Aladdin
Eendag was daar 'n arm weduwee. Al wat sy in die wêreld gehad het, was haar enigste seun – ‘n jong man met die naam Aladdin.
Op 'n dag het Aladdin 'n geheimsinnige vreemdeling ontmoet. Hy het baie deftige klere aangehad, ‘n netjiese baard en hy van agter diep donker oë na Aladdin geloer. En die vraag wat hy vir Aladdin gevra het, was omtrent vir jou buitengewoon.
"Kom hier, seun," het hy beveel. "Hoe sou jy daarvan hou om 'n goue muntstuk te verdien?"
"'n Goue muntstuk!" het Aladdin uitgeroep. "Meneer, ek sal enigiets doen!"
Die vreemdeling het Aladdin na ‘n plek geneem waar dit gelyk het asof daar niks belangrik is nie, maar in die grond was ‘n valdeur.
"Ek gaan nie vreeslik baie van jou vra nie. Maak vir my hierdie swaar valdeur oop en gaan teen die trappe af. Ek is te groot om deur te wurm. As jy doen wat ek vra, sal jy jou beloning kry."
Die vreemdeling het Aladdin gehelp om die swaar valdeur op te lig. Aladdin was klein en maer en het maklik ingepas. Hy het versigtig teen 'n paar stelle kliptrappe afgeklim . . . en homself in 'n groot, donker kamer bevind, wat net dof verlig was deur 'n flikkerende ou olielamp. Maar in daardie dowwe lig, het Aladdin iets wonderliks gesien: bome wat drup van glinsterende juwele, potte vol goud en kiste vol kosbare edelstene. Dit was 'n skatkamer! Aladdin het verstom gestaan met sy mond wat oophang, toe hy 'n uitroep agter hom hoor.
"Die lamp! Blus die vlam en bring vir my die lamp!"
"Waarom sou die vreemdeling, uit al hierdie kosbare skatte, net 'n ou lamp wil hê?" het Aladdin gewonder. "Miskien is hy 'n towenaar."
En hoe reg sou hy nie wees nie! Aladdin het die lamp opgetel en sy pad teruggevind na die ingang toe.
"Gee vir my die lamp!" het die towenaar geskree terwyl hy sy arm uitgesteek het om dit te gryp, maar Aladdin het versigtig teruggedeins.
"Laat my eers uit . . ."
"Ga! Jammer vir jou!" het die vreemdeling kras gesê terwyl hy die valdeur toegeslaan het, sonder om ooit op te merk dat 'n ring van sy vinger afgegly het terwyl hy dit doen. Arme Aladdin is doodbang in die duisternis agtergelaat. Toe hy versigtig in die donker rondtrap, het hy per ongeluk op die ring getrap. Hy het dit aan sy vinger gesit en dit senuweeagtig in die rondte gedraai. Skielik is die kamer oorstroom met lig en 'n groot djin met gevoude arms het op 'n wolk verskyn.
"U wens is my bevel!" het die djin gesê.
Verstom het Aladdin gehakkel: "Ek wil huis toe gaan!"
In 'n oogwink was hy terug in sy eie huis!
"Hoe het jy ingekom?" het sy moeder geroep. Opgewonde het Aladdin haar van sy avonture vertel.
"Waar is die goue muntstuk?" het sy moeder gevra.
"O, moeder! Ek is so jammer," het Aladdin gesê, "ek het dit vergeet. Al wat ek het, is hierdie ou lamp."
"Wel, kom ons hoop dit werk. Dit is so vuil . . ." en die weduwee het die lamp begin vryf.
Skielik het 'n ander djin, ook in ‘n rookwolk, uit die lamp uitgeskiet.
"U het my bevry, ná eeue! Ek was 'n gevangene in die lamp, waar ek gewag het om bevry te word. Nou is ek u gehoorsame dienskneg. U wens is my bevel!" Die djin het gebuig.
"Bring vir ons . . . bring . . ." Aladdin se moeder het sommer ingeval en sy sin vir hom klaargemaak: "'n heerlike groot ete."
Die ete het verskyn, en ook alles anders waarvoor hulle gevra het. Van daardie dag af het die weduwee en haar seun alles gehad waarvoor hulle kon wens: kos, klere en 'n mooi huis, want die djin van die lamp het hulle alles gegee wat hulle hom gevra het.
Aladdin het grootgeword en 'n lang, lenige, aantreklike jong man geword en sy moeder het gevoel dat dit tyd was dat hy vir hom 'n vrou te vind.
Op 'n dag, by die mark, het Aladdin die Sultan se dogter Halima gesien. Hy het net 'n vlugtige blik van die prinses gevang, maar dit was genoeg vir hom om verlief te raak op haar. Aladdin het dit vir sy moeder vertel, wat gesê het: "Ek sal die Sultan om sy dogter se hand vra. Hy sal dit gewis aanvaar."
In die Sultan se paleis het die Sultan vir die weduwee gesê dat haar seun sal moet bewys dat hy waardig is om met die prinses te trou. Dit was eintlik die Sultan se sekretaris se idee, want hy wou self met die Sultan se pragtige dogter met donker oë trou.
"As Aladdin met Halima wil trou," het die Sultan gesê, "moet hy genoeg edelstene bring om hierdie tapyt op die paleis se vloer te bedek."
Aladdin het huis toe gegaan en die djin vertel wat hy benodig.
"U wens is my bevel!" het die djin gesê.
En net so – poef – het ‘n berg juwele verskyn! Toe hy dit die volgende dag sien, was die Sultan geskok. Hy het nooit kon dink dat sulke rykdom kon bestaan nie. Maar die afgunstige sekretaris het tussenbeide getree met 'n vraag.
"Waar sal hulle woon?" het hy gevra.
Die Sultan het vir ‘n oomblik gedink en toe toegelaat dat gierigheid die oorhand kry. “Bou vir Halima ‘n pragtige paleis!” het hy beveel.
Aladdin het reguit huis toe gegaan en, in wat eens net ‘n stuk 'n wildernis was, het die djin vir hom 'n enorme paleis gebou! Die laaste hindernis is oorkom, en die troue het met groot feestelikheid plaasgevind.
Nuus van Aladdin se skielike fortuin en rykdom het soos 'n veldbrand versprei, totdat 'n vreemde handelaar op 'n dag onder Aladdin se venster stilgehou het.
"Ou lampe vir nuwes," het hy na die prinses geroep.
Halima het niks van die krag van die lamp geweet nie en, omdat sy Aladdin wou verras, het sy die ou olielamp gaan haal en dit vir die handelaar gegee in ruil vir 'n nuwe een. Die handelaar het dit vinnig begin vryf . . . en skielik was die djin nou in diens van die towenaar!
In 'n sekonde het hy die hele paleis en die prinses met sy toorkrag na 'n onbekende land laat verdwyn. Niemand het geweet wat gebeur het nie! Net Aladdin het geweet dit het iets te doen gehad met die towerlamp. Maar toe onthou hy die djin van die ring wat hom die eerste kee r gehelp het. Hy het die ring aan sy vinger gesit, dit in die rondte gedraai, en die djin het verskyn.
"Neem my na my geliefde vrou," het hy die djin beveel.
In 'n oogwink het hy homself binne-in sy paleis bevind, en terwyl hy van agter 'n gordyn loer, het hy die towenaar en die prinses gesien.
"Psst! Psst!" het Aladdin gesis.
"Aladdin! Dit is jy . . .!" het Hallima geroep.
"Sjjjjjt. Saggies!. Vat hierdie poeier en gooi dit in die towenaar se tee as hy nie kyk nie."
Sy het so gemaak, die towenaar het niks vermoed nie en rustig aan sy tee geslurp en in 'n diep slaap geval. Aladdin het oral na die lamp gesoek, maar dit was nêrens te sien nie. Ná 'n soektog oral, het Aladdin onder die kussing gekyk. "Die lamp! Eindelik," het Aladdin gesug en dit haastig gevryf.
"U wens is my bevel!" het die djin uitgeroep.
"Eerstens, neem hierdie towenaar ver weg waar hy nooit weer gevind sal word nie."
Die djin het gegrinnik en die towenaar het verdwyn. Halima het Aladdin uit vrees vasgegryp:
"Wat gaan aan?" het Halima gesê, "Wie is daardie djin?"
Aladdin het haar die hele storie vertel. Van die towenaar, die skatkamer, albei die djins en die wense.
"Kan ons terugkeer na ons eie koninkryk?"
"Die towerkrag wat jou hierheen gebring het, sal ons terugneem, maar hierdie keer, met my aan jou sy, sal ons daar bly vir altyd en vir ewig."
Aladdin het die towerlamp gevryf en vir die djin gesê: "Neem my, my vrou en ons paleis terug na ons eie land, so vinnig as wat jy kan."
"U wens is my bevel!" het die djin geantwoord.
Met die klap van 'n vinger het die paleis die lug in opgestyg, oor die Sultan se koninkryk gevlieg, saggies na die aarde toe gesweef om op sy ou plek tot rus te kom. Aladdin en Halima het gehardloop om die Sultan te omhels.
Tot vandag toe kan mense nog steeds bewonder wat oor is van daardie antieke paleis wat mense noem “Die paleis wat uit die lug gekom het.”