top of page
Die Towenaar se Handlanger.png

Wil jy deel van hierdie episode wees?

Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!

Die towenaar se handlanger

 

‘n Ou, amper afgetrede towenaar het in ‘n klein, bedompige kamertjie heel bo-op ‘n ‘n mankoeliekerige towenaarstoring wat tot hoog bo in die donker nag vol sterre gereik het, gewoon. Sy towenaarstafel was vol van allerhande vreemde kontrepsies, mengsels en konkoksies van allerhande vreemde kleure en flesse vol... wel, kom ons sê maar net party van die goed in die flesse was veels te grillerige om te noem. Die toring se mure was van die vloer tot die dak vol boekrakke met ou stowwerige boeke styf teen mekaar in elke rak gepak. Dit was die towenaar se kosbare boeke vol toorspreuke en hy wou nooit, ooit, toelaat dat enigiemand kyk wat binne-in hulle  staan nie.

 

Die towenaar het ‘n handlanger gehad met die naam Otto, en Otto was maar ‘n luierige knaap. Hy’t wou net graag ‘n towenaar wees, maar het glad nie belang gestel in die al die studeer en harde werk wat dit geneem het om die toorkuns te bemeester nie.

 

“Ek wil net toor!” het hy gedink. “Verbeel jou ek kan myself in die lug laat opstyg! Of mense in paddas verander! Of selfs klippies in goud verander!!”

 

Die towenaar het vir Otto belowe: “Jong man, ek sal jou alles leer wat ek weet, maar... eers wanneer jy gereed is daarvoor.

  

“Ja, Meneer! Sekerlik, Meneer!” het Otto gesalueer.

 

Op ‘n dag moes die towenaar uitgaan. “Ek moet by ‘n ou vriend gaan kuier. Ouma Hannie Horrelpoot – die beste heks in die hele kontrei.”

 

Die towenaar het nog nooit van tevore vir Otto alleen en sonder enige toesig in die toring gelos nie.

 

“Mmm. Ek’s nie seker of ek hom heeltemal kan vertrou nie,” het die towenaar gedink.

Met ‘n kwaai kyk in sy oë het die towenaar vir Otto sy instruksies gegee

 

“Daar is ‘n baie belangrike towerspreuk wat ek moet uitvoer wanneer ek terugkom, daarom moet die groot pot op die vuur propvol water wees teen die tyd wat ek terugkom,” het die towenaar gesê. “As die pot vol is, moet jou ook die vloer vee en daarna die vuur opsteek.”

 

Otto was glad nie beïndruk nie.

 

“Ek sal oor en oor en oor en oor op en af en op en af moet stap met die trappe – net om hierdie simpel ou pot vol te kry. Regtig!?”  Maar hy’t dit net saggies gedink, en glad nie hardop gesê nie.

 

Die towenaar haal ‘n pragtige tapyt met die mooiste borduurwerk van ‘n rak af en rol dit op die vloer uit. Toe gaan staan hy in die middel van die tapyt en sê die toorwoorde:

“Sprankel, sprinkel, sprop, toortapyt, styg op...”

 

En net daar styg die tapyt in die lug op en begin in die lug na die venster toe dryf.

 

Net voor die towenaar heeltemal by die venster uit is draai hy om na Otto en sê  “Wees versigtig, né? Moenie aan enigiets raak waaraan jy nie mag nie!” en daar vlieg hy weg en verwdyn in die nag.

 

Die towenaar kon dalk sommer gedagtes ook lees, want Otto se kop was reeds vol stoute planne.

 

Sodra die towenaar buite sig verdwyn het, het Otto teen die lendelam leer wat teen die boekrak rus begin uitklim en een van die stowwerige ou boeke vol spreuke uitgehaal.

 

“Wie’t nou ‘n pot vol water nodig as jy regte egte toorkuns kan gebruik?”

 

Otto het deur die een boek na die ander geblaai en geblaai tot hy gekry het waarna hy gesoek het: “Aha! Hier is dit. ‘n Towerspreuk om ‘n besem te laat vlieg!”

 

Otto het glad nie op hom laat wag nie. Hy’t vergeet dat toorkuns eintlik baie gevaarlik kan wees en sommer dadelik weggespring. In die een hand het hy ‘n besem en in die ander hand die boek vol toorspreuke gehou. Effe onseker en huiwerig het hy die besem in die lug opgehou en die toorspreuk gelees:

 

Siemsallabiem, siemsallaboem,

Laat ek dit sê en die besem dit doen!

 

En die besem.... het niks gedoen nie.

 

Hy’t ‘n reël misgelees! Toe probeer Otto maar weer:

 

Siemsallabiem, siemsallaboem,

Laat ek dit sê en die besem dit doen!

Hiep-hap-hoep, siemsallasaam

Laat ek dit sê en besem daarheen gaan.

 

Die besem het in die lug opgeskiet, ‘n slap draai gegooi en afgeskiet na ‘n wateremmer. Dit het afgeswiep, die emmer met die steel gehaak en teen die trappe afgeseil. Toe dit teruggevlieg kom, was die emmer tot heel bo vol wat en die besem het dit in die groot pot uitgegooi.

 

“Ek het dit reggekry! Ek het dit gedoen!” het Otto opgewonde uitgeroep. “Ek het ‘n toorspreuk uitgespreek!!”

 

Hy was so opgewonde, hy’t sommer sy hande geklap van pure plesier. Die besem het weer teen die trappe afgevlieg en teruggekom met nog water, oor en oor en oor totdat die pot tot heel bo vol water was. Maar dit was nie die einde nie. Die besem het net aangehou en aangehou tot die water uit die pot uit gestroom het en die hele vloer naderhand nat was.

 

“Stop!” het Otto geroep. “Ag asseblief man, besem, stop, stop, STOP!” Maar die besem was vasbeslote om aan te hou en het nog en nog water aangedra. Naderhand was die water al so hoog soos Otto se knieë. Die flesse vol konkoksies en al die toortoerusting het saam met boeke en papiere op die water gedryf.

 

“Besem! Ek beveel jou om op te hou. Nou dadelik!”

 

Maar niks wat Otto kon doen of sê het die besem laat ophou nie. Otto het skoon desperaat geraak en het die byl waarmee hy die vuurmaakhout moes kap gegryp en die besems daarmee getakel. Hy het die besem in ‘n klomp klein stukkie gekap en toe – tot sy groot skok en afgryse – het al die stukkies in nuwe besems verander!

 

“Aggenee! Jy’s nie ernstig nie!” het ‘n moedelose Otto uitgeroep, terwyl die nuwe baba besempies ook teen die trappe afgevlieg het en teruggekom het met nog water.

 

“Neeeee!” het Otto geroep, amper in trane.

 

Teen hierdie tyd was daar al water tot amper teen die dak. Arme Otto het rondgeswem en sy bes probeer om die kosbare boeke en toortoerusting wat rond dryf te probeer red.

 

“Stop! Asseblief, asseblief, asseblief! Die towenaar gaan ongelooflik vies wees as hy sien wat ek aangevang het. Hy gaan my sekerlik sommer in ‘n padda verander! Of ‘n patat! Of ‘n stink ou skoolsokkie!”

 

Moeg en uitgeput, het Otto moed opgegee en aan die punt van ‘n boekrak wat bo die water uitsteek vasgeklou.

 

Skielik was daar ‘n groot gedruis en ‘n warrelwind waarop die towenaar by die venster  ingevlieg kom. In ‘n kwaai stem het hy gebulder “Hou oooop!”

 

Die besems het dadelik opgehou.

 

Hulle het soos soldaatjies in ‘n ry omgedraai na die towenaar toe. Hy’t sy hande in die lug gehou en begin praat:

 

“Besem, shmesem, hou nou maar op met jou taak,

Tyd om hierdie knaap se gemors skoon te maak.”

 

Met ‘n ongelooflike spoed het al die besems begin om water op te skep en terug te vlieg na die put toe. Op en af teen die trappe, heen en weer en heen en weer tot alles weer waterloos was. Toe klap die towenaar sy vingers en met ‘n klipharde SJOEF! word al die besems weer net een enkele besem en gaan lê teen die muur langs die kaggel asof niks ooit gebeur het nie.

 

Toe draai die towenaar stadig na Otto toe, sy oë twee gloeiende kole van die woede. Otto het sy oë toegeknyp en gewag dat die towenaar h om in ‘n slang of ‘n slak of ‘n sokkie verander.

 

“Jong man!” het die towenaar gebulder. “Die werk van ‘n meester is glad nie maklik nie. Dit neem jare se oefening om iets goed en deeglik te doen. Jy moet die leerproses respekteer. Jy moet die leermeester respekteer. En moet nooit iets probeer doen wat jy nie voor opgelei is nie, en wat jy nog glad nie verstaan nie.”

 

Die towenaar het Otto nie verder gestraf nie, want as daar nou een ding is wat hy geweet het, dan is dat Otto daardie dag ‘n baie waardevolle les geleer het.

​

bottom of page