Die Veld Vol Bankrotbossies
In vandag se storie leer ons sommer ‘n hele paar dinge, en die heel eerste is ‘n kennismaking met ‘n baie spesiale soort towerwese, al die pad uit Ierland uit.
Hy lyk baie soos ‘n elfie, of selfs ‘n kabouter, of ‘n dwergie. Skaars ‘n bietjie langer as ‘n gewone mens se knieg.
Hy dra ‘n groen jas, groen broek, groen hoed en blink swart skoene met goue gespes. En hy het ‘n welige rooi baard.
Ons het nie ‘n naam vir hierdie gedoente in Afrikaans nie, party mense noem hom ‘n aardmannetjie, maar in Ierland staan hierdie aardige mannetjie bekend as ‘n Leprechaun.
‘n Leprechaun is ‘n ongelooflike stout en slinkse klein wesentjie. Sommer ongelooflik nors en stuurs ook!
As jy gelukkig genoeg sou wees om een te sien, sou hy waarskynlik in ’n japtrap verdwyn, want hulle is baie skugter en ongelooflik vinnig. Nie net dit nie, maar hulle groen klere help om hulle te kamoefleer en hulle smelt saam met hulle agtergrond in die grasgroen weivelde en welige woude van Ierland. Maar die ding waarvoor hulle dalk die heel bekendste is, is hulle groot pot vol goud!
Elke jaar gee ’n geheimsinnige fee vir die Leprechaun ’n geskenk: een goue muntstuk. Nou ja, dit klink dalk nie na baie nie, (alhoewel ek beslis nie sou omgee vir selfs net een goue muntstuk nie!). Jy sien, Leprechauns leef baie lank, en kan dus baie, baie oud word. So, een goue muntstuk per jaar, beteken ‘n ENORME pot GOUD!!!
Daar is sekerlik baie gierige mense wat verskriklik graag ’n Leprechaun se pot goud in die hande sou wou kry, maar - soos ek gesê het - die klein karnallies is baie slim en uitgeslape. Hulle steek hulle skatte op baie slim en slinkse plekke weg. Die mees bekende wegsteekplek van almal, is reg aan die einde van die reënboog, want mense kan det eenvoudig net nie kry nie. Het jy al ooit probeer om by die einde van ’n reënboog uit te kom? Ek het, maar maak nie saak hoe lank ek stap nie, die reënboog het altyd ewe ver van my af gebly!!
Maar hierdie storie gaan nie oor my nie. Dit gaan oor ’n Ierse man genaamd Tom Fitzpatrick.
Tom het in die woude tussen die landerye gaan stap. Hy het sy getroue kierie by hom gehad en was besig om ’n vrolike deuntjie te fluit toe hy skielik ’n vreemde geluid hoor! Dit was ’n vreemde geraas en gekletter en dit het geklink asof dit uit ‘n bosheining aan die kant van die pad gekom het! Tom het vorentoe gesluip en deur ’n gaping in die hening geloer. Aan die ander kant was ‘n oopte.
In die oopte was ’n groot bruin vaatjie vol bier.
“Wel, is dit nou nie ’n lekker gelukkie nie,” het Tom gedink, en hy was net op pad om die vaatjie te gaan haal toe hy ’n piepklein ou mannetjie die oopte sien binnekom. Hy het ’n groen jas, ’n groen broek, ’n groen hoed en blink swart skoene met goue gespes gedra, en het ’n welige rooi baard gehad – dit was dadelik vir Tom duidelik dat hierdie kêrel ’n Leprechaun was!
Dit het nie gelyk of hy Tom raakgesien het nie. Die Leprechaun het ’n houtstoeltjie nader getrek, daarop gaan staan en ’n skeplepel in die vaatjie gedoop om sy houtbeker vol te maak. Toe het hy van die stoeltjie afgeklim, op ’n boomstomp gaan sit en begin werk aan ‘n paar skoene wat hy besig was om reg te maak.
“Wel, slaan my plat,” het Tom gedink, “’n Regte, egte Leprechaun! Ek het nooit geglo dat hulle bestaan nie, maar hier is een in lewende lywe! So waar en eg as wat kan kom!” Sy oë het geglinster terwyl hy aan die moontlikhede dink: “En as die stories oor hulle waar is, dan moet hy ‘n pot goud hê! Ek moet wel baie versigtig wees. Hulle sê ’n mens mag nooit jou oë van ’n Leprechaun afhaal nie, anders verdwyn hulle!”
Tom het ’n bietjie nader gesluip, sy oë stip op die klein mannetjie, net soos ’n kat met ’n muis. Toe hy redelik naby is, sê hy: “Dis meesterlike werk wat jy daar doen, buurman”. Die klein mannetjie het sy kop opgetel en gesê: “Baie dankie vir die kompliment,” en het net aangegaan met die herstelwerk.
Tom het vir ’n oomblik gehuiwer, maar toe kry gierigheid en nuuskierigheid die oorhand. “Kan jy my vertel wat jy in daardie groot vaatjie daar oorkant het?”
“Ek sal, met die grootste plesier!” sê die klein mannetjie. “Dit is baie goeie bier”.
“Bier!” het Tom geantwoord. “Bier!? Waar het jy dit gekry?”
“Waar het ek dit gekry?” sê die Leprechaun. “Ek het dit self gemaak!”
“Mag ek maar aan jou bier proe?” vra Tom.
“Ek sê jou wat, jongman. Dit sal beter wees as jy eerder na jou vee kyk, in plaas daarvan om ordentlike, stil mense met jou simpel vrae te pla. Kyk daar, terwyl jy jou tyd hier mors, het die koeie in die landerye ingekom en hulle is besig om al die koring plat te trap”.
Tom was so onkant gevang dat hy dadelik wou omdraai om te gaan kyk, maar gelukkig het hy homself gekeer: “Wag ’n bietjie! Wag ’n bietjie! Ek val nie vir jou streke nie, ou mannetjie. Jy probeer my aandag aflei sodat jy kan verdwyn!”
Hy’t besluit om die Leprechaun te gryp en het hom aan die hand beetgekry. Maar in sy haas het hy die vaatjie omgestamp en al die bier uitgemors! Tom het liederlik gevloek! Daar was niks wat hy aan sy dors vir bier kon doen nie, maar hy het ’n ander dors ontwikkel…. ’n dors vir GOUD!
“Nou toe, ou man,” sê hy dreigend, “ek weet alles van jou soort. Jy kan my nie flous nie! Ek kan dalk nie jou bier kry nie, maar jy beter my nou dadelik die pad na jou pot vol goud toe wys, of anders!!!”
Tom het so boos en moorddadig gelyk dat die klein mannetjie doodbang was. So toe antwoord hy: “Kom saam met my na ‘n veld so ’n paar landerye verder aan, dan sal ek jou my pot goud wys”.
En so het hulle vertrek. Tom het die Leprechaun stewig vasgehou en nooit sy oë van hom afgehaal nie, al moes hulle oor heinings en slote, en selfs deur ’n modderige moeras loop, totdat hulle uiteindelik by ’n groot veld gekom het wat vrot was van die bankrotbossies,’n soort groot geel onkruid.
Die Leprechaun het na ’n groot bankrotbossie gewys en gesê: “Grawe onder daardie ene, en jy sal die groot pot vol goud vind”.
Tom het in sy haas nooit daaraan gedink om ’n graaf of selfs ‘n spitvurk saam te bring nie, en daarom het hy besluit om vinnig huis toe te hardloop om een te gaan haal. Maar die veld was propvol bankrotbossies, en daarom het Tom met ’n slim plan vorendag gekom om die regte bossie te kry wanneer hy terugkom, deur ’n rooi lint daarom te bind.
Toe sê hy vir die Leprechaun: “Sweer vir my dat jy nie die rooi lint van daardie bankrotbossie sal verwyder nie”.
“Ek belowe,” sê die Leprechaun ernstig, met sy hand op sy hart, “op my eer, ek sal nie aan daardie lint raak nie”.
Tom moes die Leprechaun glo, en hy het.
“Het jy niks verder van my nodig nie?” vra die Leprechaun.
“Nee,” sê Tom; “jy kan nou maar loop, baie dankie”.
“Wel, wees gegroet, Tom Fitzpatrick,” sê die Leprechaun met ’n slinkse glinstering in sy oog.
En daar hardloop Tom so vinnig as wat hy kon tot by die huis kom en gryp ‘n graaf. Toe hardloop hy weer so vinnig as wat sy bene hom kon dra terug na die veld vol bankrotbossies toe; maar toe hy daar aankom, het hy na sy asem gesnak van pure skok!
Was sy rooi lint verwyder? Nee! Glad nie! Die Leprechaun het sy woord gehou. Maar die klein skelm het ’n identiese rooi lint om elke enkele ander bankrotbossie in die veld vasgemaak!
En daar was duisende van hulle!
Tom het geskree, gevloek en sy voete gestamp, en uiteindelik, toe hy homself heeltemal uitgeput het, is hy hopeloos terug huis toe met sy graaf oor sy skouer.
Terug in die oopte in die bosheining het die Leprechaun op sy boomstomp gesit terwyl hy sy skoene regmaak, laggend en giggelend vir sy eie slimgeit, terwyl hy rustig verder werk.