'n Hond met 'n Been
Benerige Bennie was 'n geraamte. En ek bedoel nie hy was net baie maer of uitgeteer nie. Nee, hy was letterlik net 'n geraamte! Geen vel nie! Geen spiere nie! Geen binnegoed nie! Net 'n leë, stowwerige, ou geraamte.
"Maar sou hy nie sommer net inmekaarsak in 'n hopie bene nie?" hoor ek jou vra. Nee, glad nie. Jy sien, Benerige Bennie was deel van ‘n groep bekend as die lewende dooies. Dis nou vampiere, zombies, en natuurlik – geraamtes soos Bennie! Ons noem hulle sommer net “die dooies”. Nou, dit mag dalk 'n bietjie moeilik wees om te verstaan. Maar gelukkig vir jou, is ek toevallig 'n kenner van alles bonatuurlik, van mitiese en monsteragtige wesens, en van towerkuns!
Geraamtes word uit die dood opgewek, meestal deur bose nekromante - towenaars wat spesialiseer in die donker toorkuns en veral die lewendig maak van dooies! 'n Tipiese scenario sou wees dat die bose towenaar hulp nodig het met ‘n moeilike taak, dalk 'n geveg teen 'n draak, die bou van ‘n donker put of ‘n tower-toring, of om 'n grillerige, uitmergelende en onaangename taak te verrig, soos om skottelgoed te was. Die nekromant sou dan sy hande rondswaai en geheimsinnige woorde mompel terwyl hy iets soos fyngemaalde beenpoeier rondstrooi (die gemompel en geprewel is hoe hy ‘n towerspreuk oor iets uitspreek), en dan sou die towerkrag begin werk. In een of ander klipperige graf of ou slagveld sou die bene van die dooies stadig na mekaar toe kruip in 'n poging om weer 'n hele geraamte op te bou. Dit was nie altyd onmiddellik nie. Of suksesvol nie. Soms sou die dybeen homself indruk waar die arm-been moes wees, of die skedel sou probeer inpas waar die hand hoort, maar as die towerspreuk reg uitgevoer is, sou 'n volledige, mensvormige geraamte geskep word om die bose nekromant se opdragte uit te voer.
"Tot u diens, meester!" sou 'n tipiese groet wees van 'n nuweling in die wêreld van die lewende dooies. Die nekromant het meestal geen tyd vir sulke basiese maniere of gewone ordentlikheid nie, en sou gewoonlik iets antwoord soos: "Val daardie vuurspuwende draak aan voor dit my verskroei, jou ratelende sak bene!” of, "Jy kan begin deur die skottelgoed te was, dan die vloere te vee, en dan die diere te voer."
In Benerige Bennie se geval, wat deur die bose towenaar Kallie Krulsnor opgeroep is, is hy uit die dood teruggeroep in die middel van 'n taai geveg teen die boomwesens in die Verlate Woud. Daar was feetjies, kabouters, elfies en allerhande boswesens, elkeen woedend oor die teenwoordigheid van die bose towenaar in hulle bos. Hulle was besig om met alle krag en mag teen die towenaar te baklei en arme Kallie Krulsnor was op sy laaste bene. Uitgeput, afgemat en byna verslaan. Toe, voordat Benerige Bennie homself heeltemal kon regruk - sy heup wat aan sy ruggraat vaskoppel, sy ribbes wat bymekaarkom - het Kallie Krulsnor een elf-pyl te veel gekry, en kerplaks! - leweloos op die grond neergeval. Met 'n gejuig het die boswesens vir mekaar handjies geklap en in die digte beblaarde donkerte van die woud verdwyn.
Net te laat het Benerige Bennie se skedel na die boonste werwel van sy ruggraat gerol en vasgeklik. "Tot u diens, meester." Daar was geen antwoord nie. "Meester?" het hy weer onseker geroep. Weer, geen antwoord nie. Sy benerige oogkasse het die oop plek deurgesoek, en gou het hy Kallie Krulsnor gesien waar hy bewegingloos op die grond lê. Leweloos, doodstil, en sonder enige bevele om uit te bulder.
"Ai toggie," het Benerige Bennie gesug, "My beendere het vir dekades lank vreedsaam gelê, en nou dít! Opgeroep vir diens sonder 'n meester! Regtig? Agge nee, man! En nou, 'n ewigheid in hierdie groot, leë wêreld. Geen opdragte, geen pligte, geen doel nie!"
Neerslagtig, teleurgesteld en verveeld het hy teen 'n ou akkerboom gaan sit, en daar het hy gesit... en gesit. Vir dae, weke, maande lank!
Af en toe het hy 'n moeë sug gege, of ‘n irriterende vlieg wat tussen sy ribbes of deur sy leë skedel deur gevlieg het, weggejaag. “Skoert, man!”
Arme ou Benerige Bennie was doodverveeld. Wel, nie heeltemal nie, hy was mos lewendig dood! Hy kon nie sterf nie! Nee, hy was bestem om vir altyd daar te sit, verveeld en beensaam. Skuus, ek bedoel, eensaam!
Kom ons tree nou weg van Benerige Bennie se somber verhaal na nog 'n ewe hartseer storie. 'n Jong man met die naam Neels was besig om deur die donker en verlate woud te stap. Sy vel was lelik gekrap deur dorings, sy klere was vodde en sy hare lank, vuil en gekoek. Hy was doodmoeg, warm en sweterig, so erg dat hy gehyg het, met sy tong wat uithang... 'n Bietjie soos 'n hond! Die laaste sonstrale het deur die blare bo hom verdwyn. Die nag het nadergekom!
"Ag nee! Nie weer nie!" het hy gesug. "Die vervlakste volmaan!" Hy het gaan staan en sy klere begin uittrek.
"Ek kan dit nie bekostig dat nog 'n stel klere oopgerek, geskeur en verniel word nie."
Hy het skaars sy klere netjies opgevou en op 'n hopie neergesit, toe hy opkyk na die maan en begin kreun. Sy liggaam het styf getrek! Sy spiere het op ondenkbare maniere saamgetrek! Hy het geruk en styfgetrek en in ‘n bewende hopie op die grond neergeval, wriemelend van pyn!
Sy vel het begin rek en al hoe meer en meer harig gewod. As hy sy mond oopgemaak het om te skreeu van die pyn, kon ‘n mens sien hoe sy tande al hoe langer word, veral sy slagtande. In ‘n oogwink was sy hele lyf bedek in ‘n dik pels en hy het sy hand, nou meer van ‘n poot of of ‘n klou, na die maan uitgesteek en ‘n bloedstollende huil-gil gegee!
Weet jy wat hier aan die gang is? Dis reg - Neels was 'n WEERWOLF!
Wel, meer van 'n weerhond, eintlik. Amper soos 'n mens vermeng met 'n brakkie! Jy kry allerhande weer-wesens -- weerwolwe (waarvan julle almal seker al gehoor het), weerbere, weerkatte, selfs weerskape en weerkangaroes. Die meeste mense het van pure grillerigheid uit beginsel uit nie gehou het van enige weer-iets nie, en dis dan ook hoekom weer-wesens altyd uit die dorp "gejaag" word, of met silwer pyle geskiet word (Want, jy sien, weerwesens kan net deur silwer beseer word!)
Op 'n dag was arme ou Neels besig om na sy groente om te sien toe hy deur 'n hond aangeval en gebyt is. Hy het paniekbevange gevlug om sy wond te versorg. Wel, ek is seker jy kan raai wat volgende gebeur het. Een oomblik was hy 'n maer, onskuldig-lykende, sproetgesig tiener, die volgende oomblik was hy 'n tjankende weerhond, tien teen een nog met ‘n vlooi of twee ook!
Die dorpenaars het teen hom kom betoog met hulle vurke, grawe, besems, sommer enige ding wat hulle kon gryp, om die kwansuise "boosheid" uit die dorp te jaag!
Boos?! BOOS? Kyk, net omdat die arme seun 'n bietjie te harig was, nie veel tyd vir katte gehad het nie, mal was oor bene kou en geneig was om agter stokke en balle aan te hardloop, maak dit hom nie boos nie! Maar hy het gesukkel om die dorpenaars hiervan te oortuig, en droewig genoeg, het hy na die veiligste plek gevlug waar geen mens durf gaan nie - die Verlate Woud – om van die res sy dae daar deur te bring. Vriendloos, verveeld en eensaam.
Kom ons draai nou weer ons aandag na Benerige Bennie. Hy het op die naat van sy rugstring op die grond gelê, sy gesig na bo, met sy leë oogkaste wat al die kraters op die volmaan probeer tel. Iets wat klink soos ‘n kaasrasper voor ‘n waaier het weerklink. Dit was hoe Bennie geklink het as hy sug en die lug deur sy liplose tande blaas. Benerige Bennie was doodverveeld. Regtig. Hy was tegnies dood. En hy was BAIE verveeld.
Hy was net-net op die punt om sy volgende vervelige aktiwiteit aan te pak, naamlik om die blare in die bome te tel, toe hy 'n harde “klaps”-geluid hoor. Hy het afgekyk en daar was 'n groot brakagtige wese... Besig om aan sy bobeen, sy been se boonste been, te kou!
Dit was Neels, wat verkeerdelik gedink het hy het op die heel beste ding ooit afgekom: 'n hele hoop heerlike bene !
"Nee, man Wagter!!" het Benerige Bennie uitgeroep, "Skoert! Wat dink jy doen jy! Maak ‘n stoffie en gee pad!”
Van pure skrik en jammerte het Neels op sy rug gaan lê, pote in die lug, met sy weerhondstert wat heen en weer waai om te wys hoe jammer hy is.
"Ek is so jammer," het hy uitgeroep, "ek was net op soek na iets, enigiets, om my verveeldheid en eensaamheid te besweer!"
“Oor my dooie liggaam gaan dit my dooie liggaam wees!" het Benerige Bennie gebulder, en met sy benerige hand na die arme weerhond geklap. Maar sy bene het al so lank ongebruik gelê dat hulle nie meer heeltemal vasgeheg was nie, en voor hy wat Benerige Bennie is homself kon kry, het sy vingerbeentjie, soos hy sy arm swaai, doer ver die donker ingevlieg
Bennie het na sy asem gesnak. Onmiddellik het iets in Neels geroer. 'n Diep, hond-agtige instink het hom oorval terwyl hy opgespring en agter die been aan gejaag het.
"My been," het Benerige Bennie wanhopig geskree, "My arme vingerbeen!"
Die been was nog deur die lug aan die vlieg toe Neels agter dit aan spring, mid-spring sy weerhond-lyf heeltemal omdraai, en die been netjies in sy bek vang!
"My vinger," het Benerige Bennie gepleit. "Gee terug my vinger!."
Neels het na Benerige Bennie gedraai, en met volle vaart op hom afgepyl - die benerige vinger in sy mond en kwyl wat weerskante afdrup. Benerige Bennie het gekreun soos hy die heel ergst verwag, en homself voorberei om deur die wrede weerhond verskeur en verslind te word tot daar net been-brokkies oorbly. Groot was sy verbasing Neels net voor hom tot stilstand kom, op sy agterlyf gaan sit, die been laat val, en hoopvol sy stert heen en weer waai!
"Weer," het sy hoopvolle oë gepleit, "WEER!"
"Hmmm," het Benerige Bennie gepeins. "Dit was eintlik lekker. Dit klop beslis blare of maankraters tel." Hy het geglimlag (eintlik het hy altyd geglimlag -- geraamtes het nie 'n keuse nie!) en na die been gegryp, en met 'n uitroep van, "Sa!" dit ver die woud in gegooi. Neels het met ‘n spoed weggetrek en gejaag om die been te gaan haal, en Benerige Bennie was omtrent verheug toe hy met dit in sy bek teruggehardloop kom.
Hulle sê 'n hond is 'n man se beste vriend. Wel, amper reg! Hierdie WEERhond het gou die geraamte se beste vriend geword. En so was hulle eensaamheid verby. Die eensame geraamte en die uitgeworpe weerhond het die res van hulle dae gelukkig saam in die woud deurgebring, mekaar geselskap gehou, en al te lekker gooi-en-vang gespeel!