Die Towerspieel

Eendag, lank gelede, was die koning van Spanje besig om in sy paleis te ontspan. Hy het agteroor gelê in ‘n spesiale stoel wat terug kon leun. Aan sy sy was ‘n klein, maer mannetjie met 'n lang, krullerige snor en lewendige groen oë wat besig was om na hom om te sien Hierdie kêrel  was die koning se persoonlike barbier. Hy het 'n warm handdoek oor die koning se gesig gesit en was net reg om sy hare met sy skêr te begin knip. 

Skielik het die koningg ‘n moedelose sug gegee. 

“Wat makeer, U Majesteit?” vra die barbier.

“Ek dink dis tyd dat ek trou,” sê die koning.

“Dit is ‘n baie goeie idee, U Majesteit,” sê die barbier.

“Maar daar is een probleem”.

“En wat sou dit wees, my koning?”

“Ek weet nie met wie ek moet trou nie. Ek wil nie sommer net met enigiemand trou nie. Ek soek 'n vrou met 'n goeie hart. 'n Ware lewensmaat. Ek wil 'n vrou hê wat interessant is... En in die wêreld belangstel. Sy moet gaaf wees. En slim, en skerp, en verbeeldingryk! Maar hoe op dees aarde gaan ek so iemand kry?”

Die barbier het in stilte aangehou om die koning se hare te sny, en toe stop hy skielik.

“U Majesteit,” sê hy stadig, “ek dink ek kan u dalk help om die perfekte pasmaat te kry”.

“Sowaar?” sê die koning.

Die barbier knip net sy een oog en sê: “Laat dit aan my oor”.

Daardie aand was hy in die gewildste kuierplek in die stad, die Blou Draak. Dit was vol vrolike mense besig om te eet, grappies te vertel, en al die nuutste skindernuus te deel. Die barbier neem 'n slukkie van sy bier en sê vir sy ou vriendin, Gertruida: “Die koning wil trou”.

“Trou?” proes Gertuida, “met wie?”

“Dis die probleem,” sê die barbier, “hy soek die regte vrou. Dis my taak om die perfekte pasmaat te kry”.

'n Paar mense naby hulle het opgehou praat en na die barbier begin luister.

“Jy?” vra sy. “Hoekom jy?”

“Omdat ek 'n towerspieël het!” 

Gertuida snak na haar asem. Almal in die kuierplek raak stil. Hulle almal luister na wat die barbier sê.

“Ja, 'n towerspieël! As enigiemand wat NIE 'n goeie mens is nie, in die spieël kyk, sal die spieël lelike merke op hul gesig wys”.

Die skare snak na hul asem. Toe begin hulle onder mekaar gons.

Die barbier giggel saggies, maar niemand hoor dit tussen al die gefluister en geselsery nie.

“O genade,” sê hy terwyl hy opstaan, “dit raak nogal laat. My slaaptyd is amper hier, so ek moet waai”.

En daar gaan hy. Gertuida was rasend van opgewondenheid. “Ek móét my boekklub vertel!” roep sy uit, en hygend en blasend is sy ook haastig daar weg.

Gou het al haar vriende van die towerspieël geweet. En hulle het vir hul vriende vertel, en hulle het vir húl vriende vertel, totdat die hele stad gegons het van opgewondenheid. Die koerantverkoper het deur die strate gestap en geroep: “Lees dit alles! Lees dit hier! Die Koning van Spanje is op soek na die perfekte vrou! Kyk net in die barbier se towerspieël om te sien of dit jy is!”

Nou ja, alhoewel honderde, nee - duisende mense die nuus gehoor het, kan jy raai hoeveel mense in die towerspieël kom kyk het? Niemand nie!

Die koning was baie geliefd, en hy was 'n gawe en aantreklike man, so dit was snaaks dat nie een van die ryk, vername dames na vore gekom het om sy vrou te wees nie. Maar hulle almal het een of ander ve rskoning gehad.

“Ek voel........nogal sleg vandag!”

“Ek het 'n baie belangrike afspraak, uh, iewers anders…”

“Die tyd is nog nie reg vir my om te trou nie”.

“O, ek het net 'n nael gebreek! Ek moet dit laat regmaak”.

Elke oggend het die koning die barbier gevra wie gekom het om in die spieël te kyk, en elke keer het die barbier geantwoord: “Niemand nie, U Majesteit”.

Die koning het ‘n diep ongelukkige sug gegee. “Wat op aarde kan die probleem wees? Ek bedoel, al die ander konings kry dit reg om 'n vrou te kry. Is daar dan iets fout met my? Ek verstaan dit net nie!”

Die barbier antwoord: “U Majesteit. Daar is één moontlikheid. Ek weet van 'n skaapwagter, ver weg in die berge. Sy is dalk braaf genoeg om in die spieël te kyk. Maar sal u bereid wees om met 'n gewone mens te trou?”

“Gewoon?!” raas die koning. “Dit maak nie vir my saak nie. Sy kan 'n gravin of 'n skrynwerker wees. Al wat ek soek, is 'n goeie mens. Vra haar om dadelik te kom. Asseblief.”

So het die barbier die skaapwagter gaan soek. Natuurlik het almal in die dorp ook daarvan gehoor.

“Lees dit alles! Lees dit hier!” roep die koerantverkoper. “'n Skaapwagter uit die berge gaan in die towerspieël kyk”.

Gou was die koninklike hof gevul met die opgewonde geklets van adellikes, die dames en ridders, die grawe en gravinne, en hertoë en hertoginne. Hul geselsery het skielik verdwyn en p lek gemaak vir ‘n nuwe geluid: die geblêr van 'n trop skape. Die skaapwagter het opgedaag. 

Daar stap sy die koninklike hof binne, en almal raak stil. En haar skape? Hulle kom saggies agter haar aan gedraf. Die skare staan opsy en maak 'n paadjie sodat sy na die koning, en die barbier wat langs hom staan, kan stap.

“Welkom,” sê die koning met 'n warm glimlag, “Kom asseblief nader. Al wat jy hoef te doen, is om in die towerspieël te kyk. As jy slegte dinge gedoen het, of as jy nie 'n goeie mens is nie, sal die spieël lelike merke wys”.

“U Majesteit,” sê sy, “niemand is perfek nie. Ons almal maak foute, en ek is nie anders nie. Ek is seker ek het al foute met my skape gemaak, maar ek dink hulle vergewe my, want hulle laat my toe om vir hulle te sorg. Ek is lief vir my skape en doen alles in my vermoë om hulle te beskerm. Ek het nog nooit daarvan gedroom om 'n koningin te wees nie, maar ek droom wel van 'n goeie man. Ek is nie bang om in u towerspieël te kyk nie”.

Die barbier het die spieël na die skaapwagter uitgehou. Sy’t nader gestap en sonder om te blik of te bloos in die spieël na haar eie weerkaatsing gekyk. Almal in die saal het agter haar saamgedrom saam om te sien. “Daar is geen kolle op die spieël nie!” sê een van die dames.

“Onmoontlik!” sê 'n gravin terwyl sy tussen die skaapwagter en die spieël in druk. Die gravin kyk na haar eie weerkaatsing: “Kyk! Ek sien ook geen kolle nie!

“Hierdie is nie 'n towerspieël nie!” gil sy. “Ons is geflous! Ons is geflous!”

“Dis 'n skande!”

“'n Skandaal!”

“Ekskuus tog!” sê die barbier hard. “As ek net iets mag sê. Julle is reg. Hierdie is nie 'n towerspieël nie. Maar as julle so seker was oor julle eie karakter soos die skaapwagter, en as julle eerlik was met julle self, sou julle nie geweier het om in die spieël te kyk nie”.

Die koning stap na die skaapwagter toe. Hy sak af op een knie en sê vir haar: “Mejuffrou   , ek het geen twyfel dat jy regtig 'n goeie vrou is nie. Ek is seker jy sal 'n wonderlike koningin en 'n fantastiese vrou wees. Sal jy met my trou?”

Die skare hou hul asem in.

“Wel, ek sal u eers moet leer ken,” sê die skaapwagter.

“Ja,” sê die koning.

“Dalk kan ons eers vriende wees?”

“Natuurlik,” sê die koning.

“En, sal daar hier plek vir my trop skape wees?”

“Met die grootse plesier,” sê die koning.

“Dan... aanvaar ek,” sê die skaapwagter. Die skare begin juig. Die skape blêr gelukkig, en die koning neem met groot vreugde die skaapwagter se hand.

En uiteindelik was hulle 'n baie gelukkige paartjie. Hulle het die land met deernis regeer, en almal was lief vir hulle.