Maui Tem Die Son
Baie, baie jare gelede was dinge in die wêreld heel anders as wat hulle vandag is. Die dae was byvoorbeeld baie vandag . Dit was alles as gevolg van die son. Dit was altyd so verskriklik haastig! Dit was gewoond daaraan om soggens eerste ding oor die horison te verskyn, en dan deur die lug te jaag soos ’n aangesteekte vuurwerk, en voor jy jou oë kon uitvee, net so, was dit weer donker!
Nou ja, op die eiland Samoa was die mense glad nie gelukkig hiermee nie. Hulle het kliphard gekla:
"Daar is nie genoeg lig vir ons plante om te groei nie!"
"Ek het nie genoeg kerse vir so ’n lang nag nie!"
"Ek loop die heeltyd in die donker teen bome vas!"
Toe het ‘n slim jong man genaamd Maui besluit om op een sterbelaaide aand almal rondom ’n kampvuur bymekaar te roep.
"Mense!" het hy aangekondig, "Ons het nou genoeg gehad hiervan. Ek het ’n plan beraam Ons moet die son vang en hom dwing om stadiger te reis".
"Dit is ’n goeie idee," het die dorp se wyse ou man gesê, "maar dit is heeltemal te moeilik. Dis ‘n onbegonne taak! Die son is te groot, en buitendien is dit baie warm. Wie sou dit ooit kon doen?"
"Ek kan!" het Maui uitgeroep.
Die skare het na hul asem gesnak van verbasing.
"Kyk, ek het die betowerde-kakebeen van my grootmoeder, Murirangawhenua!" Hy het dit hoog bo sy kop gehou. "Dit het towerkragte wat my sal toelaat om die son te vang!"
"Maar ek kan dit nie alleen doen nie. Ek sal ’n span dapper mense nodig hê om my te help! Wie is saam met my?"
Sonder ’n oomblik se huiwering het Maui se broers en susters hul hande opgesteek en uitgeroep: "Ons is!"
Die volgende dag het Maui en sy span die min daglig wat hulle in die oggend gehad het, gebruik om lang toue te vleg waarmee hulle die son sou probeer vang. Nadat hulle genoeg gehad het, het Maui ’n spesiale seën oor die toue uitgespreek.
"Dit sal keer dat die toue verbrand," het hy gesê.
"Aaaaah," het sy broers en susters gesê terwyl die son oor hul koppe gejaag en die lang nag gebring het.
"Almal, nou moet julle my volg," sê Maui.
"Waarheen gaan ons?" vra sy suster.
"Na die plek waar die son opkom!"
Hulle het saam in die pad geval en deur velde, digte woude, oor klipperige berge en deur bruisende riviere gereis. Hulle het gedurende die nag gereis. Tydens die dag het hulle onder bome weggekruip sodat die son hulle nie kon sien aankom nie.
Wanneer hulle by riviere gekom het, het Maui hulle beveel om hul kalbasse met water te vul, wat hulle gedoen het en op hul rûe gedra het. Kort voor lank het hulle by ’n diep, verbrande gat in die aarde gekom. Binne-in, was die son vas aan die slaap.
"Sjoe!" het almal na hul asem gesnak.
"Sjjjjjt!" het Maui gesê. "Ons moet baie stil wees sodat ons nie die son wakker maak nie".
Hy het hulle gesê om van hul water te gebruik om die kleierige grond rondom die gat sag te maak. Toe vat hulle die klei en bou ‘n klein klei-huisie daarvan.
"Ons kan hier wegkruip om ons teen die son te beskerm," het Maui gefluister.
Toe neem hulle die toue en vleg ‘n strik daarvan, en sit dit rondom die gat waarin die son slaap. Uiteindelik het die oggend gekom, en die son het begin wakker word en opkom.
Alles het so warm geword dat die broers en susters uit vrees begin skree en weghardloop het.
"Wag!" het Maui uitgeroep. "Julle moet dapper wees! As ons nou hardloop, sal ons deur die son se vlamme verskroei word!"
Hulle het al hul moed bymekaargeskraap en omgedraai om die opkomende son in die gesig te staar. Die toue het styf getrek soos wat dit om die son gedraai het, maar hulle het dapper aan die toue getrek. Die toue het stywer en stywer gespan, totdat die son heeltemal verstrengel was!
Die son het gebrul toe hy besef wat aan die gebeur is.
"Ek sal julle vernietig! Ek sal julle braai! Ek sal julle verkool! Ek sal julle tot as verbrand! Wie waag dit om my vas te vang!"
"Ek waag dit!" het Maui geskree.
Toe stap hy met die kakebeen in sy hand na die son toe. Die son het ’n diep asem geneem en gereed gemaak om ’n rivier van vuur oor Maui te blaas.
Maar Maui was te vinnig! Hy het die son ’n enorme hou met die kakebeen gegee. Dit was so hard dat die son gebrul het van woede. Hy het hom weer en weer ‘n hou gegee, en die son het bedaar!
"Wat wil julle van my hê!" het hy gepleit.
"Ons beveel jou om stadiger te gaan!" het Maui uitgeroep. "Jy sal nie meer deur die lug jaag asof jy laat is vir ‘n afspraak nie. Van nou af sal jy stadig deur die lug reis".
Die son het gewoel en gewikkel, maar het uiteindelik oorgegee.
"Nou goed," het hy gehyg, "Ek belowe. Ek stem in om stadiger te gaan!"
Maui en sy broers en susters het die toue gelos en die son het stadig in die lug opgedryf. En van daar af het dit vreedsaam verder deur die lug te sweef. Sy frons het gou in ’n glimlag verander.
"Weet julle wat?" het hy afgeroep, "Dit is eintlik nogal pret. Nou kan ek my tyd vat en die pragtige wêreld hieronder beloer".
Hy het gelag: "Ek weet nie hoekom ek dit nie vantevore gedoen het nie! Dankie almal!"
En daar gaan die son verder, stadig op sy roete deur de lug.
Van daardie dag af het Maui en sy mense meer as genoeg tyd gehad om vis te vang, te werk en kos bymekaar te maak, en die son het voortgegaan om stadig deur die lug te reis.