top of page

Die Vrou wat die feetjies geflous het.

_Die Vrou Wat Die Feetjies Geflous het.png

Wil jy deel van hierdie episode wees?

Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!

Die Vrou wat die feetjies geflous het.

 

Bella kon ‘n koek bak soos niemand anders kon

En mense het van oral vir ‘n proeseltjie gekom.

 

“So heerlik” roep die dames, “Smaak soos paradys vir my!”

“Uitstekend” sê die manne, “Gee daar nog ‘n sny!”

 

Hulle eet koekies , smul aan tertjies, aan die reënboog koek met room,

En heerlik pasteitjies propvol sjokoladeroom.

 

Min het hul geweet dat terwyl hulle so lekker eet,

‘n groep feëtjies hulle dophou, honger, slaggereed.

 

Die feëtjies het jaloers gekyk, hul klein magies aan die grom

“Ons wil ook van daai koek probeer!” het hul leier kwaai gebrom

 

 “Dit is so onregverdig” kla feëtjies soos een man,

maar toe fluister hulle leier “Ek dink ek het ‘n plan.”

 

Later in die aand met al die gaste uiteindelik uit

Het Bella in die pad gaan stap terwyl sy vrolik fluit.

 

Sy kom om die draai, en sit geskok haar hand voor haar mond:

Daar lê ‘n gedoentetjie met vlerkies voor haar op die grond.

 

“Help” sug die wesentjie en gee ‘n harde kreun,

“ ‘n Feëtjie!” roep Bella en buk om hulp te verleen.

 

Skielik het feëtjie ‘n handvol stof reg in haar oë geblaas,

Arme Bella strompel agteruit en gil sommer skoon verbaas

 

Die wêreld om haar begin te draai en Bella sak daar neer

Haar oë word al swaarder en sy kan die slaap nie keer.

 

Toe word sy wakker in ‘n grot, probeer uit waterige oë loer

En besef jou wrintiewaar die feë het haar ontvoer.

 

Daar sit hul by klein tafels, met ‘n bord en eetgerei,

Hulle klets erg opgewonde – opgewerk en baie bly.

 

“Bak! Bak! Bak!” het die feë geroep wat hulle soek

“Maak ons borde en ons magies vol met Koek! Koek! Koek!”

 

Die feë se leier lig haar hand en kyk kwaai rondom haar,

Sy gluur die ander feëtjies aan totdat hul bedaar.

 

“Jammer ons het jou ontvoer en feëtjiestof gebruik

Maar jy moet dadelik daardie koek bak wat so al te lekker ruik!”

 

“Ek verstaan” sê Bella saggies, toe sy weet wat gaan hier aan,

Maar wat die feë  nie weet nie is: Bella het ‘n plan!

 

“Ek kort ‘n paar bestanddele” het sy het toe gesê,

“Eiers, suiker en ‘n bak vir meng is wat ek nou moet hê.”

 

“Ons het nie ‘n mengbak nie” sê die feetjie leier

“Ons het g’n niks suiker nie, en glad ook nie ‘n eier!”

 

Bella kyk vir haar en sê “Ek het dit als in my kombuis,”

“Ek kry dit!” sê die leier en daar trek sy weg na Bella se huis

“Bak! Bak! Bak!” roep die feejies steeds vanuit elke hoek

“Maak ons borde en ons magies vol met Koek! Koek! Koek!”

 

Vinnig is die leier terug met alles soos gevra,

“Dankie,” antwoord Bella, “nou is ons amper daar.”

 

“Kan jul ‘n klitser, ‘n houtlepel en bakpoeier met my deel,

ook ‘n eetlepel vol botter, en ‘n teekoppie vol meel.

 

“Ons het niks van daardie dinge nie,” sê die leier met ‘n sug,

so toe vlieg sy terug kombuis toe met die vlerkies op haar rug.

 

“Bak! Bak! Bak!” roep die ander en slaan op die tafeldoek

“Maak ons borde en ons magies vol met Koek! Koek! Koek!”

 

Die leier kom vinnig weer terug met als wat sy wou hê

“Is dit dan nou mooi alles?” het sy vir Bella gesê.

 

“Julle wil graag koek hê,” se Bella, “Ek verstaan”

“Maar ek benodig ook ‘n bak en ‘n oond waarin dit gaan”

 

“Die oond moet perfek en ordentlik warm wees vir my”

“’n Oond?” roep die feetjie “Waar moet ons nou ene kry?”

 

Die feetjies, dik teleurgesteld, mor en mompel laat dit druis,

Maar Bella glimlag breed en sê “Daar’s een in my kombuis!”

 

“Jul sal koek kry, ek belowe, glo vir my, dis waar,

vat my na my huis toe, dan bak ek alles daar.”

 

“Bak! Bak! Bak!” klink stemme, hulle gaan wat hulle soek

“Maak ons borde en ons magies vol met Koek! Koek! Koek!”

 

Toe Bella by haar huis kom, begin sy meng en klits,

Toe sy klaar is lek die feetjies die bak skoon in ‘n flits!

 

Die koek gaan daarna oond toe, bly daar vir ‘n uur

Die feetjies was die skottelgoed en gee die vloer ‘n skuur,

 

Hulle wag so mooi geduldig vir die koek om klaar te bak,

Toe elke een sy stukkie kry, het hul dit gulsig weggepak!

 

Die feetjies het weggelê tot die koek net krummels was,

“Koek so lekker kry jy nêrens nie, dis regtig eersteklas!”

 

“My liefies, sien julle nou mooi, my werk is dan nou klaar,

die ontvoering was onnodig, julle kon my maar net vra.”

 

Ek gaan elke dag na toemaaktyd vir jul iets los hier in my erf,

Ekstra spesiaal en soet, ‘n watertand bederf”

 

Die feetjies het saamgestem en na hul huis verdwyn,

En sedertien het Bella hul nog nooit weer sien verskyn.

 

Maar soms in haar kombuis, nes sy haar baksel wil begin

Hoor sy “Koek! Koek! Koek!” soos die feetjies begin sing.

bottom of page