Die ongemaklike maag...
Boris was sy hele lewe lank maar ‘n taamlik rustelose slaper. Die probleem was met sy drome. Verskriklik angswekkende drome, regte egte nagmerries! Soos dat hy oorweldig word deur gruwelike dinge soos... vegetariërs. Of dat hy koel drankies in lang glase vol vrugte en sambreeltjies sit en teug, al te lekker in die son op ‘n tropiese eiland. Agge nee, siesa! Hoe gruwelik!
Hy is juis op hierdie oomblik besig om te kreun en te steun in sy slaap. In sy droom is hy besig om weg te hardloop van ‘n reusagtige knoffelhuisie, so groot soos ’n perd. Die knoffelmonster het lang, maer arms en bene gehad, en ’n bose glimlag op sy knoffelgesig. Dit het Boris volspoed agternagesit en rondgejaag. Al laggende, en met lang knoffelvingers voor hom uitgestrek. “Bwahahahaha!”! Toe verskyn nóg ’n knoffelmonster. En nóg een. En nóg een! Arme Boris was verlore.
“Dit is klaarpraat met my!!” het hy geskree en dramaties op die grond neergeval, terwyl die mal knoffellag die wêreld om hom gevul het.
“Help! Hélp! HEEEEEEELP!
Boris skrik wakker met ‘n halwe gil en ‘n “Kaboem!”
“Oef! Eina!” sê hy soos sy kop iets hard tref. “Ai tog. Simpel kis!” brom hy. “Liewe aarde, wát ’n droom,” sug hy, en vee ‘n laaste druppel sweet van sy voorkop af. Toe verander hy homself in ’n klein miswolkie en sweef deur die krake van die deksel bo-op die kis waarin hy geslaap het. Buite verander hy weer terug na sy gewone menslike vorm, rek hom lekker uit en trek die bloedrooi gordyne van die kamer waarin die kis staan, oop.
“Aaaaah,” sê hy met ’n glimlag vol skerp tande terwyl hy goedkeurend na die volmaan kyk.
Hy neurie al te vrolik terwyl hy aantrek.
“Dis heerlike volmaan,” Hy glip sy netjiese swart pak aan. “Die nag is verby!” Hy maak sy swart mantel vas.
“Soveel pragtige nekke...” Hy glip sy voete in sy swart stewels in.“...gaan gebyt word deur my”
Daar was iets anders aan Boris.
Jy het dit ook seker al agtergekom?
Kom ons dink mooi: Hy haat knoffel, slaap in ’n kis, word snags wakker, dra ’n swart mantel, kan homself in mis verander, praat met ’n vreemde Russiese aksent en dagdroom oor vars bloed. Kom nou! Jy móét weet!
Dis reg! Boris is ’n VAMPIER!
Beter gestel – hy was besig om te leer om ‘n vampier te wees.
Hy het eers ’n paar dekades gelede begin vampier speel, nadat hy deur ’n meer ervare vampier gebyt is, dalk die berugste vampier van almal: die gevreesde Graaf Dracula, wat al eeue lank die mense van Transsilvanië teister. Boris, aan die ander kant, was nog maar ’n groentjie. Hy het nog baie oefening nodig gehad as hy eendag ’n graaf wou wees!
Neem sy hare, byvoorbeeld.
’n Ordentlike vampier se hare moet glad agteroor gekam wees—blink, netjies, perfek glibberig. Boris het dit nooit heeltemal reggekry nie.
Hy sou wakker word, aantrek, sy hare agteroor stryk en, heel tevrede met sy donker-voorkoms, die winderige nag instap. Hy sou met groot treë deur die strate stap en verbygangers dreigend aangluur—maar hulle was meer geamuseerd as bang!
Jy sien, vampiere kan nie hul eie weerkaatsing in spieëls sien nie. As Boris homself in ’n winkelvenster kon sien, sou hy flou geword het. Die wind het sy hare in ’n wilde, sokkerbal-agtige wol-bol opgeblaas—en die haarjel en stileringsolies wat hy gebruik het, het dit in daardie posisie laat vries.
En asof dit nie genoeg was nie, was sy bose lag ook nie heeltemal reg nie. Dit was minder“HA-HA-HA-HAAAAA!”
en meer “Hie-hie-hie-HIEEEE” - soos ’n deurmekaar muis met ’n senuweeprobleem.
Ten spyte hiervan was Boris steeds ’n vampier. Nie ’n baie goeie een nie, maar tog ’n vampier. En nou was hy honger vir bloed!
Hy staan trots by die venster van sy kasteel, swaai sy mantel dramaties om hom—en verander in ’n vlermuis! Fladder-fladder vlieg hy dorp toe om te gaan jag.
Op soek na ’n slagoffer vlieg hy by slaapkamer-vensters in—
“Te maer!”
By Italiaanse restaurante—
“Ag nee! Te veel knoffel!”
By ’n skrynwerker se werkswinkel—
“Pah! Te veel skerp hout goeter!”
Uiteindelik vlieg hy ’n donker stegie binne, waar hy ’n middeljarige, man met ’n wandelstok sien stap.
“Perfek!” dink Boris.
Hy verander voor die man se oë terug in mensvorm, gooi sy arms oop, maak sy mond oop vir ’n “bose” lag en wys twee dun, naaldskerp vampiertande.
“Berei jou voor om jou ondergang te ontmoet!”
Maar voordat ek jou vertel wat volgende gebeur, moet ek eers iets verduidelik. Jy sien, daar is nog ’n soort betowerde wese… drake!
Drake is enorme, gevleuelde reptiele—slim, vreesaanjaend en gewapen met skerp tande. Hul dodelikste wapen is egter hul asem. Party blaas ys, ander giftige suur, maar die bekendste van almal is die Rooi Draak, wat vuur spoeg!
Drake spandeer hul dae besig om dorpe te terroriseer, prinsesse te ontvoer en dapper ridders soos tjoppies te braai. Min mense weet dit, maar baie drake kan ook van gedaante verander - hulle kan mens word... Sien jy waarheen hierdie gaan?
Terug na Boris!
Daardie middeljarige man?
Hy was ’n Rooi Draak in mensvorm!
Sy neusgate rek oop, en in ’n oogwink verander hy in ’n reuse, rooi, skubberige, gespierde, WOEDENDE draak! Hy brul, maak sy bek oop en speog ‘n reusagtige vuurbal!
Enige gewone mens sou net ’n hopie as gewees het. Maar Boris was ’n vampier. Hy verander homself in ‘n miswolkie - ook net betyds!
Die vlam hou uiteindelik op. Die draak het al sy asem uit geblaas, maar daar was geen as nie. Teleurgesteld haal hy diep asem in… en asem die sweempie mis in.
Daardie mis was Boris.
Boris verander weer terug na mensvorm.
“Waar ís ek?” vra hy. “Dis so donker… glibberig… stink… warm…”
Hy was in die draak se maag.
“O nee!” roep hy. “Hoe kon ek só dom wees?!”
Hy slaan teen die maagwande. Niks. Hy byt daaraan. Niks.
“Ek is gedoem,” snik hy. “Boris die Verskriklike, stadig verteer in ’n draak se maag.”
Net toe sy klere begin oplos in die maagsappe, kry hy ’n idee.
“Miskien… net miskien… kan ek hierdie draak laat les opsê. As ek sy maag genoeg kan onstel, dan kan hy my uit-BURP!”
Hy begin inagstig rond te krap.
“’n Prinses se kroon—nee!”
“’n Skaapskelet—bleh!”
“’n Kruiwa?! Watter soort dieet volg hierdie draak?!”
Toe voel hy iets.
“AHA!”
Dit is ‘n volledige wapenrusting van ‘n ridder wat duidelik tweede gekom het teen die draak. Daar was ‘n skild, ‘n helm en natuurlik - n swaard!
“Daardie ridder was duidelik nie opgewasse nie,” grinnik Boris. “Maar ek! Ek gaan ontsnap! Ek gaan hierdie draak die grootste burp in die wêreld laat burp!”
Hy steek die swaard met al sy krag in die draak se maagwand.
Die maag trek saam. Boris word in glibberige, stink buise ingesuig. Hy word rondgegooi—maar iets voel verkeerd. Hy dink hy is op pad mond toe, maar dit vat... bietjie… lank.
En toe – KABLOEFTER!
Boris word met ‘n vaart uitgeskiet, reguit in ‘n klipmuur vas waar hy net so ‘n hopie bly lê, heeltemal uitgeput. Hy kyk op en sien… die draak se stert.
“Nee…” dink Boris
Sy klere is geskeur, en hy is van kop tot tone bedek met ’n slymerige, stink gemors.
“Neeeeeee!” kreun Boris.
Dit was nie ‘n burp nie.
Hy het nie by die mond uitgekom nie.
Hy het by die ANDER KANT uitgekom.
Boris het ontsnap. Hy was nie trots daarop nie. Maar hy was vry. En vir die res van sy dae—hoe hy ook al was, skrop of homself in parfuum verdrink het—was hy vir ewig… Boris, die stinkse vampier in Transsilvanië.