Luister, Lag en Leer! Groot Avonture vol Klein Lewenslesse!


Wil jy deel van hierdie episode wees?
Lees die storie hieronder. Wat beteken die storie vir jou? Watter lesse kan ons uit hierdie storie leer? Neem jou antwoord op met jou foon en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot een minuut lank wees. Ons sal die beste bydrae aan die einde van hierdie episode insluit!
Anansi Bring Wysheid Na Wêreld
Anansi die Spinnekop was ‘n regte poetsbakker. Almal het geweet van sy kattekwaad en slinkse , slim plannetjies. Wel, die MEESTE van sy planne van slim. Maar party was eintlik heel laf. Soos die slag toe hy besluit het hy gaan al die wysheid in die hele wêreld vir homself bymekaarmaak. Dis reg – alles wat daar is. Soveel so dat daar niks oorbly vir enigiemand anders nie.
Hy het somer ‘n vonkel in sy oog gekry as hy daaraan dinK. “Ek sal die slimste kreatuur in die hele wêreld wees. Almal sa na my toe moet kom vir raad en advies! Verbeel jou net. Dit sal fantasties wees! Hulle sal eerbiedig na my toe aanskuifel kom en sê “Ag, asseblief, o grote en wyse Anansi – ons het jou hulp nodig!”
En ek sal hulle help – natuurlik sal ek! – maar hulle sal weet dat ek die slimste en mees wyse een van almal is!
Hy’t heerlik by homself gegiggel en sy hande van pure lekkerkry saam gevryf. Maar toe tref iets hom...
“Mmmm... waarin gaan ek al die wysheid bêre?”
Hy’t gedink en gedink en toe klap hy sy vingers soos die idee hom tref “Aha! Ek het dit! Ek sal ‘n kalbas gebruik.
Nou, ‘n kalbas is basies soos ‘n wilde pampoen wat in die veld groei. Dit het ‘n dik, taai skil en as die binnekant uitdroog en ‘n mens haal al die droë pitte en stukke uit, en dan ‘n ‘n mens allerhande goeters daarin stoor – water, water, sade, pitte...
“Of Wysheid!” het Anansi hardop gedink.
Hy’t kalbas gekry wat net reg was daarvoor. Toe sny hy die boonste deel af en hol dit mooi uit. Kort voor lank was dit reg en daar trek Anansi – op soek na wysheid. Hy’t oral gesoek: Onder bosse, bo in die bome, op berge, in rivier, dorpies, stedes, plase... selfs op die bodem van die oseaan. Oral waar hy gekom het, het hy al die wysheid bemekaargemaak en in sy kalbas gebêre.
So het dit aangehou totdat die kalbas propvol was. Daar was so baie wyshein in gebêre, dat dit amper bo uitgeloop het, maar hy het dit reggekry: Hy’t AL die wysheid in die hele wêreld bymekaargemaak!
“Hahaha” het hy opgewonde uitgeroep. “Nou is die ek heel slimste van almal! Ek het AL die wysheid in die wêreld.
“Mmm...” het hy gedink. “Maar hoe gaan ek seker maak dat niemand enige wysheid uit my kalbas uit steel nie? Ek kan dit nie die hele tyd sit en oppas nie. Ek kan dit ook nie orals saam met my dra nie. Dit sal sommer belaglik wees. Ek sal beslis ‘n ander plan daarvoor nodig hê...
Hy’t gedink en gedink en gedink, en toe weer sy vingers opgewonde geklap toe die plan in sy kop vorm: “Ek het dit! Ek gaan dit wegsteek!”
“Maar waar...?” Hy’t oral na ‘n goeie wegsteekplek gesoek. Dalk in ‘n grot? “Nee, wat.” Dalk onder ‘n groot klip? “Dit sal nooit werk nie.” Dalk iewers langs die rivier? “Nee! Dit sal wegspoel!”
Hy het aanhou soek en soek en soek totdat hy op ‘n groot kremetartboom afgekom het. “Perfek!” het hy gesê n sy kop ingenome geknik. Die boom was absoluut enorm! Reusagtig! Kolossaal! Massief! “Die perfekte wegsteekplek. Niemand sou ooit daaraan dink om daar te kyk nie...
Daar was net een probleem... Hoe gaan hy daarmee bo in die boom kom? Hy kan nie die kalbas vol kennis vashou EN boomklim op dieselfde tyd nie!
Maar daar was net een probleem! Hoe sou hy dit bo in die boom kry?
Hy het ’n o rukkie gedink en toe aan die werk gespring. Eers het hy ’n klomp rankplante se lang takke bymekaargemaak en dit soos ‘n tou vasgebind. Toe kruip hy teen die boom op en maak dit stewig vas, gee dit ‘n lekker trek om seker te maak, en daar seil hy lekker gemaklik by die boom af. Toe gaan tel hy die kalbas op – en al het spinnekoppe agt pote, was die kalbas só swaar dat hy ses daarvan moes gebruik net om dit te dra. Versigtig dra hy sy vrag tot by die boom en probeer teen die rankplant se tak teen die boom opklim. Dit vat nie lank of hy besef dis ’n onbegonne taak nie.
Toe soek hy nog ’n stuk rankplant en bind een punt aan die kalbas se bokant vas. Die ander punt bind hy styf om sy nek. Stadig begin hy opklim. Die kalbas hang swaar en swaai heen en weer soos hy klim. Hy kreun en hyg terwyl hy hoër en hoër teen die boom uitsukkel.
Halfpad stamp die kalbas teen ’n gebreekte tak en ’n bietjie wysheid spat uit.
“Ag nee!” sug hy. “Wel, ek sal maar later moet afklim om daardie laaste bietjie te gaan optel.” Maar hy klim vasbeslote verder teen die reusagtige boom op.
Met al sy geswoeg maak hy so ‘n geraas dat ’n jong meisie daar naby dit hoor. Nuuskierig stap sy nader en sien vir Anansi wat sukkel en hyg met die swaar kalbas om sy nek.
Hy lyk regtig belaglik met daardie groot gedoente om sy nek. Die meisie giggel sommer hardop.
“Verskoon tog,” roep sy, “lyk vir my jy benodig ’n bietjie hulp!”
“Glad nie!” roep Anansi. “Alles is onder beheer! Slim Anansi weet presies wat hy doen. Jy kan maar aangaan, dogtertjie.”
Hy ploeter verder tussen die takke deur. Hy is amper bo toe die kalbas tussen twee takke vashaak. Hy trek en stoot om dit los te wikkel, maar al wat gebeur is dat daar nog wysheid uit die kalbas uit mors. ‘n Bietjie daarvan spat selfs op die meisie wat onder staan.
“Haai!” roep sy en vee ‘n blerts wysheid van haar kop. “Pasop, Meneer Spinnekop! Weet jy, daar is dalk ’n beter manier om dit te doen?”
“’n Beter manier?” kreun Anansi, nou al papnat gesweet. “Soos wat?”
“Wel,” sê sy, “die kalbas hang onder jou en swaai rond. Dit maak dit net moeilik. En dit stamp heeltyd teen takke vas.”
“Wat stel jy dan voor?” vra Anansi.
“As ek jy was, sou ek dit op my rug vasmaak. Dan sal dit nie so swaai nie en dit sal baie makliker wees om te dra.”
Anansi moes toegee: sy plan werk glad nie. “Jy het ’n punt,” sê hy en klim af. Hy bind die kalbas stewig op sy rug en begin weer opklim. Dis SÓ veel makliker! En nie ’n druppel spat uit nie. Hy het dit reggekry—die wysheid is bo in die boom! Wel, behalwe vir die bietjie daar onder.
Hy kyk af en sien hoe die meisie steeds glimlag, nog besig om haar nat hare af te vee. Skielik sit dit hom toe aan die dink.
“Mmm. Die wysheid het uit die kalbas gespat… op haar kop beland… en sy gee vir my raad waaraan ek self nie gedink het nie!”
En daar tref dit hom soos ‘n vlieënde melktert reg in die gesig: hy was verkeerd om al die wysheid vir homself te probeer hou. Wysheid is bedoel om gedeel te word.
“Dankie, slim klein dogtertjie!” roep hy van bo. “Dis ’n baie slim plan. Maar sal jy asseblief uit die pad uit staan?”
Die meisie tree terug. Anansi tel die kalbas hoog bokant sy kop en gooi dit met al sy mag onder toe. Met ’n enorme slag breek die kalbas op die grond uitmekaar en die wysheid spat in alle rigtings. Toe kom die winde uit die Noorde, Suide, Weste en Ooste en tel die wysheid wat deur die lug trek op, en versprei oor die hele wêreld—vir almal om te deel. En dís hoekom daar orals wysheid en kennis om op te soek, vir ieder en elke van ons, en nie net vir die poetsbakker en slinkse spinnekop Anansi nie!