top of page
Die Swaard in die Steen.png

Wil jy deel van hierdie episode wees?

Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!

Die Swaard in die Klip

Toenterjare terug, in goeie ou Engeland, was daar ’n reuse katedraal – gebou van die heel beste klip en glas in die hele koninkryk. Voor hierdie enorme katedraal was daar ’n groot binnehof , en reg in die middel van die binnehof was daar iets ongelooflik spesiaal. Iets wat al so lank daar was, dat niemand meer kon onthou wanneer dit vir die eerste keer verskyn het nie!

Jy sien, dit was ’n massiewe rots – ’n groot stuk klip wat met sagte, groen mos oortrek was. En binne-in die klip was daar ’n geheimsinnige, skitterblink swaard. Die swaard het regop en trots uit die klip uitgesteek, onaangeraak deur wind, reën of tyd. Geen roes het aan die hef geknaag nie, en geen mos het die lem aangetas nie. Dit het gelyk asof dit vandag nog net so skitter soos op die dag toe dit gesmee is, lank, lank gelede. En wat die swaard nog vreemder gemaak het, was die woorde wat in sierskrif in die staal van die lem gegraveer was:
“Die een wat hierdie swaard uit die klip trek, is die regmatige koning van Brittanje.”

Nou, omdat die swaard so beroemd was, en omdat daar altyd meer as genoeg manne was wat hulself as konings beskou het, het daar deur die jare menigte here en leenhere, dapper ridders en selfs ’n paar gewetenlose skelms, opgedaag om hul krag teen die klip te beproef.

Hulle het geswoeg en gesweet, gekreun en gebrom, met gesigte rooi van inspanning – maar nie een kon die swaard roer nie. Nie die sterkste arm of die edelste bloed kon dit laat beweeg nie. Uiteindelik het almal moedeloos weggegaan, een vir een, met swaar harte en seer spiere.

En so het die swaard in die klip ’n soort heilige raaisel geword, ’n geheim waarooor min mense ooit hardop durf wonder of gesels het. Behalwe vir ‘n sagte fluistering hier en daar.

So het die jare gekom en gegaan, totdat dit weer tyd was vir die groot fees op Oujaar waar die ridders bymekaargekom het vir die groot toernooi. ‘n Toernooi was ‘n kompetisie tussen ridders waar twee van hulle met lanse – dit is soos groot hout spiese met ‘n plat voorpunt en ‘n vashouplek agter – op mekaar af jaag op hulle perde, elkeen vasberade om die ander uit sy saal te stamp!

Elke jaar het die magtigste ridders van regoor die koninkryk hierheen gekom – hul wapenrusting – die metaal harnas wat hulle beskerm – blinkgepoets dat dit skitter soos die son, hul helms versier met vere en lintjies, en hul wapens so blink soos spieëls. Daar was tromme gespeel en horings geblaas, geroep en gejuig, en die hele plein het gegons van die opwinding.

Daardie jaar sou die dapper Sir Ector se seun, Sir Kay, vir die eerste keer aan die toernooi deelneem. Sy jonger broer, Arthur, was ook daar – maar net as Kay se wapendraer, sy helper, sy regterhand.

Na drie lang, ongemaklike en stamperige dae te perd het hulle uiteindelik by die fees aangekom. Maar toe Sir Kay sy hand uitstrek na sy getroue swaard, het hy skielik uitroep: “My swaard! Dis weg!”

Arthur het spierwit in die gesig geword, want dit was sy verantwoordelikheid om te sorg dat sy broer se wapens altyd byderhand was. “Ons moes dit in die tent vergeet het!” roep hy uit. “Moenie bekommer nie, Kay – ek sal dadelik terugry en dit gaan haal.”

En voor iemand hom kon keer, het Arthur omgedraai, sy perd aangespoor en soos die wind teruggejaag kamp toe.

Maar toe hy daar aankom, was die swaard nêrens te sien nie. Sy maag het op ‘n knop getrek. “O, genade,” fluister hy, “wat gaan Kay nou sê? Wat het ek gedoen!”

Hy draai stadig om, kop onderstebo, en begin terugry katedraal toe. Hy hoor reeds in sy kop hoe sy broer met hom raas, en hy sug, diep moedeloos..

Toe hy by die groot katedraal verbykom, vang iets sy oog – daar, in die binnehof, half weggesteek tussen die mos en skaduwees wat die son daaroor laat val, steek ’n swaard uit ’n klip uit. Dit blink so helder, dit lyk asof dit van binne af gloei.

Omdat Arthur en sy familie so ver van die stad gewoon het, het hy nog nooit van die beroemde Swaard in die Klip gehoor nie. Hy kyk om hom – daar is niemand nie. Almal is by die fees.

“Wel,” dink hy, “dit lyk nie of iemand dit gebruik ne.. Ek kan dit net vir vandag leen en later weer terugsit. Dit sal niemand seermaak of pla nie.”

Hy trek sy perd nader, spring af, klim op die klip, vat die hef met albei hande – en trek.

En net so: Woerts!

 So maklik soos om ’n aartappel uit die agte grond uit te trek, gly die swaard uit die klip.

Arthur staar na die blink lem. “Dis die mooiste wapen wat ek nog ooit gesien het! Kay sal trots wees!” roep hy uit.

Hy spring terug op sy perd en jaag terug na die toernooiveld. Toe hy aankom, word die ridders al bymekaargeroep.

“Kay!” roep hy asemloos. “Ek kon nie jou swaard kry nie, maar kyk – gebruik hierdie een! Dis net so goed!”

Sir Kay vat die swaard – en sy oë rek van verbasing. Hy en sy pa het pas by van die ander ridders gehoor van die legendariese Swaard in die Klip.

“Vader!” roep hy, “kyk net! Dis dít – dis die swaard!”

Sir Ector stap nader, kyk fyn na die lem en vra streng: “Wie het hierdie swaard uit die klip getrek, Arthur?”

Arthur sluk. “E–ek, Vader. Ek wou dit net leen. Ek het nie bedoel om dit te vat nie.”

’n Skare het begin saamdrom, nuuskierig en opgewonde. “Ek het teruggegaan om Kay se swaard te soek,” verduidelik Arthur haastig, “maar ek kon dit nie vind nie. Toe ek hierdie een sien, het ek gedink ek kan dit net vir vandag gebruik en vanaand weer terugsit.”

Onder leiding van Sir Ector stap die hele skare na die katedraal se binnehof om te kyk of Arthur die waarheid praat.

Voor die leë klip staan ’n ou man met ’n lang grys baard – die beroemde towenaar, Merlin. Sy oë glinster soos ys in die sonlig. Sir Ector oorhandig die swaard aan hom.  Merlin hou dit in sy hande, draai dit stadig om, en vra:

“Wie het hierdie swaard uit hierdie klip getrek?”

Die skare hou hulle asem op. Toe klink daar ‘n klein stemmetjie op: “Dit was ek, Meneer.”

“Ek is regtig baie jammer,” sê Arthur saggies. “Ek sou dit vanaand teruggesit het.”

Merlin knik stadig, kyk vir hom met ’n diep kyk en sê: “Sit dit dan nou terug.”

Arthur stap nader, lig die swaard met beide hande en druk dit terug in die klip – en dit pas perfek, net soos voorheen.

“Lees nou wat daar geskryf staan,” sê Merlin.

Arthur kyk na die letters wat in die staal blink en lees stadig:
“Die een wat hierdie swaard uit die klip trek, is die regmatige koning van Brittanje.”

’n Oomblik lank is dit doodstil. Toe bars die skare los en dit begin suis soos almal fluister.

“Hy moet die koning wees!”
“Maar hy’s net ’n seun!”
“Ek het hom nie sien trek nie!”
“Laat ek probeer!”

“Stilte!” bulder Merlin, en sy stem vul die plein. “Hierdie seun, Arthur, het die geheimsinnige swaard  uit die klip getrek. Hy het die profesie vervul. Daarom, verklaar ek, Merlin die Towenaar, dat hý die ware koning van Brittanje is!”

En so het ’n jong seun, ’n eenvoudige wapendraer, koning geword van al die lande van Brittanje.

En eendag, so vertel die ou stories, sou hy bekend staan as Koning Arthur, die edelste van alle konings, en die held van ‘n duisend verhale.

Maar… daardie storie, my liewe vriend, is vir ’n ander dag.

bottom of page