Jan en die Boontjierank

Eendag, lank gelede, was daar ’n arm weduwee wat saam met haar seun Jan in ‘n klein huisietjie, net buit die dorp gebly het. Hulle was bitter arm, en Jan was nog te jonk om te gaan werk en geld te help verdien. Byna al die meubels in hulle huis was reeds verkoop sodat hulle net brood kon koop. Uiteindelik was daar niks meer oor wat enige geld werd was nie. Net hulle getroue ou koei, Lelieblom, het oorgebly. Elke oggend het sy melk gegee, en Jan en sy ma het dit mark toe geneem om te verkoop. Maar op ‘n dag het Lelieblom skielik ophou melk gee. Dinge het regtig sleg begin lyk.

“Dis oukei, Mamma,” sê Jan. “Ons sal Lelieblom moet verkoop. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek sal ’n goeie prys vir haar kry!.”

Hy vat toe die koei en vertrek mark toe.

’n Entjie verder kom hy op ’n slagter af.

“Goeiemôre, jong man,” sê die slagter.

“Goeiemôre, Meneer,” antwoord Jan beleefd.

“Waarheen is jy op pad?” vra die slagter.

“Mark toe. Ek gaan my koei verkoop.”

“Wel, dan is vandag jou gelukkige dag. Jy was sekerlik bestem om my raak te loop! Ek kan jou die moeite spaar om al die pad mark toe te stap. Kyk net hierna!”

Hy steek sy hand in sy sak en haal vyf effens knopperige en misvormde boontjies uit.

“Wat noem jy hierdie?” vra hy.

“Boontjies,” sê Jan.

“Presies! Maar dis nie sommer gewone boontjies nie. Dis die wonderlikste boontjies in die hele wêreld! Plant hulle vandag, en teen môreoggend groei hulle tot in die hemel. En om jou die moeite van al die pad mark toe stap te spaar, sal ek hulle sommer vir jou ou koei ruil.”

“Towerboontjies vir net een koei? Dit klink soos ‘n winskopie!” roep Jan opgewonde uit.

Hy was só in sy noppies met homself dat hy sommer al die pad huis toe gehardloop het om vir sy ma te vertel.

“Mamma! Kyk wat het ek gekry! Ek het Lelieblom vir hierdie wonderboontjies geruil!”

Maar sy ma was glad nie beïndruk nie.

“Agge nee man,  Janneman! Jou onnosele klein japsnoet!” roep sy. “Wat gaan ons nou eet? Vyf boontjies?”

Sy was so kwaad en teleurgesteld dat sy sommer die boontjies by die venster uitgegooi het.

“Gaan slaap nou. Jy kry vanaand geen kos nie!” sê sy.

En so is arme Jan sonder aandete bed toe. Hy het onder die komberse ingekruip en homself aan die slaap gesnik.

Toe hy die volgende oggend wakker word, was sy kamer nog steeds stikdonker. Maar die haan langsaan kraai, so dit moet al oggend wees. Jan spring uit die bed en hardloop na die venster om te kyk wat aangaan. Buite het die son helder geskyn, maar reg langs sy venster het ’n enorme boontjierank uit die grond gegroei. Dit het so hoog in die lug op gegroei, dat hy nie eers die einde daarvan kon sien nie!

“Ek wonder waarheen dié ding lei,” dink Jan.

Hy klim deur die venster reguit op die boontjierank en begin opwaarts klim. Hy klim en klim en klim, al hoe hoër en hoër en hoër. Ná ’n ruk het die huis waarin hy en sy ma bly, net soos ‘n klein spikkeltjie in die verte gelyk.

Uiteindelik het die boontjierank bo die wolke opgehou. Jan bevind hom in ’n nuwe, pragtige wêreld. ’n Entjie verder staan ’n enorme huis, met ’n breë pad wat tot reg voor die voordeur lei.

Jan stap met die pad langs totdat hy by die enorme paleis van ‘n huis kom. Alles is letterlik reusagtig groot en Jan voel sommer baie klein. Dit moet ‘n reus se huis wees hierdie.

Op die drumpel staan ’n groot, lang vrou: die reus se vrou.

“Ekskuus, Mevrou,” sê Jan. “Kan u asseblief vir my iets gee om te eet? Ek het sedert gister niks geëet nie.”

Die reus se vrou was dalk groot en nie eintlik baie mooi nie, maar sy het ten minste ’n goeie hart gehad.

“Ag, ou kleintjie,” sê sy. “Kom maar in. Ek sal vir jou ontbyt gee, maar jy moet gou maak. As my man, die reus, jou hier kry, eet hy jou op - bene en al!”

Jan is toe vinnig in, en die reus se vrou sit vir hom ’n stewige ontbyt voor. Maar voordat hy kon klaar eet, begin die wêreld te dreun van groot voetstappe buite die voordeur. Dit het selfs die kasteel se dik mure laat bewe.

“Liewe genugtig” fluister die reus se vrou verskrik. “Dis my man! Ons moet jou wegsteek!”

Sy tel Jan op en druk hom in ’n leë soppot.

Die deur vlieg oop, en die reus brul:

“Fie, faai, fou, fnuik!
Is dit ‘n mens wat ek kan ruik?
Is hy lewendig of dood,
ek eet hom soos marmite op my brood!”

“Dis ’n seun! Ek weet dit! ’n Mensekind! Waar is hy? Ek gaan hom vir ontbyt opeet!”

“Ag, nonsens!” sê sy vrou. “Jy verbeel jou dinge. Dis net die reuk van ’n ou vel wat ek looi.”

Die reus brom iets, maar gaan sit toe en eet ’n hele koei op. Toe hy klaar was, sê hy: “Vrou, bring my geldsakke.”

Sy vrou bring vir hom twee sakke vol goud. Die reus begin die goud tel, maar hy is so vol en vaak dat sy kop weldra op en af begin knik. Kort voor lank snork hy soos donderweer.

Jan kruip versigtig uit die pot, gryp die twee sakke goud en klim so vinnig as wat hy kan teen die boontjierank af. Hy is terug by die huisie voordat die reus wakker word.

Jan en sy ma is nou sommer heelwat ryker. Dit was vir haar genoeg, maar Jan was ‘n nuuskierige klein agie. Eendag besluit Jan dat hy graag weer die reus se kasteel wil besoek. Toe sy ma eendag mark toe gaan, klim hy weer tot heel bo .

Die reus se vrou staan weer by die voordeur, maar hierdie keer herken sy nie vir Jan nie, want hy dra nou baie mooier klere as tydens sy eerste besoek.

“Ekskuus, Mevrou,” sê Jan. “Kan u asseblief vir my ontbyt gee?”

“Skoert jy!” sê sy. “As my man, die reus, jou hier kry, eet hy jou op, bene en al. Die laaste seun wat hier aangekom het, het twee sakke goud gesteel! Toe nou, vat die pad!”

Maar Jan het sy beste honger-gesiggie opgesit en die reus se vrou het steeds ’n sagte plekkie vir die arme kind gehad. Sy laat hom in en gee hom genoeg kos om ’n hele rugbyspan te voer.

Net toe Jan begin eet, dreun daar ’weer n geluid soos ’n aardbewing deur die huis. Die reus is op pad! Die arme vrou het skaars tyd om Jan in die oond weg te steek voordat die reus instap.

Sodra die reus die vertrek binnekom, brul hy weer:

“Fie, faai, fou, fnuik!
Is dit ‘n mens wat ek kan ruik?
Is hy lewendig of dood,
ek eet hom soos Marmite op my brood!”

Maar sy vrou verseker hom dat hy hom verbeel. Die reus eet toe ’n gebraaide bok en roep daarna: “Vrou, bring die klein bruin hennetjie!”

Die reus se vrou gaan haal die klein bruin hen en sit haar op die tafel neer.

“Lê!” beveel die reus.

En net so, lê die hen ’n goue eier.

Baie tevrede gaan sit die reus in sy gemakstoel en maak sy oë toe. “Harp, speel!” brom hy en in die hoek begin ‘n goue harp sommer vanself ‘n pragtige deuntjie speel en saam sing!

Sodra die reus begin snork, kruip Jan stilletjies uit die oond. Hy sluip op sy tone na die tafel, gryp die hennetjie en hardloop uit.

Maar die hen begin verskriklik kekkel! Die reus word wakker, maar gelukkig is Jan reeds uit die kasteel uit en ten die boontjierank af teen die tyd wat due reus sy oë behoorlik kan oopmaak.

Maar Jan was nog nie klaar met die reus se skatte nie. Daar was nog iets wat hy graag wou hê: die goue harp. ’n Rukkie later klim hy weer teen die boontjierank op, hierdie keer met ‘n vermomming aan. Die reusevrou laat hom in die huis toe, maar toe sy die reus hoor aankom, steek sy hom vinnig in die skoorsteen weg.

 

Weer begun die reus “Fie, Faai, Fou...”

 

“Aggenee man, Herman. Jy verbeel jou,” val sy vrou hom in die rede.

 

Die reus gaan sit by die tafel. Hy kyk na sy goue harp en beveel: “Sing!”

Dadelik begin die harp sing. Dit is die mooiste musiek wat Jan nog ooit gehoor het. Die liedjies is só soet en mooi dat die reus gou vas aan die slaap raak.

Jan kruip saggies uit die oond en sluip na die tafel. Hy gryp die goue harp en draai om om weg te hardloop.

Maar die harp roep skielik: “Meester! Meester!”

Die reus skrik wakker, net betyds om Jan by die kombuisdeur uit te sien weghardloop.

“Kom dadelik terug, jou klein karnallie!” brul hy.

Hy gryp sy groot knuppel, gemaak van ‘n hele eikehoutboom en storm agter Jan aan. Die reus se treë is enorm, en hy haal sommer vinnig vir Jan in. Jan hardloop so vinnig as wat sy bene hom kan dra. Maar die reus struikel oor ’n groot rots en val plat op sy gesig.

Voordat die reus weer op sy voete kan kom, begin Jan teen die boontjierank afklim. Teen die tyd dat die reus by die rand kom, is Jan al amper halfpad teen die rank af.

Die reus begin ook afklim! Toe Jan hom agter hom sien aankom, roep hy so hard as wat hy kan: “Mamma! Vinnig! Bring vir my ’n byl!”

Sodra Jan onder kom, gryp hy die byl en kap hy die boontjierank middeldeur.

Met ’n verskriklike slag tuimel die reus grond toe. En dit was die einde van hom.

Niemand is seker wat van die reus se vrou geword het? Maar Jan en sy ma het baie ryk geword, en hulle het lank en gelukkig saam gelewe.