top of page
mushert.png

Wil jy deel van hierdie episode wees?

Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!

Muishert en Tier

 

’n Muishert is ’n vreemde diertjie. Jy kry hom in die woude van Indonesië en Maleisië. Hy het die gesiggie van ’n muis met ’n oulike snaweltjie, maar die lyfie en pote van ’n takbokkie. Hy is klein – omtrent so groot soos ’n kat – met pragtige bruin pels en wit kolletjies.
Baie groter roofdiere sou hom graag wou vang en eet, maar die muishert is te slim en te slinks vir hulle. Hoe hulle hom ook al probeer bekruip of rondjaag – hy glip altyd weg!

Die meeste diere het al moed opgegee om ooit die muishert te vang, en het besluit om liewer makliker prooi te soek.
Maar daar was een dier wat nie kon vrede maak met die feit dat hy nie die m uishert kon vang nie — die tier.

“Ek is die heerser  van hierdie oerwoud!” het hy gebrul. “Almal moet voor my buig en bewe! Geen dier gaan my uitoorlê nie!”

Eenv dag lê die tier en snork bo-op ’n dik tak in die mik van ’n hoë boom. Skielik hoor hy ’n geluid. Een oog gaan stadig oop.
En daar, onder hom, sien hy die muishert wat vrolik tussen plante rondspring en vir kos soek.

Sonder om twee keer te dink, spring die tier van die tak af – en land reg voor die muishert!

“Wel, halló daar,” sê hy dreigend.

Die muishert probeer weghol, maar ’n groot tierpoot slaan neer op sy been.

“Op pad êrens heen?” lag die tier. “Of dalk lus vir ’n ete — saam mét my, natuurlik.”

Al was die muishert baie bang, het hy nie paniekerig geraak nie.

“Ag, edele Tier,” sê hy, “ek sou niks liewer wou hê as om myself aan u te offer nie — maar ek is besig met belangrike werk. Ek moet waghou oor die koning se poeding.”

Hy wys met sy snoet na ’n bruin, ronde dingetjie op die grond.

Die “poeding” het dalk soos ’n sjokoladepoeding gelyk, maar dit was glad nie gemaak van suiker of meel of kakao nie. Nee, dit was ’n mengsel van droë blare, modder en... wel... kom ons sê maar net iets wat agter uit ’n koei kom! Hoop nie jy’t daai een ge-“mis” nie...

“Die koning het streng beveel,” sê die muishert, “dat NIKS daarvan geproe mag word nie.”

Die tier se ore spits. “As dit die koning se poeding is,” dink hy, “moet dit heerlik wees!”

Heeltemal oorrompel deur nuuskierigheid steek hy sy poot uit na die poeding toe.
Die muishert gryp sy kans — en hol weg so vinnig soos sy beentjies hom kan dra.

Die tier glimlag. “Laat hom maar loop. Hy’s klein en skraal en maer en seningrig — niks in vergelyking met ’n heerlike, sagte, soet, sjokoladepoeding nie.”
Hy tel die poeding op, lig dit op tot by sy honger bek, maak sy oë toe... en gee n enorme groot hap!

“BLEEEURG!” brul hy. “Dis nie poeding nie! Dis—!” Hy spoeg en hoes en vee sy bek af met ’n klomp blare. “Ek is bedrieg! Kom terug, jou skelm! Ek gaan jou kry — en dan sal jy spyt wees!”

Soos die wind jaag hy die muishert agterna.
Toe hy by ’n stroompie kom, sien hy die muishert daar staan, heel rustig, amper asof hy vir hom wag.
Langs die muishert lê ’n vreemde bruin ding, omtrent so groot soos ’n sokkerbal, vol gaatjies.

“Nou kyk hier, MUISHERT,” grom die tier, “of miskien moet ek jou sommer MIDDAGETE noem! Jy’t my gekul, ja, ja! Maar nou gaan ek daardie slegte smaak van poefpoeding uit my mond uit was — met JOU!”

“My liewe Tier,” sê die muishert kalm, “ek sou geërd wees om u ete te wees, maar ek is besig om die koning se trom op te pas. Hy maak die mooiste, magtigste geluid. Die koning het beveel dat NIEMAND op sy trom mag slaan nie.”

Die tier se oë blink. “Miskien net een keer,” sê hy.

“Wel,” sê die muishert, “nou goed, maar net een dromslag... en dán mag u my eet.”

Die tier kom nader. Die “trom” was natuurlik glad nie ’n trom nie — dit was ’n perdebynes!
Hy gee dit ’n harde klap... en onmiddellik bruis daar ’n swerm kwaai perdebye uit wat hom oral oor sy lyfsteek!

“AAAAARGH!” brul hy en spring in die stroom om van hulle ontslae te raak.

Die muishert giggel en hardloop weg tussen die bome in.

“Ek sal jou nog kry,” grom die tier, terwyl hy onder die water vir die perdebye wegkruip.

Ná ’n ruk volg hy weer die muishert se spore, en kry hom by ’n groot klip.
Langs hom lê ’n lang, geelrooi ding met ’n glinsterende  skubpatroon.

“Moenie naderkom nie,” waarsku die muishert. “Ek is besig met amptelike werk — ek bewaak die koning se belt.”

Die “belt” was dun en lank, met iets soos ’n geel tongetjie waar die gespe sou wees.

“Laat ek dit probeer aanpas!” sê die tier.

“Maar dis die koning s’n,” protesteer die muishert.

“Ek gee nie om nie! Jy’t my al drie keer in die versoeking gebring met hierdie koninklike goed. Nou wil ek dit self hê! Gee dit vir my — NOU!”

“Wel, as u aandring,” sug die muishert, “kom haal dit dan.”

Die tier gryp die “belt” en draai dit om sy lyf. Eers gebeur niks.

“Ek verstaan nie wat so spesiaal is nie,” brom hy.

Maar daar was iets spesiaal. Die “belt” begin beweeg — dis al die tyd ’n slang!
Die slang se oë gaan oop, sy tong flits, en hy begin sy lyf al hoe stywer om die tier draai.

Die tier brul en rol en klap en byt, tot hy uiteindelik losbreek. Die slang seil vinnig weg tussen die bosse in.

Die muishert was natuurlik lankal weg — al wat die tier hoor, is ’n sagte giggel in die verte.

“Ek wil daardie muishert nóóit weer sien nie!” sê hy, terwyl hy met geswelde pote, brandwonde, bytmerke en ’n stink bek wegstrompel.

Die Einde

bottom of page