top of page

Binnekort beskikbaar op 22 Augustus 2025

DIE GEMMERBROODMAN

Gemmerbrood Cover.png

Wil jy deel van hierdie episode wees?

Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!

Eendag het daar ‘n ou man, ‘n ou vrou en ‘n jong seun saam gewoon.

​

Op ‘n dag was die vrou besig om brood te bak. Daar het van die deeg oorgebly en sy het besluit on ‘n gemmerbroodman te bak. Eers het die ou vrou die deeg gevorm om die gemmerbroodman te maak. Die seun het twee rosyntjies vir oë en ‘n bloedrooi kersie vir ‘n neus opgesit, en daarna ‘n halfmaanvormige sny appel vir ‘n glimlaggende mond, en drie druiwe vir hempsknope.

​

Die ou vrou het die gemmerbroodman in die warm oond gesit en uitgegaan om tyd in haar tuin te spandeer. Die seun het net daar by die oond bly wag – hy was baie honger.

​

‘n Ruk later swaai die oonddeur skielik oop en daar spring die gemmerbroodman uit die oond uit! Die seun was absoluut stomgeslaan. Die Gemmerbroodman dadelik koers vir die deur en hardloop uit na die tuin toe.

​

Die seun kon sy oë nie glo nie, maar na ‘n ruk kon hy darem uiteindelik iets uitkry. “Help! Die gemmerbroodman is besig om weg te hardloop” het hy geroep.

​

Die ou man het opgespring van waar hy besig was om die kruiwa reg te maak, die ou vrou het haar petunias net daar gelos en al gillend en skreeuend agter die Gemmerbroodman man aangehardloop. “Kom hier!” het sy geroep, “Hou vas!” het hy gegil en daar is hulle saam met die seun agter die Gemmerbroodman aan, al drie in ‘n ry.

​

Die Gemmerbroodman het net omgekyk en geroep “Hardloop, hardloop, hardloop, so vinnig soos jy kan! Jy kan my nie vangnie , ek’s die Gemmerbroodman!”

​

Hy sit sy duim teun sy neus en fladder sy vingers in die lug terwyl hy koggel: “RRRRRRrrrrrt!!! – Nanananana!”

​

Kort voor lank het ‘n rondloperhond die gedoente gesien en saam begin jaag. “Oe! As ek jou vang, gaan ek jou met een hap opvreet”, het hy geblaf.

​

Toe sien ‘n honger kraai uit die lug uit die hond, die seun, die ou vrou en die ou man wat agter die Gemmerbroodman aan hardloop en sê: “As ek jou kry, gaan ek pik en pik dat daar net krummels oorbly!”

Maar die Gemmerbroodman het net aanhou hardloop en weer geroep: “Hardloop, hardloop, hardloop, so vinnig soos jy kan! Jy kan my nie vang nie, ek’s die Gemmerbroodman!”

​

En weer die hand wat wapper terwyl hy terg: “RRRRRRrrrrrt!!! – Nanananana!”

​

Aan die einde van die laning, was daar drie elektrisiëns besig om ‘n konneksie reg te maak. Hulle het die Gemerbroodman gesien en sommer dadelik lus geword om hom te eet. Hulle het die toerusting net daar gelos en agter die Gemmerbroodman aan begin hardloop.

​

So hardloop die Gemmerbroodman toe met die seun, die ou man, die ou vrou, die rondloperhond, die honger kraai en drie eleketrisiëns agter hom aan, terwyl hy net hardloop en hardloop en skreeu:

“Hardloop, hardloop, hardloop, so vinnig soos jul kan! Jul kan my nie vang nie, ek’s die Gemmerbroodman!”

En nogmaals die tergende hand voor sy gesig: “RRRRRRrrrrrt!!! – Nanananana!”

​

Na ‘n ruk hardloop die Gemmerbrooodman verby ‘n plaas waar twee speenvarkies staan en wag vir die boer om hulle te kom voer. Hulle was so rasend honger, dat hulle sommer ook agter die Gemmerbroodman aan koers gekies het.

​

So hardloop die jong seun, die ou man, die ou vrou, die rondloperhond, die honger kraai, drie elektrisiëns en twee speenvarkies agter die Gemmerbroodman aan, maar die Gemmerbroodman hou net aan hardloop en roep:

​

“Hardloop, hardloop, hardloop, so vinnig soos jul kan! Jul kan my nie vang nie, ek’s die Gemmerbroodman!”

En weereens: “RRRRRRrrrrrt!!! – Nanananana!”

​

Toe hardloop die Gemmerbroodman verby ‘n veld waar ‘n perd staan en wy. Die perd het die Gemmerbroodman een kyk gegee en gedink “Vir jou verordber ek sommer in ‘n paar happe!”, soos hy ook agter die Gemmerbroodman aan begin hardloop.

​

Daar hardloop toe die ou man, die ou vrou, die jong seun, die rondloperhond, die honger kraai, die drie elektrisiëns, twee speenvarke en ‘n gulsige perd agter die Gemmerbroodman aan, maar al wat hulle hoor is:

“Hardloop, hardloop, hardloop, so vinnig soos jul kan! Jul kan my nie vang nie, ek’s die Gemmerbroodman!”

En ja, jy’t reggeraai, ook die duime-teen-die-neus uittarttery: “RRRRRRrrrrrt!!! – Nanananana!”

​

Die Gemmerbroodman hardloop net al vinniger, maar kort voor lank bevind hy homself op die oewer van ‘n baie diep rivier. Hy het na die water gekyk en gesug: “Ai toggie! Wat gaan ek doen? Ek kan nie swem nie! Hulle gaan my vang en eet!”

​

‘n Uitgeslape jakkals wat in die gras op die oewer gelê en wegkruip het, het sy neus uitgesteek, die gemmerbroodman gesien en sy lippe afgelek.

​

“Jy lyk of jy in die moeilikheid is, liewe Gemmerbroodman. Hoe kan ek help?”

“Ek moet die rivier oorsteek, maar ek kan nie swem nie!” het die gemmerbroodman gesnik.

“Geen probleem nie,” het die Jakkals gesê. Klim net op my rug, dan dra ek jou na die ander kant toe. Ek kan baie goed swem.”

​

So klim die Gemmerbroodman toe op die jakkals se rug en al die pad tot op die punt van sy neus. Van daar af kyk hy terug na die groep wat agter hom aan is en roep “Hardloop, hardloop, hardloop, so vinnig soos jul kan! Jul kan my nie vang nie, ek’s die Gemmerbroodman!”

​

Dit is al wat hy kon uitkry, want die jakkals het sy neus opgewip die Gemmerbroodman hoog die lug in laat trek. En nog voor hy terug in die water kon val, het die jakkals sy mond wyd oopgemaak en die gemmerbroodman opgevreet.

​

En dit, o ja, glo dit as jy kan – dít was die einde van die Gemmerbroodman.

bottom of page