Thor se Hamer
Hierdie storie gaan oor Thor, die Noorse god van weerlig en donderweer. Hy het wilde, vurige oë gehad, woeste hare, ’n welige, rooi baard, en spiere so groot soos waatlemoene! Hy was sonder twyfel die taaiste en sterkste van al die gode! Maar dalk nie die heel slimste nie! Soos ons weldra sal uitvind.
Jy sien, Thor het gekuier en geëet by die groot onthaalsaal van ’n reus genaamd Thrym. Thrym was ’n nare, bose skepsel. Hy was nie besonder slim nie, en dan was hy nog skelm ook!
Thor het ’n reputasie gehad vir sy yslike eetlus, en selfs al het Thrym ’n hele gebraaide os vir die feesmaal voorberei, het Thor dit omtrent heeltemal alleen opgeëet. En hy het bokhoring na bokhoring vol bier uitgedrink, totdat hy nie meer so skerp en oplettend was as wat hy behoort te wees nie. Dit was ‘n lang aand, en ‘n groot partytjie en hulle het stories vertel en gelag tot in die vroeë oggendure.
Die volgende dag het Thor wakker geword en effe moeg en dof in die kop gevoel. Soos elke oggend wanneer hy wakker word, het hy heel eerste na sy mees kosbare besitting gegryp: sy hamer.
Hy was so lief daarvoor dat hy dit ’n naam gegee het – Miölnir! Dit was ’n magtige wapen, dit was sterk en kragtig! Dit was sy trots en hy het dit graag gebruik om donderbuie, bliksemstrale en groot storms te ontketen. En dit was weg!
“Nee! My hamer! Waar is my hamer!?”
In ’n bose bui van woede het hy sy hele huis omgedop op soek na Miölnir. Hy het meubels stukkend geslaan en mure omgestamp, en so erg aan die swets en vloek gegaan, dat as ek vir jou moes vertel wat hy alles gesê het, sal ek vir ‘n hele jaar gehok word.
Al hierdie bohaai het die aandag getrek van Loki, die god van slinksheid en bedrieëry. Hy het niks so magtig soos Thor se hamer gehad nie. Nee, hy het ander truuks in sy mou gehad. Hy was byvoorbeeld ’n gedaanteverwisselaar! Hy kon sy voorkoms so verander dat hy heeltemal soos iemand anders kon lyk. Dan was hy nog baie slim en uitgeslape ook.
“Ag, verskoon my, ou kêrel!” sê hy, “Hoekom al die geraas? En kyk net hoe lyk jou huis! Siesa, man. Dit is ’n absolute varkhok!”
Thor, moeg en uitasem van al die gebrul en dinge stukkend slaan, het vir Loki van die verlore hamer, Miölnir, vertel.
“Net... Weg...”
“Thrym, nè?” het Loki gemompel, “Iets sê vir my hy het dalk iets hiermee te doen.”
So het Loki vertrek na Frigga se huis toe. Frigga was Odin, die hoof van die gode, se vrou en ook Thor se stiefma. Loki het aan haar deur geklop.
Die vriendelike vrou het die deur oopgemaak.
“Frigga,” sê Loki, “Leen my asseblief jou valkkleed sodat ek na die saal van Thrym kan vlieg en uitvind of hy weet waar Miölnir is.”
Die kleed was van valkvere en wie ook al die kleed gedra het, kon in ’n valk verander, en dit is presies wat Loki gedoen het toe sy dit vir hom gee!
Hy het deur die lug gesweef, hoog bokant die wolke, en het uiteindelik in Jötunheim aangekom, die plek waar Thrym gewoon het. Hy het die Reus op ’n heuwel gevind waar hy besig was om goue en silwer halsbande om die nekke van sy woeste jaghonde te sit.
Loki, in sy valk-gedaante, het op ’n rots bokant hom gaan sit en die Reus grootpraterig hoor sê:
“Ek sit nou vir julle halsbande van silwer en goud aan, my honde,” sê hy, “maar binnekort sal ons Reuse al die goud van Asgard, die tuiste van die gode, hê, want ons Reuse het Miölnir, die hamer van Thor, gesteel!”
“Ons weet jy het Miölnir,” sê Loki vanuit sy dophouplek. “Maar weet dit: Die oë van die waaksame gode is op jou.”
“Ha, Loki, die ou grapjas en gedaanteverwisselaar,” sê Thrym, “Dis jy! En jy kan maar kyk soos jy wil. Ek het Thor se hamer agt myl diep in die aarde begrawe. Kry dit as jy kan. Dit is diep onder die grotte van die Dwerge.”
“Is daar niks wat ons jou kan aanbied om Thor se hamer terug te gee nie?” vra Loki.
“Nee, Loki, jou klein skelm. Nooit. Nie vir enigiets nie!” het Thrym gebrul.
“Regtig,” sê Loki. “Is daar absoluut niks nie? Geen skat, geen beloning nie? Odin se ring of die magtige skip, Skidbladnir?”
“Nee, nee,” sê Thrym. “Daar is net een ding wat ek in ruil sal aanvaar!”
“En wat sou dit wees, Thrym?” vra Loki terwyl hy nader vlieg.
“Die godin Freya, as my vrou,” sê Thrym.
Loki het Thrym lank met sy valkoë dopgehou. Hy kon sien die Reus is ernstig.
“Ek dra die boodskap oor,” sê hy uiteindelik, en vlieg weg
Loki het geweet dat Freya glad geen begeerte sou hê om Thrym, die domste van die Reuse, se vrou te wees nie.
Loki het die gode van Asgard van Thrym se eis vertel.
“Wel, dis eenvoudig!” het Thor gebrul. “Veels geluk, Freya, dit lyk asof Thrym jou toekomstige man gaan wees!”
“In jou drome, jou bebaarde bees!” het Freya gelag. “Niemand vertel vir my met wie ek mag of nie mag trou nie! Jy moet maar versigtiger wees wanneer jy gaan feesvier!”
En ongeag hoe Thor tekere gegaan het, geskel, geskree of gesmeek het, Freya het haar voet neergesit.
Die gode was radeloos! Hulle sou nooit weer gewone mense op aarde kon help nie, want met Miölnir in die Reuse se hande, moes al hulle krag gebruik word om Asgard te verdedig.
So het hulle in die groot saal van die gode gesit, stil en neerslagtig.
Uiteindelik sê Loki: “Ek het ’n skelm plan bedink wat die hamer van die dom Thrym kan terugwen. Kom ons maak asof ons Freya na Jötunheim stuur as sy bruid. Maar dis eintlik een van die ander gode in Freya se sluier en klere.”
“Wie van die gode sal so ’n lawwe ding doen?” het iemand gevra.
“Ek dink dit is gepas dat die een wat die hamer verloor het, die een moet wees om dit terug te kry,” sê Loki.
“Wat! Ek in vroueklere?” het Thor geskree.
“Ja, Thor. Jy. Met ’n sluier oor jou kop en ’n blommekrans daarop.”
“’n Blommekrans?”
“En ringe aan jou vingers,” het Loki gelag, “En ek sal saam met jou gaan as jou strooimeisi, vriendin Thor! Ons moet Miölnir terug kry.
Thrym sal niks anders as Freya aanvaar nie. As hy vra om jou hand te vat, sê jy “nie totdat hy Miölnir in jou hande geplaas word nie”. Dan, wanneer jou magtige hamer in jou hand is, kan jy doen wat jy die beste doen: jou glorieryke wraak op die Reuse neem!”
“Loki,” het Thor op sy tande gekners, “die gode gaan nooit ophou om vir my te lag nie.”
“Ja,” sê Loki, “maar daar sal nooit weer in Asgard gelag word as jy nie die hamer terugbring nie! Dit is die enigste manier”.
So het Thor en Loki na Jötunheim vertrek. ’n Boodskapper het vooruit gegaan om vir Thrym te vertel Freya en blommemeisie haar is op pad en die troufees moet voorberei word. Die gaste moet genooi en Miölnir moet byderhand wees, om aan die gode van Asgard te oorhandig.
Thrym en sy Reus-ma het alles gereed gekry.
Thor en Loki het by die Reus se huis aangekom, aangetrek as ‘n bruid en ’n strooimeisie. Thor het ‘n sluier op sy kop gehad om sy woeste baard en wilde oë weg te steek, en ’n rooi geborduurde rok. Loki was ook gesluier. Thrym se saal was uitgevee en versier en groot tafels was gedek vir die fees. Thrym se ma het van een gas na ’n ander geloop en gespog dat haar seun met die mooiste van al die gode trou.
Toe Thor en Loki by die saal instap, het Thrym hulle gaan verwelkom.
“My Bruid!” het hy geroep.
Hy wou dadelik sy bruid se sluier lig en haar ‘n groot vet soen gee, maar Loki het vinnig sy hand op Thrym se skouer gesit.
Loki het vinnig sy hand op die Reus se skouer gelê.
“Wag,” fluister hy, “moenie haar sluier oplig nie. Ons gode in Asgard is skaam. Freya sal baie beledig wees as sy voor haar troue gesoen word.”
“Ja! Ja!” sê Thrym se ou ma. “Moenie jou bruid se sluier oplig nie, seun. Hierdie Bewoners van Asgard is baie meer vol manier en goeters as ons Reuse.”
Die ou vrou het Thor se hand geneem en hom na die tafel gelei. Die yslike grootte van die bruid en haar gespierde liggaam het nie die massiewe Reuse by die troue verras nie, want hul eie vrouens was self groot, sterk en stewig! Hulle het vir Thor en Loki aangestaar, maar hulle kon niks van hul gesigte sien nie en min van hul vorms as gevolg van die sluiers.
Thor het by die tafel gesit met Thrym aan die een kant van hom en Loki aan die ander kant.
Toe begin die feesmaal. Thor het vergeet hy’s eintlik ‘n fyn, gemanierde meisie en het dadelik agt porsies salm verorber. Loki het hom met die elmboog gestamp en sy voet getrap, maar Thor was te besig om weg te lê om dit op te merk. Na die salm het hy ’n hele os opgevreet.
“Hierdie meisies van Asgard,” sê Thrym, “hulle mag dalk fyn wees, maar hul eetlus is beslis groot genoeg.”
“Geen wonder sy eet so nie, die arme ding,” sê Loki vir Thrym. “Dit is al agt dae sedert ons Asgard verlaat het. Freya het niks op die pad geëet nie, want sy was so opgewonde om die groot Thrym te ontmoet.”
“Arme ding,” sê die Reus. “Dis eintlik nog min.”
Toe kom die bier. Thor se oë het geglinster van opgewondenheid, en voor lank het drie vate leeg op die vloer gelê.
Toe gly ’n stukkie van die sluir af en vir ‘n oomblik was een van Thor se oë sigbaar.
“Hoekom het Freya sulke vlammende oë?” vra Thrym.
“Arme ding,” sê Loki. “Haar oë brand net van min slaap. Sy het vir agt nagte nie ‘n oog toegemaak nie, so opgewonde was sy om hier uit kom. Maar nou het die tyd aangebreek dat jy hande moet vat met jou bruid. Plaas eers die hamer Miölnir in haar hande sodat sy kan kry waarvoor die reuse haar ruil.”
Thrym het opgestaan en Miölnir in die feessaal ingebring. Thor kon homself skaars bedwing om nie op te spring en dit by die Reus te gryp nie. Maar Loki kon hom kalm hou. Thrym het die hamer se steel in sy aanstaande bruid se hand gesit. En Thor het sy hande om sy hamer toegemaak.
In ’n oogwink het hy opgespring. Sy sluier het afgeval. Sy woedende gesig en sy vlammende oë was vir almal sigbaar. Met ’n magtige brul het hy die saal se muur met ‘n donderslag getref, so hard dat die muur begin kantel het.
Loki en Thor het met groot treë uit die saal gehardloop terwyl dit inmekaar begin sa. Binne het die Reuse gebulder soos die dak en mure op hulle inval.
En so is Miölnir, die hamer van Asgard, verloor en weer teruggewen, danksy Loki, die god van skalksheid en skelm planne, en Thor in sy pragtige rooi rok en sluier!