Luister, Lag en Leer! Groot Avonture vol Klein Lewenslesse!


Wil jy deel van hierdie episode wees?
Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!
Die Toe Oë Afspraak
Daar was eens op’n tyd ’n verskriklike wese met die naam Medusa.
Nou, op die oog af het sy die liggaam en gesig van ’n pragtige vrou gehad — maar
haar hare was ’n warboel giftige slange! Dit was so ‘n skirkwekkende gesig dat enige
iemand wat net na haar gekyk het en die grillerige affêre beskou het … wel, dan
verander daardie arme siel op die plek in klip.
Sy het alleen gewoon, diep in ’n donker vallei vol mis en skaduwees, in ’n hele netwerk
grotte teen die kant van ’n berg.
Buite haar grot het daar oral standbeelde gestaan — honderde van hulle!
Ridders met swaarde omhoog, towenaars met hande in die lug, dapper helde op
gevleuelde perde, ‘n posman wat ‘n pakkie by die verkeerde adres kom aflewer het –
standbeelde orals. Groot, klein, vet, maer — maar almal met daardie selfde uitdrukking
op hulle gesigte: groot oë en oop monde, vir ewig versteen en vasgevries in skok en
vrees.
Want hierdie “standbeelde” was nie regte standbeelde nie. Nee, hulle was eens
lewend — tot hulle in Medusa se oë gekyk het!
En hierdie Medusa… haar volle naam was eintlik… Magrieta.
“Ugh!” sug sy een aand, terwyl sy deur haar donker gange slenter. “Ek’s so verveeld!
Die hele wêreld haat my, ek’s alleen, en my enigste geselskap is hierdie klipkoppe. Dis
nie eens my skuld nie! Ek’t niks aan iemand gedoen nie — dis net oor my haarstyl!”
Die slange op haar kop gesis soos hulle saamstem.
“Ek het ’n bietjie afleiding nodig,” sê sy, “iets om my besig te hou… dalk iets
vermaaklik.”
Sy gly deur na haar studeerkamer waar sy al haar skatte hou: hope goud, ringe,
towermantels, septers, juwele en towersalfies — alles dinge wat sy afgevat het by die
avonturiers wat haar wou kom verslaan.
Maar hierdie keer het sy gekom vir haar kristalbal.
Nie sommer enige kristalbal nie — nee, ’n Kristalbal Pro 2.0! Hierdie een kon dinge
doen wat gewone kristalballe nie kon nie: bewegende prentjies wys, klanke speel, en
selfs boodskappe stuur en ontvang.
Onder die bal was daar knoppies wat sy kon druk, en ’n klein grys muisie met ’n stert
waarmee sy alles beheer wat in die bal aangaan het. As sy iets wou kies, klip sy net op
die muis se kop, dit piep saggies, en die kristalbal doen wat sy sê.
Sy het daarvan gehou om bewegende prentjies te kyk van katjies wat met wol speel,
babas wat snaakse dinge sê, en mense wat allerhande dom ongelukke maak (hoewel
sy daardie laaste soort eintlik ’n bietjie wreed gevind het). Wanneer dit snaaks was, het
sy al te lekker gelag
Haar gunsteling was die “unboxing” video’s: “Haai julle! My naam is Wimpie Wysneus.
Vandag wys ek vir julle iets ongeloofliks! Die nuwe Opwen-Meganiese Draak! Jy draai
net hier aan die knoppie…”
Maar metter tyd het selfs dit vervelig geraak. Sy wou met íémand praat. ‘n Regte egte
mens En toe kry sy ’n plan!
Sy tik vinnig op die knoppies, kliek die muisie, en die bal sê met ’n vrolike stem:
“Welkom by Hoekie vir Eensame Monsters — waar ons vir jou die perfekte maat vind
vir ’n betekenisvolle en blywende verhouding!”
Die bal begin vrae vra en Medusa Magrieta beantwoord:
Ouderdom: “Sewe-en-vyftig.”
Lengte: “Perfek!”
Haarkleur: “Groenbruin… en bewegend.”
Belangstellings: “Standbeelde, reptiele, avonturiers verslaan, en stappies langs die
see.”
Na ’n ruk het die bal vir haar ’n lys van moontlike vriende gewys.
Sy kyk deur die prentjies:
“Hmm… nee… te veel tentakels… te slymerig… blegh, te veel koppe…”
Toe roep sy: “Aha! Kyk net hierdie aantreklike kêrel — die Towenaar Semptimus
Slingersnoet! Lang baard, stylvolle hoed, hou van paddas, vlermuisvlerke en besems.
Perfek!”
Sy klik die muis, dit piep, en die kristalbal maak ’n harde PING!
Die volgende dag hoor sy iemand aan haar deur klop. Sy was so opgewonde! Haar
hart het vinniger geklop, sy het haar rok reggetrek, diep asem gehaal en die deur
gaan oopmaak. Voor haar staan ’n maer man met ’n lang grys baard, ’n kleed vol
sterre en maantjies, en ’n hoed so skerp soos ’n naald. In sy hand hou hy ’n bos rose.
“Hoe gaan dit, Mevro—” begin hy, maar toe verander hy sommer in die middel van sy
sin in ‘n klipstandbeeld.
“O, eish!” sê Magrieta, en klap haar voorkop. Een slang sis slaperig. “Dis dan seker
terusg na die kistalbal toe vir ons.”
Soek, soek, soek…
“Giftige walms vir asem? Nee dankie. ’n Zombie met slapeloosheid? Ag, doodvervelig.
Horings op sy rug? Eugh!”
En toe, “Aha! Stanley die Klipreus! Hou daarvan om berge te klim, dorpe te teister,
rotse te gooi, en rustige aandetes te hê. Dit kan werk!”
Sy kliek die muisie, wag, en die volgende dag hoor sy swaar voetstappe buite.
“Hy’s hier! Hy’s hier!” roep sy, en klap haar hand opgewonde.
Daar kom ’n donderende klop aan die deur. Sy kam haar slange netjies in ’n
opsteekkapsel en gaan maak oop.
Voor haar sien sy eers net reuse bene — vol modder en spiere. Toe ’n maag met
littekens, en ’n groot hand wat ‘n boks sjokolade, met ‘n rooi lint toegebind, vashou. Sy
kyk verder op — en daar’s Stanley, die Klipreus, glimlaggend.
Maar voor sy kon sê “Welkom!” het hy ook — ja, jy’t reg geraai — in klip verander! En
met ’n groot KADOEF! val hy om en spat in stukke. Arme Stanley is net ‘n hoop gruis.
Magrieta kreun van moedeloosheid. “Waarom kyk hulle altyd vír my!”
In die weke daarna het sy nog verskeie kandidate probeer — kabouters, trolle ,
allerhande gediertes — almal in klip verander.
En toe ontdek sy iets nuuts op Hoekie vir Eensame Monsters.
“Hmm… dalk, nét dalk is hierdie een die regte een,” mompel sy.
Die volgende dag hoor sy ’n perd aankom, dan ’n sagte klop aan die deur. Sy loer
versigtig uit — en sien ’n man in blink wapenrusting, met ’n swaard en ’n groot skild…
maar — geen kop nie!
“Goeie môre, mevrou,” sê ’n stem uit sy borskas. “Ek is die Koplose Ruiter.”
Het hy in klip verander? Nee! Want sonder oë kon hy nie na haar kyk nie!
Magrieta bars uit van lag, haak haar arm in syne, en nooi hom binne vir tee.
En van toe af was haar dae van eensaamheid verby. Die Koplose Ruiter se perd het
natuurlik in klip verander, so van toe af was hy net bekend as die Koplose Man. Maar
hulle twee — Magrieta en haar Koplose Man (wie se naam Willem was) — was die
perfekte pasmaats. Magrieta en Willem.
Hulle het saam gelag, saam geskerts, en soms saam ’n paar onnosel avonturiers laat
skrik… en hulle het nog lank, lank daarna gelukkig en effens skrikwekkend saam
geleef.
Einde.