Die Keiser se Nuwe Klere
Baie jare gelede was daar ’n Keiser wat so dol was oor nuwe klere dat hy al sy geld daaraan bestee het.
"Ek gee nie om oor my soldate nie, en ek gee ook nie om om na die teater te gaan nie, tensy ek ’n kans kry om met my nuwe klere te spog," het hy gesê.
Hy het ’n ander pak klere vir elke uur van die dag gehad. Die tyd het vrolik verbygegaan in sy groot stad. Vreemdelinge het elke dag by sy paleis aangekom.
Eendag het twee skelms, wat hulleself as wewers voorgedoen het, by die paleis opgedaag. Hulle was baie self-ersekerd en die een het kliphard aangekondig: "Ons weet hoe om materiaal van die mooiste kleure en patrone te weef. Die klere wat van hierdie materiaal gemaak word, is wonderbaarlik omdat dit onsigbaar is vir almal wat nie die keiser werd is nie!”
“Of vir mense wat bloot te dom is," het die tweede een bygevoeg.
"Dit moet inderdaad wonderlike klere wees!" het die Keiser gedink. "As ek so ’n pak klere gehad het, kan ek uitvind watter mense in my koninkryk my as keiser waardig is, en watter te dom is. Ek moet dadelik so ‘n pak klere kry."
Hy het die wewers ’n groot klomp geld betaal sodat hulle dadelik met hul werk kon begin.
Die twee fop-wewers het toe twee fop-weefstoele opgestel en gemaak asof hulle baie besig was om te werk, hoewel hulle eintlik glad niks gedoen het nie.
"Bring vir ons die fynste sy en die heel suiwerste gouddraad in die land!”
“Dis vir die keiser se klere!”
Toe dit daar opdaag, het hulle dit in hulle rugsakke gedruk en tot laat in die nag voortgegaan met hulle kamma-kamma werk by die leë fop-weefstoele.
"Ek sou graag wou weet hoe dit met die wewers en my materiaal gaan," het die Keiser gedink.
Toe onthou hy dat dat ’n idioot, of iemand wat onwaardig is, nie die klere sou kon sien nie. Hy het natuurlik geweet dat hy waardig is en nie ’n idioot was nie, maar hy sou verkies om iemand anders te stuur om vir hom nuus oor die wewers en hul werk te bring. Net vir ingeval.
Al die mense in die stad het van die wonderlike towerkrag van die materiaal gehoor, en almal was nuuskierig om uit te vind hoe wys, of hoe dom, hul bure dalk kon wees.
"Ek sal my getroue ou minister na die wewers stuur," het die Keiser eindelik gesê. "Hy sal kan sien hoe die materiaal lyk, want hy is wys en slim, en niemand kan meer waardig as hy wees nie."
Die getroue ou minister het toe na die saal gegaan waar die skelms hard by hul leë fop-weefstoele aan die werk was.
"Wat gaan hier aan?" het die ou man gedink en sy oë baie wyd oopgemaak. "Ek kan nie die kleinste stukkie draad op die weefstoele sien nie." Maar hy’t niks gesê nie.
"Waarom kom u nie ’n bietjie nader aan die weefstoel nie?”
“Hou u van die ontwerp en die pragtige kleure van die materiaal?" vra hulle terwyl hulle na die leë rame gewys het.
Die arm ou minister het gekyk en gekyk, maar hy kon niks op die weefstoele sien nie – om ’n baie goeie rede: daar was niks daar nie!
"Wat!" het hy weer gedink.
"Is dit moontlik dat ek ’n idioot is? Ek het dit nog nooit vermoed nie. En niemand kan dit weet nie! Kan dit wees dat ek onwaardig is? Nee, dit kan ook nie gesê word nie. Ek sal nooit erken dat ek nie die klere kan sien nie."
"Wel, Minister!" sê een van die skelms, terwyl hy steeds maak asof hy werk. "U sê nie of u van die klere hou nie?”
"O, dit is uitstekend!" het die ou minister geantwoord en deur sy bril na die weefstoel gekyk. "Hierdie patroon, en die kleure... Ja, ek sal vir die Keiser vertel hoe vreeslik mooi dit is."
"Ons sal baie dankbaar wees," het die skelms gesê, en toe het hulle die verskillende kleure opgenoem en die patroon van die fop-materiaal beskryf. Die ou minister het mooi na hul woorde geluister sodat hy dit aan die Keiser kon herhaal, en toe het die skelms gevra: "Ons het nog sy en goud nodig. Ons het dit nodig om klaar te maak wat ons begin het."
Maar hulle het alles wat aan hulle gegee is in hul rugsakke gesteek en voortgegaan om net so hard soos voorheen by hul leë weefstoele te maak asof hulle werk.
Die Keiser het toe ’n ander amptenaar gestuur om te kyk hoe die manne vaar, en om te hoor of die materiaal gou reg sou wees. Dit was net dieselfde met hierdie man as met die ou minister; hy het van alle kante na die weefstoele gekyk, maar kon niks behalwe die leë rame sien nie.
"Is die materiaal vir jou net so mooi soos dit vir die ou minister was?" het die skelms gevra en na die leë weefstoel gewys.
"Ek is beslis nie dom nie!" het die amptenaar gedink. "Dit moet wees dat ek nie waardig is nie! Dit is baie vreemd, maar niemand mag enigiets hiervan weet nie."
En so het hy gesê dat hy gaande was oor die kleure en patrone van die materiaal wat hy nie kon sien nie. Toe hy na die Keiser terugkeer, het hy gesê: "Die materiaal wat die wewers voorberei, is fantasties!"
Die hele stad het gepraat oor die wonderlike materiaal wat die Keiser laat maak het. En nou wou die Keiser die duur materiaal sien terwyl dit nog op die weefstoel was.
Saam met sy beste amptenare, onder wie die twee eerlike manne wat die materiaal reeds bewonder het, het hy na die skelm skelms gegaan. Sodra hulle die keiser hoor aankom het, het hulle voortgegaan om te maak asof hulle harder as ooit werk.
"Is dit nie absoluut uitstekend nie?" het die twee amptenare gesê wat al vantevore daar was. "Wat ’n fantastiese ontwerp! Wat ’n wonderlike kleure!" en terselfdertyd het hulle na die leë rame gewys omdat hulle gedink het dat almal anders hierdie pragtige kunswerk kon sien.
"Hoe kan dit wees?" het die Keiser by homself gesê. "Ek kan niks sien nie! Dit is vreeslik! Is ek ’n idioot, of is ek onwaardig om ’n Keiser te wees? Dit sou die ergste ding wees wat kon gebeur—"
"O! Die materiaal is ongelooflik," het hy hardop gesê, en hy het geglimlag en stip na die leë weefstoele gekyk, omdat hy nie kon sien wat die twee amptenare so baie bewonder het nie. Al sy amptenare het nou hul oë ingespant in die hoop om iets op die weefstoele te sien, maar hulle kon niks meer as die ander sien nie. Desnieteenstaande het hulle almal uitgeroep: "O, hoe mooi!" and vir die Keiser gesê: "Laat maak vir u nuwe klere van hierdie wonderlike materiaal, sodat dit reg kan wees vir die parade."
Hulle het almal uitgeroep: "Skitterend! Fantasties! Uitstekend!"
Die Keiser was tevrede.
Die skelms het die hele nag voor die dag van die parade opgesit. Hulle het gemaak asof hulle die materiaal van die weefstoele afrol. Hulle het met hul skêre in die lug geknip en met naalde sonder enige draad geryg.
"Kyk!" het hulle uiteindelik gesê, "Die Keiser se nuwe klere is reg!"
En toe het die Keiser, saam met al die amptenare van sy hof, na die wewers gekom, and die skelms het hul arms gelig en gemaak asof hulle iets ophou terwyl hulle sê: "Hier is u Majesteit se broek! Hier is die hemp! Hier is die baadjie! Die hele pak is so lig soos ’n veer. Dit mag voel asof u glad niks aan het wanneer u daarin aangetrek is nie, maar dit is die groot towerkrag van hierdie materiaal."
"Ja, inderdaad!" het al die amptenare gesê, al kon nie een van hulle hierdie pragtige pak sien nie.
"As u Majesteit asseblief u klere sal uittrek, sal ons die nuwe pak voor die spieël aanpas."
Die Keiser het uitgetrek, en die skelms het gemaak asof hulle sy nuwe pak vir hom aantrek. Die Keiser het voor die spieël van kant tot kant gedraai.
"Hoe wonderlik lyk sy Majesteit in sy nuwe klere, and hoe goed sit dit nie!" het almal uitgeroep.
"Sit my nuwe klere goed?" het hy gevra en homself weer voor die spieël in die rondte gedraai sodat dit gelyk het asof hy sy pragtige pak bestudeer.
"Wat ’n ontwerp! Wat ’n kleure! Dit is inderdaad koninklike klere!"
"Die parade is gereed om te begin," het die seremoniemeester gesê.
"Ek is heeltemal gereed," het die Keiser gesê.
Gou het die Keiser in die middel van die groot parade deur die strate van sy stad geloop, and al die mense wat in die straat en by hul vensters gestaan het, het uitgeroep: "O! Hoe mooi is die Keiser se nuwe klere nie!"
Niemand wou erken dat hy nie hierdie veelbewonderde klere kon sien nie, want as hulle dit sou doen, sou mense dink hulle is ’n idioot of onwaardig.
"Maar die Keiser het glad niks aan nie!" het ’n klein kindjie gesê.
Die hele skare was stil en geskok. Hulle het almal begin fluister oor dit wat die kind gesê het.
"Maar hy het glad niks aan nie!" het al die mense uitgeroep.
Die Keiser was verleë, want hy het geweet dat die mense reg was, maar hy het gedink die parade moet nou maar voortgaan! En so het die Keiser verder geloop, so kaal soos die dag toe hy gebore is.