Luister, Lag en Leer! Groot Avonture vol Klein Lewenslesse!


Wil jy deel van hierdie episode wees?
Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!
Die Goue Kitaar
Op ‘n dag, ‘n hele ruk gelede was daar in Wallis ‘n jong man met die naam Morgan. Hy was, soos amper alle Walliesers, baie lief daarvoor om te sing.
Daar was egter ‘n klein probleempie: Alhoewel hy self mal was oor die klank van sy eie stem, het die res van die wêreld gedink hy sing regtig aaklig.
(Slegte sang)
Kom jy saam na Scarborough toe?
Salie, tiemie, en pietersielie
Dra my groete aan die mooi meisie oor
Sy het my hartsnaar ge-kielie
Die mense het hulle hande oor hulle ore gesit, die honde het begin huil, almal het hom gesmeek om op te hou, maar maak nie saak hoe hard hulle probeer het nie – hy het net aangehou.
Nou, in Wallis het ‘n mens iemand gekry wat hulle ‘n “Bard” genoem het. In Afrikaans sou ons sê troebadoer of minnesanger – dit was ‘n baie belangrike wekr en hy het liedere opgemaak sommer so, op die plek.
En ongelukkig het Morgan die fout gemaak om een van hierdie manne te ontstel.
Op ‘n dag het die troebadoer by Morgan se huis verby gestap en gehoor hoe die vrolike kêrel al te heerlik in die huis sing. Van lae note waarvoor sy stem al te diep moes gaan, en dan al hoër op totdat dit net ‘n skril gegil was.
Iemand op straat vra toe die troebadoer of hy hou van die musiek wat hy hoor?
“Musiek?” het die man met ‘n skewe grynslag gevra. “Is dit wat Morgan probeer doen? Ek dog dit is ‘n verdwaalde ou koei met hooikoors, of ‘n hond met ‘n blindoek oor sy oë wat ‘n been probeer soek! Noem hy dit musiek?”
Wat eintlik gebeur het is dat ons liewe Morgan ‘n bietjie te veel tuisgebroude bier gedrink het, en sy kop was maar erg deurmekaar. As dit gebeur het, was dit moeilik om die klanke wat uit hom uitkom te eien. Dit het ‘n slim mens geneem om ‘n wysie tussen te al die geraas te identifiseer.
Een aand was Morgan weer aan die sing en weereens het hy gedink hy sing absoluut pragtig. So pragtig, dat hy sommer jammer was dat daar niemand was om te hoor hoe “mooi” hy sing nie. Maar toe is daar ‘n klop aan sy deur.
“Kom binne!” het hy geroep.
Die deur gaan oop en daar staan drie vreemdelinge. Hulle het soos reisigers gelyk en toe sê een van hulle: “O gawe en goedhartige vriend, ons is baie moeg en honger. As jy ons net ietsie kan gee om te eet, sal ons jou glad nie verder steur nie.”
“Is dit al?” vra Morgan? “Hier is ‘n hele brood en ‘n groot homp kaas. Help julleself, asseblief. Vat wat julle nodig het en maak vol julle sakke.
Die drie reisigers het gaan sit en begin eet. En Morgan? Hy het die kans met altwee hande aangegryp en vir hulle begin sing.
Nou, wat Morgan nie besef het nie, is dat die drie reisigers eintlik feetjies was wat hulleself vermom het en dwarsdeur die land van huisie na huisie gerys het en mense besoek het. Hulle het graag die mense wat hulle gehelp het beloon, en stoute poetse gebak en slinkse streke uitgehaal op die wat lelik, suinig en ongeskik met hulle was. Een van hulle sê toe vir Morgan:
“Jy was goed vir ons en ons is baie dankbaar daarvoor. Sê nou vir ons wat kan ons vir jou doen? Ons kan enige wens waaraan jy kan dink laat waar word, so sê vir ons: Wat is dit wat jy die heel graagste wil hê?”
Morgan het die reisigers fyn uitgekyk, net om seker te maak een van hulle is nie dalk die troebadoer wat gesê het hy klink soos ‘n verdwaalde koei of n blinde hond nie. Maar hulle het nie een vir hom bekend gelyk nie, so toe skraap hy sy moed bymekaar en vra:
“As julle nie besig is om die gek te skeer nie en my regtig wil help, wil ek graag ‘n kitaar hê. ‘n Kitaar wat – maak nie saak hoe swak of sleg ek speel nie – altyd pragtige en opgewekte musiek sal maak.”
“Jy hoef nie ‘n enkele woord meer te sê nie,” sê hulle leier en waai sy hand in ‘n dramatiese gebaar. Skielik was daar ‘n verblindende lig in die hele vertrek en toe dit weg is, staan daar ‘n goue kitaar in die middel van die vloer.
Maar waar was die drie reisigers? Hulle het in ‘n oogwink verdwyn. Morgan kon sy oë nie glo nie, en vir die eerste keer het hy besef sy besoekers was feetjies gewees.
Hy’t gaan sit, die kitaar opgetel en begin speel. Die kitaar het mooiste klanke gemaak wat Morgan nog ooit gehoor het. Dit was die beste musiek ooit. Dit was lewendig, dit was wild, dit was.... elektries!
Dit was asof Morgan se vingers elke oomblik net beter weet wat om te den, en die musiek het net al hoe meer lewendig en opgewek geword. Die koppies en borde in die kaste het sommer saamge-ratel, asof hulle wou saamspeel. Selfs die stoel het gelyk of dit enige oomblik gaan begin dans.
Net toe daag Morgan sy vrou en ‘n paar van sy bure by die huis op. Een van hulle het ‘n hele stel dromme saamgebring, en die ander ‘n bas-kitaar. Hulle het dadelik saam begin speel en al te lekker en vrolik gedans. Die jolige makietie het sommer vir ure aangehou.
Die nuus het vinnig en ver versprei dat Morgan ‘n wonderlike kitaar het.
So baie mense het gekom om te luister en saam te dans, dat die gras voor sy huis binne ‘n japtrap uitgetrap was. Sodra Morgan aan die kitaarsnare geraak het, het almal – van jonk tot oud – hulle voete begin stamp en saam skoffel. Niemand kon ophou dans as Morgan eers begin speel het nie. Selfs oumense, mense met net een been en selfs die ou tannies, wat nooit eers uit hulle stoele kon opstaan nie, het skielik glad nie gekla oor hulle stywe litte nie, en heerlik saam gedans, vol vrolikheid.
OP ‘n dag staan daar weer ‘n groot skare voor sy huis en wag vir die dag se opskop om te begin. En daar sien Morgan toe die troebadoer wat sy sang so erg beledig het. Die man het kom kyk of die gerugte oor die wonderlike kitaar waar is.
“Dit kan nie wees nie!” het hy uitgeroep. “Hierdie kêrel se sang was erger as ‘n brandsiek jakkals wat sy toon gestamp het!”
Maar toe kry die bard vir jou eers ‘n verrassing: Sodra die kitaar begin speel, het sy voete to sy afgryse begin beweeg en sy knieë tot onder sy ken opgetrek soos hy begin hop, bons en tiekiedraai. Hoe meer Morgan speel, hoe lekkerder en al hoe meer opgewek begin die skare mense dans – en die ou troebadoer kon nie anders as om saam te dans nie!
Die dansery het net al hoe wilder en wilder geraak. Almal het dol in die rondte gedraai op die stoep. Hulle het die hele heining rondom die tuin plat gedans. Hulle het tot in die huis gedans en die stoele, banke en tafels omgestamp. Party het selfs hulle koppe teen die mure en die dakbalke gestamp, party het selfs oor die dak en ander kant af gedans. Die arme ou troebadoer kon homself net min soos die ander mense keer en het net aanhou dans en dans en dans.
Vir Morgan was hierdie die beste wraak ooit. Hy het net aanhou speel tot die troebadoer van pure uitputting inmekaargesak het. Hy’t geen meer krag gehad om verder te dans nie en het sommer net daar neergeval, bo-op ‘n hoop ander mense wat ook al van pure uitputting op die grond lê.
Morgan het intussen vreeslik lekker gekry. Hy’t gelag en gelag tot sy kakebeen seer en sy maagspiere skoon styf was. Maar die oomblik toe hy sy hande van die snare afhaal om te rus, het die kitaar blitsvinnig verdwyn!
Jy sien, hy’t die feetjies se geskenk vir iets gemeen gebruik, en dit het die feetjies erg ontstel. Hy’t sy geskenk gemors op iets wat nie goed was vir almal nie.
Soos die mense hulleself een vir een van die grond af opgetel en afgestof het, het Morgan al hoe meer skuldig gevoel oor wat hy gedoen het.
Mettertyd het die gras om die huis weer begin groei en dit was asof die lug amper soeter was om in te asem – dalk te danke aan die stilte.
Maar die feetjies het aangehou om goeie dade te doen en geskenke uit te deel aan die mense wat goed en gaaf was. En dalk is dit te danke aan hulle dat daar nog steeds so baie goeie sangers en musikante in Wallis is...