Luister, Lag en Leer! Groot Avonture vol Klein Lewenslesse!


Wil jy deel van hierdie episode wees?
Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!
Die Koning Wat Aan Die Maan Wou Vat
Eendag, lank lank gelede in ‘n verafgeleë land met die naam Woertswater, was daar ‘n koning met die naam Alonso. Koning Alonso was ‘n baie hoogmoedige koning en hy was ongelooflik trots op sy koninkryk.
Hy’t op sy paleis se balkon gaan staan en oor die hele land uitgekyk. “Kyk net,” het hy vir sy raadgewer gesê. “Kyk net hoe wonderlik is ons. Wat ‘n perfekte koninkryk. Dit is die gelukkigste plek op aarde! Almal het genoeg om te eet, lekker snoesige blyplekke en hulle werk en speel net genoeg vir goeie balans.”
“Inderdaad, U Majesteit,” het sy raadgewer gesê. “Almal het genoeg om te eet, lekker snoesige blyplekke en hulle werk en speel net genoeg vir goeie balans.”
Met ‘n effense frons wat op sy voorkop vorm, het die koning na sy raadgewer gekyk. “Ja, natuurlik. Ek sê mos so. Maar wat ek eintlik bedoel, is dat ons die beste is. Die heel beste met alles.”
“Wel, ek is nou nie seker oor alles nie, Majesteit” het die raadgewer versigtig geantwoord. “Maar ons is beslis baie gelukkig!”
“Gelukkig, shmukkig, man! Ons moet die beste wees! Ek moet weet dat ons die heel beste is! Dat ek die mees eerbare en ongelooflik goeie koning van die mees suksesvolle en magtigste land op aarde is! Byvoorbeeld, ons het die hoogste geboue, korrek?”
“Ja, Majesteit,” antwoord die raadgewer.
“En die pragtigste riviere?”
“Ek sou so reken, Majesteit.”
“Maar natuurlik het ons! Ons het die mees talentvolle kunstenaars, die beste storievertellers, die sterkste weermag, die vinnigste perde, die... die... die lekkerste pannekoeke, die.. die grootste skepe – “
“Uh... dit is nie heeltemal waar nie, Majesteit. “
“Verskoon my!” vra die koning, skoon ontsteld.
“U sien, die koninkryk van Sonneblommia het die Pylstert 5000, dit is ‘n skip langer as—“
“Genoeg!” bulder die koning. “Kry die meesterbouer, nou dadelik!”
En kort voor lank daag die land se meesterbouer in die koning se paleis op, rooi in die gesig en skoon uitasem. “Tot u diens, Majesteit” het hy gehyg.
Die koning het sy hande hoog in die lug opgesteek en in ‘n harde stem gesê: “Ek beveel julle om die grootste en kragtigste skip in die hele wêreld te bou!”
Die bouer het sy span bymekaar gekry en aan die werk gespring. Hulle het gesaag, geboor, getimmer en geskaaf laat die stof en saagsels spat. Na baie ure se baie harde werk kon hulle uiteindelik die koning na die hawe toe nee, en vir hom die massiewe, enorme, reusagtige boot wys wat hulle gebou het, wys.”
“Ja!” het die koning uitgeroep. “JA! JA! JA! Ons het die heel grootse en beste skip in die hele wêreld. Almal sal met verwondering na ons kyk. Kyk net hier rondom ons. Ons het die grootste en die mooiste hawe. Ons het die mees kleurvolle ballonne! Ons het die koudste koeldranke. Ons het die hoogste berg, ons het—“
“Ag, ekskuustog, maar dit is nie heeltemal waar nie, U Majesteit.”
Die koning het sy raadgewer met woede in sy oë aangegluur. “Nie! Heeltemal! WAAR NIE!?!?”
Die arme raadgewer ek het skaam en onseker weggekyk.
“Toenou, man! Uit daarmee,” het die koning ongeduldig gebulder.
“Ek’s bevrees die bopunt die Klappertandgebergte in die koninkryk van Kaboemielia is ‘n volle drie meter hoër as ons hoogste berg, Rosynkrans...”
Die koning het kliphard met sy voet op die grond gestamp en geskreeu: “Kry vir my die meesterbouer!” En natuurlik het die meesterbouer kort daarna weer aangehardloop gekom.
“Ja, Majesteit?”
“Hiermee gee ek jou amptelik die koninklike opdrag om ons berg, Rosynkrans, 4 meter hoër te maak.
Weereens het die meesterbouer sy span bymekaar gekry. Hulle het gegrae en gegrawe en gegrawe en groot hout kiste vol grond gemaak. Hierdie kiste het hulle op waens gelaai en die met groot spanne osse teen die steil en klipperige pad tot bo op Rosynkrans getrek.
En dit moes hulle oor en oor doen.
Stadig maar seker het die berg al hoe hoër en hoër geword. Uiteindelik was hulle werk klaar en die berg 4 meter hoër.
“Ha-haaa!” het die koning van die bopunt van die berg af geroep.
“Ons het die hoogste berg! Ons het die beste bouers! Ons het die meeste waens! Jy moet erken, o Raadgewer van my, ons is die beste. Kan jy aan enigiets dink wat ons NIE kan doen nie? Enigiets op aarde?”
“Nee, u, majesteit. Niks op aarde nie”
“JAAA!” het die koning geroep. “Niks op aarde—“ en toe sien die koning die volmaan wat bo hom skyn.
“Ek het dit,” het hy vir homself gesê. “Ek weet hoe ons die hele wêreld kan wys hoe sterk en magtig ons is. Met ‘n mallerige uitdrukking op sy gesig het hy na sy raadgewer gekyk en met ‘n groot glimlag gesê: “Ons gaan ‘n toring bou... en AAN DIE MAAN RAAK!”
“Maar... dit kan tog sekerlik nie moontlik wees nie, U Majesteit?” het die raadgewer versigting geprewel.
“Nonens!” het die koning se stem gedreun. “Meesterbouer! Bring ddaardie leë hout kis wat agter op jou wa staan.”
Die bouer het dadelik gedoen wat hy beveel is.
“Goed. Bring nou nog ‘n kis en kom sit dit bo-op hierdie eerste ene.”
Die bouer het die kis nader gedra en bo-op die eerste een gesit. Die koning het nader getree, en met sy een hand op sy raadgewer se skouer vir balans, het hy tot bo-op die kiste geklim.
“Daarsy. Bring nou vir my al die ander kiste van al die waens af wat julle gebruik het om die grond tot hier bo op Rosynkrans te sleep.”
So gesê, so gedaan. En die koning het tot heel bo-op die stapel kiste geklim, maar dit was nie naastenby genoeg nie. “Nog kiste!” het die koning beveel.
“Maar ons het nie nog nie,” het die bouer van onder geantwoord.
“Nou kry dan nog!” het die koning gesê. Die meesterbouer en sy span het al die waens teen die berg afgesukkel en ‘n boodskapper deur die hele dorp gestuur. “Bring julle kiste!” het hy geroep. “Kiste vir die Koning! Bring julle Kiste!”
Die mense het van oraloor met hulle kiste opgedaag – houtkiste, metaalkiste, groot kiste, klein kissies, tamatiekiste, gereedskapskassie, medisynetassies, enige soort kis waaraan jy kan dink. Wa na wa is vol gelaai en teen die berg op. En bo, op die nuwe vier meter hoër kruin van Rosynkrans, het die meesterbouer die kiste bo-op die ewig-groeinde stapel kiste gepak.
Teen hierdie tyd het die koning al tot bo die wolke op die kis-toring gestaan. “Meer! Nog meer! Kry nog meer!” het hy beveel.
“Ons het nie meer nie, U Majesteit,” het die meesterbouer moedeloos van onder hom geantwoord.
“Ekskuus?” het die koning gesê.
“Ek sê ONS HET NIE MEER NIE!” het die bouer geroep.
“Nou MAAK dan nog, jou stommerik!” het die koning geroep.
Die meesterbouer en sy span is weer teen die berg af. Hulle het gesaag en gekap, getimmer en geboor, en gemik, geplak en vasgeskroef. Naderhand was daar niks meer in die hele koninkryk oor om nog een enkele kis van te maak nie.
Hulle het hulle moë spanne osse met waens vol kiste teen die berg uit gelei tot heel bo. Kis op kis op kis is op die hoop gestapel. Van hoog bo kon hulle die koning hoor roep: “Amper daar! Bring nog!”
“Nog? Daar is niks meer oor nie!” het die bouer geroep.
“Ag, loutere onsin,” het die Koning geroep. “Daar is sekerlik nog!”
“Ek is bevrees daar is regtig niks meer nie, Majesteit. Hierdie is regtig alles.”
“Nou haal dan ‘n kis onder uit en sit dit bo-op,” het die koning beveel.
“Maar, u Majesteit, dan sal die toring sekerlik-”
“Stilte!” het die koning se stem gedreun. “Maak soos ek sê. Dit is ‘n bevel!”
Die bouer kon sien dat die koning se trots en hoogmoed hom heeltemal oorgeneem het, en selfs die mees eenvoudige feit sou hom nie anders kon oortuig nie. Daar was niks anders te doen, as wat die koning gevra het nie.
Die bouer het aan ‘n kis heel onder aan die toring begin trek. Dit was so styf vasgepak onder al die ander kiste dat dit skaars wou beweeg. Hy’t sy span nader geroep en saam het hulle getrek en gestoot, en gestoot en getrek en toe, uiteindelik... spat die kis uit.
In ‘n oogwink het toring begin kantel. Met ‘n enorme geraas het die kiste uit die lug uit getuimel, teen die berg af, tot heel onder in die dorp. Toe die stof uiteindelik gaan lê was die bouer te bang om eers te begin om na die koning te soek.
Maar, gelukkig, het die koning glad nie baie seer gekry nie. Met ‘n paar skrape en bloukolle het hy die volgende dag weer sy pligte as koning begin nakom, maar met ‘n baie verskillende houding as tevore. Van daardie dag af het hy na sy raadgewers geluister, na sy bouer geluister en na die mense geluister. Hy was al te dankbaar vir enige goeie raad en ondersteuning wat hy kon kry.
Deur kalm met sy mense saam te werk, het hy weer rustigheid oor die land laat neerdaal.
Was hulle die heel beste? Was hulle die heel sterkste? Dalk nie. Maar hulle was beslis so gelukkig as wat hulle ooit kon wees.