Luister, Lag en Leer! Groot Avonture vol Klein Lewenslesse!


Wil jy deel van hierdie episode wees?
Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!
Issun Boshi, die Een-Duim Samoerai
Baie, baie jare gelede in Japan, het daar ’n ou man en ’n ou vrou gewoon. Hulle was al vir baie jare getroud, en al het hulle wou vreeslik graag ’n gesin hê, maar het hulle nooit kinders gehad nie. Elke dag het hulle na die Sumiyoshi-heiligdom gegaan en gebied en gesmeek vir ‘n kind.
En toe, eendag, is hulle gebede uiteindelik verhoor! Hulle is geseën met ’n klein seuntjie. Nie net klein soos ’n baba nie — o nee! Hierdie kind was rêrig, RÉRIG klein! So piepklein, hy was skaars so lank soos jou vinger! En nie jou wysvinger nie — jou pinkie!
Die ou mense was oorstelp van blydskap. Die ou vrou het die babatjie saggies in haar hand vasgehou. Die ou man het sy arm om haar gesit en saam het hulle met liefde na die seuntjie gekyk.
“Wat sal ons hom noem?” vra die ou man.
“Ek dink Issun-Boshi,” sê die ou vrou. “Dit beteken ‘Een-Duim Samoerai’.” (‘n “Duim” is ‘n ou manier van lengte meet, en is net bietjie meer as 2 sentimeter.)
En so was dit! Issun-Boshi, of Inchy-Bo soos hulle hom kortweg genoem het, was in alle opsigte soos enige ander baba — behalwe vir sy grootte. Al het hy baie goed geëet, het hy nooit groter geword nie! Maar hy het wel ouer geword, en hy het gelag, gespeel en vol verwondering die wêreld rondom hom ontdek. Hy het hom graag verbeel hy’s ’n dapper samoerai — ’n groot en legendariese Japanse kryger— en hy het daarvan gedroom om eendag na verre, geheimsinnige bestemming te reis.
Eendag het hy op ’n lelieblaar by die rivier gesit en na die water gekyk wat verbyvloei.
“Waarheen vlei hierdie rivier?” vra hy sy ouers.
“Na die groot stad, Kyoto,” sê sy ma.
Inchy kyk droomerig na die stroom en waar dit om die raai verdwyn. “Dit moet ’n wonderlike plek wees. Ek sal graag eendag daarheen wil gaan.”
Sy ouers het hom ongelooflik baie lief gehad, maar hulle het ook geweet dis belangrik dat hy self die wêreld gaan verken.
“Jy kan gaan,” sê sy pa, “en ons sal jou help voorberei.”
Sy pa het vir hom ’n rysbakkie gegee om as ’n boo te gebruikt, en ’n eetstokkie as ’n roeispaan. Sy ma het vir hom een enkele ryskorrel gegee — “Dis genoeg kos vir ’n week, my kind” — en toe gee sy hom ook ‘n naald: “Elke samoerai het sy eie swaard nodig.”
By die rivier klim Inchy in sy bakkie, pak sy swaard en kos onder in, en sy ouers groet hom met trane van trots. Sy pa gee hom ’n sagte stoot en daar dryf hy weg — vinnig saam met die stroom, op pad na Kyoto.
Die reis het baie dae geduur. Hy het deur donderstorms gevaar, visse wat sy boot wou omkeer met sy eetstokkie weggehou, en selfs voëls wat afgeswiep het en hom wou opeet, met ’n hou van sy naald-swaard teen die snawel verjaag!
Uiteindelik het die rivier al hoe breër geword, en daar voor hom het die stad Kyoto gelê — groot en vol lewe!
Visverkopers roep: “Vars geelstert! Heerlike paling! Kry dit terwyl dit nog vars is!”
Blommeverkopers skree: “Kersiebloeisels! Kosmos! Tien jen vir ’n bossie!”
En riksjas, manne wat reisigers in ‘n karretjie rondtrek, het verby hom gedraf.
Toe hy by ’n stiller straat kom, gaan sit hy op ’n klip en eet die laaste happie van sy ryskorrel. Voor hom was ’n groot huis met pragtige ingang.. Hy tel sy goed op, ruk hoself reg, hou sy lyf regop en dapper, en klop aan die deur.
“Hallo?” sê iemand met ‘n vraende stem!
“Hier onder!” roep Inchy.
’n Vriendelike man in ’n blou kleed kyk af en sien hom.
“Ek is Inchy-Bo,” sê die seuntjie en buig. “En ek soek na werk.”
“Ek is die Heer van Sanjo,” sê die man glimlaggend. “En watse werk soek jy?”
“Ek wil graag ’n samoerai wees!” sê Inchy.
Die Heer van Sanjo was sommer bly en het beïndruk geglimlag. “Ek dink ek het die perfekte werk vir jou — jy kan my dogter Haru beskerm.”
Haru was ’n vriendelike meisie, omtrent so oud soos Inchy. Sy het van die begin af van hom gehou en hy het diep in haar hart gekruip. Inchy het sy werk met trots gedoen. Hulle het dikwels saam by die visdam gesit; sy het gedigte geskryf en hy het daarna geluister.
Eendag het die wind een van haar gedigte in die dam in gewaai, en ’n groot goue vis wat dit wou insluk het daarop afgepyl! Maar Inchy laat nie op hom wag nie. Die dapper jong man spirng op, land op die vis se neus, prik hom met sy naaldswaard so reg in die neusgat, en die vis gee ‘n klipharde nies en laat spat terug in die water in – sonder Haru se gedig! Haru het al te lekker gelag vir die niesende vis, maar sy was ook diep beïndruk met haar klein, dapper samoerai.
Toe, een lenteaand, kom daar ‘n aaklige geraas uit die bos uit. ’n Reusagtige monster, ’n Oni, bars tussen die takke! Hy was rooi, harig, met drie horings en drie gloeiende oë, en hy het ‘n groot ysterspies wat hy kwaai rondswaai.
Inchy trek sy naald-swaard uit en gaan staan gereed. Die Oni storm op Haru af, maar sy rol net betyds weg en begin weghardloop. Terwyl sy weghardloop, struikel sy van val en die Oni pyl reguit op haar af — maar skielik, net voor hy by haar uitkom, gee die Oni ‘n bloedstollende gil van pyn! Inchy het hom met die naald in die voet gesteek!
“Jy sal haar nie vat nie!” roep hy.
“Wat het ons nou hier?” grom die Oni. “’n Lekker vingerhappie?”
En voor Haru kon keer, gryp Die Oni vir Inchy en sluk hom heel in!
Maar binne-in die Oni steek en prik Inchy so verwoed met sy naald dat die monster begin brul: “Aaagh! Dis binne my! Kry dit uit! Ek kan nie meer nie!”
Toe, met ’n groot atisjoe! nies hy en Inchy spat by sy mond uit! Die klein samoerai val op die grond, rol holderstebolder maar kom tot stilstand en gaan staan dadelik weer gereed met sy swaard:
“Trap! Gee pad hier, jou aaklige gemense monster! En moenie weer jou aaklige gesig hier rond kom wys nie, hoor jy”
So baie woede van so ‘n klein mense het die Oni nog nooit gesien nie en hy hardloop weg so vinnig as sy pote hom kan dra.
Haru hardloop na Inchy toe, vee die slym en Oni-spoeg van hom af en sien ’n glimmende voorwerp agter ’n klip.
“Kyk! Die Oni se hamer! Dis ’n towerhamer wat enige wens laat waar word!”
Inchy kyk na Haru en sê: “Ek wens ek kon groter wees.”
Sy kniel, swaai die hamer en sê:
“Inchy-Bo, samoerai, dapper en klein,
Laat die groot held wat jy is nou verskyn!”
En voor haar oë groei hy tot ’n regte, volle grootte jong man!
Inchy en Haru het later verlief geraak en gou getrou. Hy het saam met sy bruid na sy ouers teruggekeer. Hulle het was verras, verbaas en verbly en almal het saam gelag, gehuil van blydskap en groot feesgevier.
“Ons gee nie om hoe jy lyk nie, Inchy,” sê sy ma. “Of jy groot of klein, dik of dun is — dis wat binne jou hart is wat saak maak. Vir ons sal jy altyd ons dapper Een-Duim Samoerai bly.”