Ebenezer Scrooge en die Kersgeeste
Ebenezer Scrooge was ’n geldlener in ou Londen. Hy was baie ryk, maar ook ongelooflik geldgierig, hardvogtig en suining. Hy het nooit net vriendelik met iemand gesels nie en hy het beslis nooit enigiemand gehelp nie. Sy enigste vriend en sakevennoot, Jacob Marley, is baie jare tevore oorlede.
Eendag, op ’n ysige, bitterkoue Oukersaand, sit Scrooge laat in die nag in sy kantoor en werk, toe sy vriendelike en opgeruimde neef Fred, by die deur instap.
“’Baie Geseënde Kersfees, Oom!” sê Fred opgewek.
“Gah!” grom Scrooge. “Nonsens! Kersfees? Jy moet rekeninge betaal sonder dat jy geld maak! Jy is ’n jaar ouer maar nie ’n sent ryker nie! Vier jy maar Kersfees op jou manier, en laat my dit op myne vier.”
“Maar Oom, Oom vier glad nie Kersfees nie,” sê Fred. “So hoekom kom vier oom dit nie saam met ons nie?”
“Daar is nie ‘n manier nie! Gaan nou huis toe,” snou Scrooge hom toe.
Later, toe dit tyd is om die kantoor toe te maak, sê Scrooge vir sy klerk, Bob Cratchit:
“Ek neem aan jy wil môre die dag af hê vir Kersfees, nè?”
“As Meneer dit goeddunk,” sê Bob versigtig.
“Goeddunk? Natuurlik nie! Dis onregverdig! Ek moet jou betaal vir ’n dag se werk wat jy nie eers doen nie! Maar nou goed — as jy die dag ná Kersfees ekstra vroeg begin werk, kan jy die dag af hê.”
Bob stem al te dankbaar dadelik in: “Dankie, Meneer en hulle sluit die kantoor vir die aand.
Scrooge het heeltemal op sy eie in ’n ou, lendelam en amper spokerige huis gewoon. Daardie aand sit hy in sy koue sitkamer – want hy’s te suining om nog vuur te maak - toe hy skielik ’n vreemde geluid hoor — iets wat klink soos swaar kettings wat oor die vloer sleep. Dit kom al hoe nader... en toe, tot Scrooge se ontsteltenis, kom daar ’n spook reg deur die toe deur gestap! Sommer net so!
En dis was niemand anders nie as Marley — sy oorlede vennoot — maar hy was met kettings vasgebind aan geldkiste, sleutels, optelmasjiene en allerhande bankgoed. Scrooge kon dit nie glo nie!
“Wie is jy?” vra Scrooge bewend.
“In lewe was ek jou vennoot, Jacob Marley,” sê die spook.
“Wat kom doen jy hier?”
“Ek is verdoem om vir ewig rond te swerf met hierdie kettings omdat ek so gierig was. Ek het net omgegee oor geld, nooit oor mense nie. Ek het gekom om jou te waarsku, Ebenezer. Jy het nog ’n kans! Drie geeste sal na jou toe kom. Die eerste een môre, wanneer die klok een slaan!”
En daarmee verdwyn Marley se spook. Scrooge kyk by die toe-geyste venster uit — niks. Hy storm bed toe en raak sommer dadelik aan die slaap.
Toe hy later in die nag wakker word, is dit donker en stil. Hy dink aan die spook.
“Gah! Drome en nonsens,” mompel hy.
Maar toe slaan die klok een. Die gordyne beweeg... en voor hom staan ’n vreemde figuur — half kind, half ou man met lang wit hare.
“Wie, of wat, is jy?” vra Scrooge.
“Ek is die Spook van Kersfees Wat Was,” sê die spook sag. “Kom saam met my.”
Dit flits en flikker en tyd word soos so slap en buigbaar soos stroop! Hulle reis terug in tyd — al die pad na toe Scrooge nog ’n seuntjie was. Hy sien homself saam met ander kinders rondom ’n klein Kersboompie speel. Al was hulle arm, was daar vrolik heid en vreugde.
Toe reis hulle verder, voorentoe in die verlede, tot by Scrooge se eerste werk, en ’n vrolike Kersaand saam met sy baas, Meneer Fezziwig. Daar was kos en musiek, dansery en blydskap.
Nog ‘n paar jaar verder vorentoe sien Scrooge homself saam met ’n pragtige jong vrou, Belle. Sy huil.
“Dit maak my hart seer,” sê sy, “om te sien hoe jy goud meer liefhet as my. Vaarwel, Ebenezer.” Daar staan Scrooge en kyk na hou hy liefde opgeoffer het vir rykdom.
“Genoeg!” roep Scrooge uit. “Ek wil nie meer sien nie! Neem my huis toe!”
“Nog net een laaste enetjie,” sê die spook.
Nou staan hulle in ’n klein, warm huis. ’n Gelukkige gesin sit by die kaggel, lag en hou mekaar styf vas. En daar is Belle — nou getroud met ’n vriendelike man en omring deur kinders.
“Genoeg!” smeek Scrooge. “Ek kan dit nie meer aanskou nie!”
Skielik lê hy weer stoksielalleen in sy eie bed. Uitgeput raak hy weer aan die slaap.
Maar nie vir lank nie. Die klok slaan twee, en ’n nuwe spook verskyn — die Spook van Kersfees Wat Is. Met bruin krulhare en sprankelende oë neem die gees hom na Bob Cratchit se klein huisie.
In die kombuis maak Mevrou Cratchit aandete, en die kinders lag en speel. Bob kom in met sy seuntjie, Tiny Tim, op sy skouers. Die kind het ’n kruk en ’n ysterraam om sy bene, en hy hoes die hele tyd — hy is duidelik siek, baie baie siek.
Hulle sit almal om die tafel. Met min bestanddele het Mevrou Cratchit ’n heerlike ete voorberei.
“’n Geseënde Kersfees vir ons almal!” sê Bob.
“Geseënde Kersfees, liewe familie!” glimlag Tiny Tim.
Hy sit styf teen sy pa, en Bob hou sy hand vas — asof hy bang is om hom te verloor.
“O spook,” fluister Scrooge, “sal daardie kind bly lewe?”
Die spook kyk ernstig na die prentjie voor hulle, en toe terug na Scrooge. “Ek sien ’n leë stoel... en ’n kruk sonder ’n eienaar. Sonder hulp sal die kind sterf.”
Toe neem die spook hom verder — na mense wat arm is, siek is, in haglike omstandighede lewe, maar steeds gelukkig is, omdat hulle die ware gees van Kersfees ken.
Toe die klok drie slaan, verdwyn die Spook van Kersfees Wat Is. En ’n nuwe, donker gestalte verskyn voor Scrooge— die Spook van Kersfees Wat Kom.
Scrooge ril van vrees. “Is jy die Gees van Kersfees Wat Kom?” vra hy.
Die spook sê niks, maar lei hom deur die stad. Hulle hoor mans praat oor iemand wat dood is.
“Wie bedoel hulle?” vra Scrooge. Geen antwoord nie.
Hulle kom by ’n donker, ungure plek waar diewe uithang en lag en spot.
“Ha! Hy het almal bang gemaak toe hy geleef het, maar nou’s hy dood, en ons geniet al te lekker die rykdom wat hy bymekaar gemaak het!”
Uiteindelik stop die gees in ’n koue begraafplaas. Die grond is vol mis, maar dit waai weg en onthul ‘n grafsteen. Die gees wys met ‘n donker, spokerige vinger na ’n grafsteen. Scrooge buk stadig, maak sy oë skrefies om beter te sien en lees wat op die graf staan:
EBENEZER SCROOGE.
“O Spook!” roep hy benoud. “Asseblief! Dis nie die man wat ek wil wees nie! Laat my verander! Ek sal die ware gees van Kersfees eer — elke dag van my lewe!”
Hy gryp na die gees se hand — maar dis weg. Hy is terug in sy kamer.
“Ek sal die Kersgees eer!” sê Scrooge en spring uit die bed. Hy hardloop na die venster.
“Watse dag is dit vandag?” roep hy na ’n seuntjie daar onder.
“Vandag? Dis Kersdag, meneer!”
“Kersdag!” roep Scrooge uit. “Ek het dit nie gemis nie! Ek het nog ’n kans! ’n Geseënde Kersfees vir almal!”
Hy trek sy deftigste klere aan en stap uit in die straat, laggend en groetend. Hy gaan die middag na sy neef se huis.
“Fred,” sê hy by die deur, “dis ek — jou oom Scrooge. Mag ek saam kom eet?”
“Maar natuurlik!” lag Fred en sleep hom aan die hand na binne. En hulle vier saam ’n wonderlike, warm Kersfees.
Die volgende oggend is Scrooge vroeg by die kantoor. Hy sit met die deur oop en wag vir Bob wat bittervroeg daar moes wees. Toe Bob uiteindelik inkom, kop onderstebo, is hy reg om soos gewoonlik sy nors, grommende baas te groet.
“Bob!” sê Scrooge ernstig. “Ons twee moet beslis praat. Ek het iets baie belangriks om te sê...”
Bob sluk.
“...Ek gaan jou salaris verhoog! Gebruik dit slim en spaarsamig, en kyk mooi na jou familie. Geseënde Kersfees, Bob!”
Bob kan dit skaars glo. Maar dit was nie net hy nie – dit was sommer almal in Londen. Almal kon sien dat Scrooge ’n nuwe mens was.
Met die geld wat Bob nou verdien het, kon Tiny Tim die nodige mediese sorg kry om hom gesond en sterk te. En Scrooge gaan kuier sommer gereeld vir hulle en word so goed soos familie.
Van daardie dag af was Ebenezer Scrooge vir almal ‘n voorbeeld van wat Kersfees regtig beteken.
Die einde.