wakker geword en vinnig besef wat gebeur het. Kom ons sê maar net, Anansi het baie gehad om te verduidelik!