Luister, Lag en Leer! Groot Avonture vol Klein Lewenslese!

KLIPSOP

Wil jy deel van hierdie episode wees?
Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!
Op ‘n dag het ‘n reisiger, moeg en gehawend na die lang pad, in ‘n klein dorpie aangekom. Dit was moeilike tye en die mense van die dorp was nie baie vriendelik of gasvry teenoor vreemdelinge nie. Ook nie eers teenoor mekaar nie, om die waarheid te sê. Hulle het die vreemdeling agterdogtig van agter toe deur en vensters bekyk.
“Moet asseblief nie bang wees nie!” roep hy deur die leë strate. “Ek’s net ‘n eenvoudige reisiger op soek na ‘n warm maaltyd en ‘n plek om te slaap.”
​
Een van die huise se deure kraak op ‘n skrefie oop en ‘n ou tannie loer versigtig uit.
“Jy gaan niks hier kry nie, vreemdeling. Ons het geen kos nie. Ons is swak, en ons kinders is honger. As ek jy was, sou ek maar net aan beweeg.”
​
“O, nee-nee-nee! Ek sal nie daaraan dink om julle vir iets te vra nie. Ek het alles wat ek nodig het vir ’n maaltyd,” sê hy. “Ek het gedink ek gaan ’n bietjie… klipsop maak.”
​
“Klipsop?” kom die antwoord.
​
“Klipsop!” sê die reisiger. “En ek deel dit graag met julle almal!”
​
Hy haal ’n groot ysterpot uit sy bagasie, maak dit vol water en in ‘n japtrap het hy dit op ‘n vuurtjie. Terwyl hy wag vir die water om te kook, maak hy sy rugsak oop. Hy haal ’n paar bakke en ’n opskeplepel uit, en toe steek hy sy hand diep in die rugsak en haal met ‘n groot dramatiese gebaar iets uit: Dit is.... ‘n Doodgewone klip! Hy hou dit hoog bo die pot op en laat dit met ’n plons in die kokende water val.
​
“Mmmmm, daar is darem maar niks lekkerder as ’n heerlike bak vol klipsop nie!” sê hy, terwyl hy sy lippe aflek.
Die hele gedoente het teen die tyd die meeste dorpsmense uit hulle huise gelok en die res het nuuskierig deur hulle deure en vensters geloer.
​
“Klipsop?” brom Ou Karel Knippies die ou kleremaker. “Ek het nog nooit van só iets gehoor nie!”
“Hy is van sy kop af, as jy my vra,” sê sy vrou.
​
Die vreemdeling hoor hulle en glimlag. “Nie meer lank nie. dan kan julle kan kom proe. Glo my, dis heerlik. Daar’s baie weergawes van klipsop: klipsop met baie water, met min water, growwe gruis-sop, leiklip-sop, Maar dit is regtig ‘n jammerte hier is nie net ‘n klein bietjie kool in nie. Klipsop met kool is koningskos!”
​
“Kool?” fluister die kleremaker vir sy vrou. “Het ons nie ’n bietjie kool nie?”
​
Sy vrou begin opgewonde in haar kombuis rondskarrel en kom uiteindelik met ’n kosbare stukkie kool vorendag. Hulle stap saam na die reisiger en gee dit vir hom.
​
“Dis nie baie nie, maar… klipsop met kool klink nogal interessant!”
​
“Wonderlik!” roep die vreemdeling. Hy kap die kool op en gooi dit in die pot. Hy roer aanhoudend, proe elke nou en dan en lek sy lippe tevrede af.
“Dit is so te sê reg. Jy weet, die heel beste klipsop wat ek ooit geëet het, het ‘n stukkie gesoute beesvleis in gehad, maar as ons dit nie het nie, is dit nie die einde van die wêreld nie.”
​
Kort daarna kraak ’n ander deur oop. Oom Hans Viervingers, die slagter strompel opgewonde nader, rooi in die gesig en uitasem. “Ek het gesoek en ek het waaragtig vir jou stukkie beesvleis!” sê hy, en gee vir die die reisiger ’n klein pakkie. “Dis nie baie nie, maar dit sal goed werk in daardie pot.”
​
“Wonderlik!” sê die resiger. “Enigiets werk in klipsop!”
​
Die vleis gaan in. Oom Hans en Karel Knippies en sy vrou staan met groot, honger oë en staar na die pot.
Skielik gaan nog ‘n deur oop. “Ek het ’n paar aartappels,” roep iemand.
​
En nog een: “Wat van wortels?”
​
“Miskien sampioene?”
​
“Ek’s seker ek’t ‘n ui of twee!”
​
“Ek dink ek het iewers ’n bos seldery!”
​
’n Hele skare begin om die vuur saamdrom. In ‘n oogwink bring ieder en elk in die dorp iets uit hulle tuine of spense om die sop nog lekkerder te maak. En alles gaan in die pot in.
​
Almal staan en opgewonde en wag. Mense lag en gesels, vertel grappies en iemand begin selfs musiek speel.
“Dis die meeste pret wat ek in jare gehad het,” roep die ou tannie wat eerste met die vreemdeling gepraat het.
​
Teen die tyd het die sop al te heerlik geruik. Die reisiger staan nader en neem nog ’n sluk. Almal kyk in stille afwagting.
​
“Dis reg!” roep hy uit en begin lepelsvol in die bakkes skep en uitdeel.
​
“Heerlik!”
​
“Uitstekend!”
​
“Wonderlik!”
​
“Verruklik!”
​
Almal bedank die reisiger vir die wonderlike klipsop. Die burgermeester stap na hom toe en sê: “Ons het nie veel geld nie, maar ons sal graag jou towerklip wil koop.”
​
Die reisiger glimlag en antwoord: “Dit was nie die klip wat die sop so lekker gemaak het nie!”
​
Die dorpenaars snak na hul asem!
​
“Dit was julle. Met al die ander bestanddele wat julle so vrygewig geskenk het. Soms, nes met hierdie klipsop, as almal net ’n bietjie bydra en doen wat hulle kan, as almal saamwerk, kan ons wonderwerke verrig!”
​
Die dorpenaars bedank die reisiger, en van daardie dag af – selfs in moeilike tye, nee, JUIS in moeilike tye – was hulle vriendeliker en meer hulpvaardig teenoor mekaar. Wanneer hulle saamgewerk het, was geen taak of uitdaging ooit te groot nie.