Luister, Lag en Leer! Groot Avonture vol Klein Lewenslese!

Binnekort beskikbaar op 22 Augustus 2025

Wil jy deel van hierdie episode wees?
Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!
‘n Arm, ou visserman het op die rotse gestaan en visvang. Hy was besig om ‘n baie slegte dag te hê.
“Ek gooi hierdie verloekte net oor en oor die see in,” sug hy. “Maar elke keer is daar net mooi niks.”
Die eerste keer wat hy sy net uit die see uit trek, was daar niks behalwe ‘n ou stewel in.
Die tweede keer was daar net ‘n stukkende pot vol slymerige modder…. Die derde keer het hy die net met al sy krag die see ingewerp en al wat hy kon kry was ‘n ou koper bottel. Maar daar was iets aan die bottle wat gemaak het dat hy dit nie dadelik sommer net vies teruggegooi het nie… Dalk die manier waarop dit in die son geglinster het…. Of dalk was dit die vreemde was-seël op die nek van die bottel, vol vreemde inskripsies en merke. Dit kon selfs wees omdat die visserman kon sweer hy’t iets van binne gehoor!
“Is dit ‘n ‘n dowwe geluid wat uit die bottel kom?” het hy gewonder….
Hy’t sy vissersmes haastig uitgehaal, die was-seël om die nek afgehaal… en die swaar kurk uitgetrek. Hy’t die bottel onderstebo gehou en dit geskud…. Maar al wat uitgekom het was ‘n dun straaltjie stok-ou stof… maar in plaas van grond toe val, het die straaltjie stof skuins en opwaarts gewaai…. Die stofstraal het verander in ‘n bondeltjie rook… die bondeltjie rook het ‘n miswolkie geword…en die miswolkie het ‘n tollende warrelwind geword…. En aan die bo-kant van die warrelwind was daar ‘n reuse lyf! ‘n Lyf met sterk arms vol juweliersware… groot hande vol tatoeërmerke, ‘n groot, kaal kop met goue oorbelle, ‘n glimmende tulband, ‘n krullerige weglê-snor, ‘n lang, gedraaide baard en gemene groen oë.
Ek hoor hoe jy vra Wat? ‘n Warrelwind met arms en ‘n kop? Watse sort kreatuur kan dit wees? Wel, as jy die storie van Alladin onthou, dan weet jy die visserman het gestaan voor ‘n… Reuse Djin!
“Kniel voor my!” het die Djin gebulder. “Jou sinnelose stukkie jellievis snot!”
"Maak jouself gereed om te sterf!”
“Maar wat het ek gedoen?” het die verskrikte visserman gevra soos hy in die sand val, terwyl hy stilletjies gewonder het “Het jellievisse ooit neuse?”
Hy was slim genoeg om daardie vraag vir homself te hou
“Hou vas, hou vas, hou vas!” het hy geskreeu. “Ek ken die storie van Alladin en die Djin uit die lamp. Ek het jou dan vrygelaat – wat op aarde het geword van “U wens is my bevel?”
“Jy’t my inderdaad uit hierdie vervloekte bottel bevry,” het die Djinn gebulder. “Maar dis heeltemal te laat vir wense! Vir direst eeu wat ek in daarvdie vervloekte kopter-tronk vasgekeer was, het ek belowe om drie wense toe te ken aan die person wat my sou bevry – maak nie saak hoe gierig hulle sou wees nie. Maar niemand het tot my redding gekom nie.
Het jy enige idee hoe vervelig dit daar binne was? Vir die volgende tweehonderd jaar het ek onderneem dat ek oneindige rykdom sou gee an die een wat my sou bevry. Maar steeds was daar NIEMAND nie! ‘nMens kan ook net so lank skape tel!
Vir die volgende vyfhonderd jaar het ekplegtig onderneem om ‘n hele koninkryk te gee vir die een wat my vrylaat. En wat het dit my in die sak gebring? Net mooi niks nie! Niemand het die bottel oopgemaak nie!
Toe het ek ‘n eed afgelê dat die volgende mens wat ek sien gebuk sal gaan onder my mees wreedaardige wraak! Ek was vir TWEE DUISEND JAAR in daardie verdomde blik vasgekeer. Ek het skape getal – 2 triljoen, drie honderd en twaalf miljard, vierduisend en... ag, watookal. Dit was baie, gehoor?
Soos ek sê, tweeduisend jaar! En nou is jy die een wat die eer gaan hê om aan die ontvangkant te wees... van my wrrrraaaak! Berei jou voor om te STERF! Ha ha ha ha ha!
Die visserman het geril soos die Djin ‘n enorme geboë swaard – ‘n saber – uit sy lyfband trek....
Hy’t vinnig begin dink. Hy moes ‘n manier kry om homself te red!
To die Djinn se groot verbasing, het die visserman vriendelik vir hom ge-knipoog.
“Kyk, my liewe tjom,” het die visserman gelag “dis nou genoeg van hierdie nonsens. Die manier hoe jy sommer so uit nêrens verskyn het, was ‘n baie goeie toertjie, maar ek moet jou sê ek glo doodeenvoudig nie in toorkuns nie. Dis duidelik net baie goeie oëverblindery! Knap gedaan!”
“Wat bedoel jy jy glo nie toorkuns nie?” jet diie Djin weer gebulder, sy gesig so donker soos die binnekant van ‘n skedel se oogkaste. Kyk dan net... NA MY!”
“Wel, towenaars en djins en towerspreuke –niemand glo meer in daardie nonsens nie. Kom bietjie by, ou agter-die-klip-kêrel!” het hy hom minagtend toegesnou.
“Nonsens?!” het die Djin gestotter, die wind heeltemal uit sy seile. “Agter-die-klip?”
“Ek moet sê dit was ‘n baie vermaaklike toertjie,” het die visserman heel kalm voortgegaan. “So vertel my nou asseblief waar het jy weggekruip om dit te laat lyk asof jy uit die bottel gekoom het, dan kan ek jou ordentlik gelukwens met jou formidabele vermoëns. Jy’s duidelik ‘n baie talentvolle straat-vermaker. En hierdie hele warrelwind-besigheid hier onder jou belt is baie oortuigend! Amper outentiek! Knap gedaan! Nie heeltemal perfek nie, maar jy kan daaraan oefen. Oefening en deursettingsvermoë sal die wa mooi deur die drif trek.”
“Hoe durf jy my vermoëns in twyfel trek!” het die djin geskreeu, met groen rookbolle wat by sy ore uitpeul. “Ek sal jou wys ek is 100% eg, jou menslike stuk skuim! Jy – sal –sien!
“Ek sal jou wys dat ek die mees vreesaanjaende djin is wat nog ooit uit ‘n bottel uitgekom het. Ek sal dit bewys, deur net hier, nou dadelik terug in die bottel te klim!”
Skielik het die djin se gesig begin smelt... sy arms en bene het begin verdof... sy groot lyf het in die lug begin glim... Sy gelaatstrekke het verander in ‘n vormlose miswolk... Die miswolk het verdun tot ‘n dun sweempie rook wat al in die rondte begin tol het, soos water wat uit ‘n bad uit loop... en daar begin die Djin terug in die bottel verdwyn...
Soos die laaste rook in die bottel in verdwyn, het die visserman die kurk gegryp en dit so hard as wat hy kan in die bottel ingedruk. Die Djin was WEER vasgekeer!
Die visserman het die bottel so ver was wat hy kon die see ingegooi.... En daar het dit vir eeue lank rondgedryf. Dit mag dalk nog steeds iewers dryf.
So, as jy ooit op die strand loop en sien ‘n koper-bottel op die golwe dryf, of uitgespoel op die sand.... As ek jy was sou ek baie versigtig wees voor ek dit oopmaak