Luister, Lag en Leer! Groot Avonture vol Klein Lewenslesse!

REPELSTEELTJIE

Wil jy deel van hierdie episode wees?
Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!
Lank gelede was daar ‘n arm boer met ‘n pragtige dogter. Op ‘n dag kry hy die kans om met die koning te praat en toe sê hy vir hom: “My dogter kan goud uit strooi uit spin.
“Wat ‘n indrukwekkende talent!” sê die koning. “As jou dogter so goed is soos jy sê – bring haar môre na die kasteel toe. Dan kan ek sien of dit die waarheid is.”
Die meisie is na die koning toe gebring en toe vat hy haar na ‘n kamer vol strooi, met ‘n spinwiel reg in die middel en sê: “Begin. En as jy teen môre-oggend nie al hierdie strooi in goud in gespin het nie, sal jy sterf.”
Toe klap hy die deur toe en los haar alleen tussen al die strooi.
Die boer se arme dogter het nie geweet wat om te doen om haar lewe te red nie. Sy het glad nie geweet hoe om strooi in goud te spin nie. “Ek kan nie goud spin nie,” het sy geprewel. Sy was so hartseer dat sy begin huil het. Toe, skielik, gaan die deur oop en ’n klein mannetjie kom ingestap en sê: "Goeienaand, boer se dogter, waarom huil jy?"
"Ai, tog!" antwoord die meisie, "Ek moet strooi in goud spin, en ek weet glad nie hoe nie."
Toe sê die mannetjie: "Wat sal jy vir my gee as ek dit vir jou spin?"
"Wat van hierdie halssnoer van my?" vra die meisie.
Die mannetjie het die halssnoer geneem, voor die spinwiel gaan sit, en woer, woer, woer! Die wiel het drie keer gedraai en toe was dit vol goud. Toe vat hy nog strooi, en weer, en woer, woer, woer! drie keer om, en dit was vol. En so het hy aangehou tot die oggend, tot al die strooi in goud verander was en die hele kamer vol goud was.
Die koning het met sonop gekom, en toe hy die goud sien, sê hy: “Dis ongelooflik! Ek wil meer hê!”
Hy neem die boer se dogter na ’n ander kamer, veel groter as die vorige een, ook vol strooi, en sê vir haar: “As jy jou lewe waardeer, moet jy dit alles in een nag tot goud spin.”
Die meisie het nie geweet wat om te doen nie, en weereens het sy begin huil.
Na ‘n rukkie het die deur weer oopgegaan, en die klein mannetjie het verskyn en gesê: "Wat sal jy my gee as ek al hierdie strooi in goud spin?"
“Jy kan hierdie ring aan my vinger kry," antwoord die meisie.
Die mannetjie het die ring geneem en weer begin spin, en teen die volgende oggend was al die strooi glinsterende goud.
Die koning was verheug oor al hierdie skat, maar omdat hy nooit genoeg goud kon hê nie, het hy die boer se dogter na ’n nóg groter kamer vol strooi geneem, en gesê: "Dit moet ook binne een nag gespin word, en as jy dit regkry, sal jy my vrou wees."
Sodra die meisie alleen gelaat is, het die mannetjie weer verskyn en gesê: "Wat sal jy my gee as ek hierdie strooi vir jou spin?"
"Ek het niks meer om te gee nie," antwoord die arme meisie.
"Dan moet jy belowe om vir my jou eerste kind te gee nadat jy koningin geword het," sê die mannetjie.
"Maar wie weet of dit ooit gaan gebeur?" het sy gedink, maar omdat sy niks anders kon doen nie, het sy hom belowe wat hy wou hê.
Hy het begin spin totdat al die strooi in goud verander was.
Toe die koning die volgende oggend alles presies gekry het soos hy dit wou hê, het hy dadelik die troue gereël, en die boer se pragtige dogter het koningin geword.
’n Jaar later het sy ’n pragtige babatjie in die wêreld gebring en nie meer aan die mannetjie gedink nie, tot hy op ‘n dag skielik in haar kamer verskyn en sê: "Nou moet jy vir my gee wat jy my belowe het."
Die koningin was verskrik en het vir die mannetjie al die skatte van die koninkryk aangebied, as hy net die kind sou los, maar die mannetjie het gesê: "Nee, ek verkies iets wat lewe bo al die skatte van die wêreld."
Toe het die koningin so bitterlik begin huil, dat die mannetjie haar jamer gekry het.
"Ek sal jou drie dae gee," sê hy, "en as jy teen die einde van daardie tyd nie kan sê wat my naam is nie, moet jy die kind vir my gee."
Die koningin het die hele nag aan alle name gedink wat sy al ooit gehoor het en ’n boodskapper deur die hele land gestuur om oraloor nuwe name in te samel. Toe die mannetjie die volgende dag kom, het sy alles opgenoem: “Frederik, Pieter, Gerhardus, Sarel, Jacobus, Hendrik, Martinus,” ‘n hele rits name. Maar ná elke naam het die mannetjie gesê: "Dít is nie my naam nie."
Op die tweede dag het sy die bure gevra wat hulle kinders se name is, en die vreemdste name aan die mannetjie genoem: "Miskien is jou naam Worsrol, of Braaibroodjie, of Deurstopper?" Maar elke keer het hy gesê: "Dit is nie my naam nie."
Op die derde dag het die boodskapper teruggekom en gesê: "Ek kon geen nuwe naam kry nie, maar toe ek deur die woud stap, het ek by ’n hoë bult gekom, en daar naby was daar ’n klein huisie, met ‘n vuur wat voor hom brand. ’n Eienaardige klein mannetjie het rondom die vuur gedans, op een been gespring en gesing:
‘Vandag kan ek bak, môre kan ek brou,
Oormôre kry ek die kind van die koning se vrou;
Niemand weet wie ek is, of waar kom ek vandaan
En niemand weet Repelsteeltjie is my naam!’”
Jy kan nie dink hoe bly die koningin was om daardie naam te hoor nie. En kort daarna, toe die mannetjie weer instap en sê, "Nou, mevrou Koningin, wat is my naam?" het sy eers gesê: "Is jy Christoffel?"
"Nee," antwoord hy.
"Is dit dalk Theodorus?" vra sy weer.
"Nee," sê hy. En toe sê sy: "Dan is jou naam seker Repelsteeltjie!"
"Wie het jou dit vertel! Wie het jou dit vertel!" skree die mannetjie, en hy was so woedend dat hy met sy regtervoet ‘n gat in die grond gestamp het. So hard dat hy d tot by sy knie ingesink het. Toe gryp hy sy linkervoet en probeer so hard om homself uit die gat uit te pluk, dat hy homself in twee skeur! met albei hande in woede en trek homself somme in twee geskeur het.
En dit was die einde van Repelsteeltjie.